Pravin nou prof. Gordhan

Pravin Gordhan. Argieffoto

Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, is as ʼn besoekende professor by Wits se Skool vir Korporatiewe Bestuur aangestel. Gordhan sal môre in sy nuwe pos begin.

Prof. David Everatt, hoof van die Wits Skool vir Korporatiewe Bestuur, het Gordhan se aanstelling in ʼn verklaring bevestig. “Hy het ʼn integrale rol in Suid-Afrika se geskiedenis gespeel en ons glo sy sterk ervaring en beginselvaste standpunte oor goeie bestuur, gesonde openbare finansiële bestuur en transformasie van die ekonomie sal aansienlike waarde tot die akademiese program byvoeg,” het Everatt gesê.

“Gordhan se sterk sienings oor korrupsie en finansiële wanbestuur is wyd bekend – hierdie is die waardes wat ons by ons studente wil benadruk, waarvan baie in die staatsdiens dien.”

Gordhan sal aansluit by ander vorige topamptenare in die staatsdiens wat ook al by Wits uitgehelp het. Dit sluit onder meer in Nhlanhla Nene wat tussentydse direkteur van die Wits-sakeskool is, Max Sisulu wat ʼn navorsingsgenoot by Wits is, asook Tito Mboweni, wat voorheen as ʼn ereprofessor by Wits aangewys is.

Prof. Adam Habib, vise-kanselier en hoof van Wits, het gesê Gordhan het ʼn baie suksesvolle rekord van bestuur in die staatsdiens. “Die vaardighede wat hy deur jare se bestuurservaring opgedoen het, sal die grondslag wees vir ʼn ryk leerskool vir die universiteit en sy studente,” het Habib gesê.

Gordhan was in sy studentejare aktief betrokke by politiek toe hy aptekerswese by die University of Durban-Westville studeer het. Hy is in 1994 tot parlementslid verkies en was die voorsitter van verskeie komitees in die nasionale vergadering. Hy is in 1999 as die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) aangestel en was ook vanaf 2008 die voorsitter van die Forum oor Belastingadministrasie.

Hy is in 2009 as minister van finansies aangestel en het in 2014 geskuif na die amp van minister vir samewerkende regering en tradisionele sake. Hy is in Desember 2015 weer as minister van finansies aangestel en is in Maart vanjaar tydens ʼn omstrede middernagtelike kabinetskommeling deur pres. Jacob Zuma as minister afgedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lynne ·

Pravin Gordhan is die pos & posisie 100% waardig! Baie Geluk prof. Pravin!

Annette Laubscher ·

Baie geluk Prof. Gordhan. Die aanstelling is definitief Wits Skool vir Korporatiewe Bestuur se aanwins en die Departement van Finansies se verlies.

Ruby ·

Baie geluk aan Prof Gordhan.

Ek het baie respek vir hierdie man.

Gordhan vir President!

BANG JAN SE VROU ·

Baie geluk aan Pravin Gordhan. Solank hy in die professorspos is is dit reg om hom professor te noem maar sodra hy nie meer die amp beklee nie verval die aanspreekvorm. Anders as bv om ‘n doktorsgraad te verwerf en altyd Dr genoem word. Nogtans ‘n bekwame en gewilde Suid-Afrikaner.

Leon ·

Dit is wondelik, sou meer gehou het van President Pravin Gordhan.

SARIE VAN HEERDEN ·

Kan ons nie miskien Pravin Gordhan se arm draai dat hy hom verkiesbaar stel as president van ons land nie? Miskien is Wits net die begin van hom vir die presidentskap!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.