Prasa: Pensioenbydraes uiteindelik met rente betaal

(Argieffoto: Untu)

Beamptes van die Transnet Aftreefonds (TRF) en die Prasa Voorsorgfonds het aan die vakbond Untu bevestig dat Prasa uiteindelik twee maande se agterstallige bydraes, met rente, aan die fondse oorbetaal het.

Dit volg twee weke ná die leierskap van die United National Transport Union (Untu) die uitvoerende lede van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in kennis gestel het dat die vakbond onmiddellike betaling eis van die bydraes wat Prasa onwettig teruggehou het toe hy in Februarie 2020 en Maart 2020 kontantvloeiprobleme ervaar het.

Untu het strafregtelike aanklagte van diefstal, bedrog en geldwassery aanhangig gemaak teen Bongisizwe Mpondo in sy kapasiteit as die administrateur van Prasa nadat die versuim, om die oorbetaling te maak, onder Untu se aandag gekom het.

Die strafregtelike saak van R84 miljoen word deur die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) ondersoek. Aanklaers van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Johannesburg oorsien die saak.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê alhoewel die betaling nou gedoen is, is die misdade steeds gepleeg en die vakbond sal nie die strafregtelike saak terugtrek nie. “Ale Suid-Afrikaners, wat bydraes lewer toe pensioen- en voorsorgfondse is baie besorg oor die Suid-Afrikaanse regering se planne om huidige wetgewing te verander om hom in staat te stel om die pensioen- en voorsorgfondse te gebruik om van die land se grootste uitdagings te takel nadat die land tydens die dekade van staatskaping geplunder is,” het Harris verduidelik.

“Die ANC het laat blyk dat hy oorweeg om artikel 28 van die Pensioenfondswet te wysig. Artikel 28 beperk die mate waartoe aftreefondse in sekere bateklasse mag belê. Die hoofdoelwit van die artikel is om seker te maak dat individue se pensioenspaargeld nie uitermatig blootgestel word aan hoërisiko-bateklasse nie en om kapitaalbewaring te bevorder.”

Die tesourie oorweeg veranderinge aan artikel 28 deur voorgeskrewe bates in te stel wat aftreefondse sal dwing om ʼn deel van die fonds te belê in regeringsbates of regeringsinfrastruktuurprojekte, het Harris bygevoeg.

Hy het gesê Untu sal enige voorgestelde omstrede wysigings teenstaan wat ʼn negatiewe impak kan hê op die lewenslange spaargeld van werkers.

“Die regering het werkers nog altyd ontmoedig om te bedank en hul pensioengeld te onttrek om skuld af te betaal of enigiets anders daarmee te doen. Dit is hoekom enige onttrekking uit ʼn pensioenfonds swaar belas word deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. As werkers sonder voldoende spaargeld aftree, word hulle bloot ʼn las op die regering vir welsynstoelaes en gesondheidsorg. Pensioen- en voorsorgfondsbydraes moet dus baie goed beskerm word, veral van die regering met sy swak prestasierekord,” het Harris bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

'n Simpelman ·

Wat van die wat oorlede is.
Seker moet daar geld vir hulle boedels wees.
Kan iemand sê

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.