Prasa se veiligheidspermit opgeskort

Argieffoto

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) word tans sonder ʼn geldige veiligheidspermit bedryf, het die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) Woensdag gesê.

Die RSR het gesê Prasa se permit, wat vroeër met spesiale voorwaardes uitgereik is, het Dinsdag verstryk. “Die RSR het besluit om nie weer ʼn permit uit te reik totdat die organisasie tevrede is dat Prasa bestaande veiligheidsbesware aangespreek het nie,” het Madelein Williams, algemene bestuurder van die RSR, gesê.

“Die RSR is van mening dat Prasa nie aan die reguleerder kan bewys dat hy die vermoë, toewyding en hulpbronne het om behoorlik die risiko’s aan sy bates en die veiligheid van sy personeel, passasiers, kontrakteurs, besoekers en enigiemand anders kan assesseer of doeltreffend kan bestuur nie.”

Williams het gesê die RSR bly toegewyd tot sy mandaat en sal steeds seker maak dat veiligheid ʼn prioriteit bly tydens spoorwegbedrywighede.

Blade Nzimande, minister van vervoer, het intussen Prasa opdrag gegee om onmiddellik alle kwessies wat met veiligheidsbesware verband hou, aan te roer. “Dit is die mandaat van die RSR om veiligheid in spoorwegvervoer te bestuur terwyl operateurs steeds verantwoordelik bly om die veiligheid van hul bedrywighede te verseker,” het Nzimande in ʼn verklaring gesê.

Hy het bygevoeg Prasa moet seker maak dat hy noukeurig werk om alle veiligheidskwessies aan te roer sonder dat pendelaars of personeel, wat daagliks van spoorwegvervoer gebruik maak, geraak word.

“Die spoorwegbedryf is ʼn baie belangrike deel van ons openbarevervoerstelsel en is baie kostedoeltreffend. Prasa moet seker maak dat hy aan die Wet op die Spoorwegveiligheidsreguleerder voldoen, deurgaans sy veiligheidsbestuurstelsel verbeter en aan die standaarde, regulasies en riglyne voldoen,” het Nzimande benadruk.

Hy wag vir ʼn gedetailleerde verslag van die RSR en Prasa en sal die vordering monitor.

Prasa was nie dadelik beskikbaar vir kommentaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wollie ·

Ek sien nie die punt nie.. die treine gaan in elk geval more weer op die spore val en duisende mense vervoer, hoekom het jy nou juis n permit nodig

Jaco ·

Alle motorkarre wat tot 2ton elk weeg moet in padwaardig toestand gehou word.
Swaar vragverkeeer (tot 50 ton per voertuig) word streng gereguleer.
Abnormaal voertuie moet spesiale magtiging kry om op openbare paaie te ry en dan onder spexsiale eskort.

Hoe wil jy nou hê dat treine met tot 50 trokke of mer elk wat meer as 100 ton weeg ongereguleerd laat funksioneer.

Visualiseer die omvang van skade en lewensverlies as twee treine bots.
Stel jouself voor die chaos as dit elke dag iewers in die RSA moet gebdur omdat daar geen regulasies en/of permitte bestaan het nie.

Wollie ·

Glo my, ek kan my indink, het bedoel die feit dat dit verval het pla hulle of wie ook al dit reguleer glad nie, want ten spyte daarvan gaan hulle nogsteeds aan, en niemand gaan hul keer en gaan in elk geval nie oornag opgelos word nie, dis al jare so

LB S ·

Jaco, feit bly staan, sabotasie vind daagliks plaas, mense se lewens is in gevaar. Hierdie veiligheidspermit is “very much overdue”, hoekom NOU wakker skrik nadat hoeveel treine op Kaapstad stasie uitgebrand is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.