Predikant kaap glo taxi

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Minibustaxibestuurder beweer hy is Dinsdag in Johannesburg deur ʼn gewapende predikant gekaap.

“Die kaper was volgens die taxibestuurder ten volle in sy kerklike uitrusting geklee,” het ao. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, gesê. “Hy het die taxi voorgekeer en die bestuurder gevra om hom na ʼn nabygeleë plek in Protea  Glen, Soweto te neem om ʼn groep mense van sy gemeente daar te gaan oplaai.”

Die predikant was glo die enigste passasier. Hy het na bewering ʼn vuurwapen te voorskyn gebring, die bestuurder van die Toyota Quantum gedwing om stil te hou en hom langs die pad gelos voor hy weggery het.

Die taxibestuurder het aan die polisie gesê die vermeende kaper, ʼn man in sy 50’s, het soos ʼn regte predikant gelyk.

“Hy het gesê die man was ouerig en het ʼn baard en dat niemand ooit sou wonder of hy regtig ʼn predikant is nie,” het Makhubela bygevoeg.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.