Predikantspaar verslae ná brand pastorie verwoes

Ds. George en Rita Deysel, reeds 14 jaar lank die predikantspaar van die NG Gemeente Winburg, het Sondag amper al hul besittings verloor toe die pastorie in ’n brand in puin gelê is. Sy skryf op Facebook by ’n video van die brand: “Al ons aardse skatte in ’n oogwink van ons weggeneem, maar die Vader was ons genadig, want ons het nog vir mekaar en baie liefde en ondersteuning van die Winburgers gekry.” Foto: Facebook

“Ons het nie vrae nie. Ons het nie opstandigheid nie, want die Here is in beheer, maar daar is net die verskriklike verslaenheid.”

Só het ds. George Deysel (70), predikant van die NG Moedergemeente Winburg in die Vrystaat, Dinsdagmiddag sy en sy vrou, Rita (69), se gemoedstoestand verwoord nadat hul pastorie, motors en amper al hul besittings Sondagmiddag uitgebrand het.

“Ek sê altyd ek is iemand wat in ʼn krisis kan optree,” sê Deysel, “maar wat vir my hier uitstaan, is die absolute verslaenheid. Daarteenoor is die gemeenskap, en nie net ons gemeente nie, wat ons op die ongelooflikste manier ondersteun.”

Deysel vertel hy het Sondagmiddag ʼn kerkraadsvergadering van sy gemeente, die oudste in die Vrystaat, gelei en agterna sy vrou buite die kerk gekry. Hulle is saam pastorie toe, waar hy in ligter klere verklee het. “Ons het gaan eet en niks agtergekom nie.”

Die brand in die NG Gemeente Winburg se pastorie het in die motorhuis ontstaan, maar vinnig na die huis versprei en die hele gebou in puin gelê. Foto: Facebook

Ná ete het hy verby sy studeerkamer gestap en rook geruik, maar gemeen dis dalk van ʼn veldbrand. Hy het iemand gebel. “Terwyl ons praat, hoor ek net ʼn klapgeluid of iets wat val en mense wat skree. Ek sê toe oor die foon vir die persoon ek wil net gaan kyk wat aangaan.”

Dit was toe dat hy rook by ʼn buitedeur sien inkom het. “Toe ons die deur oopmaak na die stoepie van so 15 m lank, sien ons die bakkie wat voor die motorhuis gestaan het, is klaar aan die brand en die garagedeur ook.”

Deysel het terug die huis in gehardloop, die brandblusser gaan haal en dit leeggespuit. “Dit het egter geen indruk gemaak nie. Ek het toe net vir my vrou gesê ons moet uit die huis uitkom.”

’n Paar meubelstukke, Rita Deysel se borduurmasjiene, ds. Deysel se rekenaar, ’n TV en hul klere is amper al wat uit die brandende pastorie gered kon word. Foto: Facebook

Hy vertel dis verstommend hoe vinnig en spontaan die gemeenskap kom help het, maar al hul pogings om die brand te blus, was vergeefs.

“Ons wil net die gemeenskap van Winburg bedank en sê dis ʼn wonderlike gemeenskap wat jou op ʼn wonderlike wyse steun.”

Hy vertel ʼn klomp mense het die pastorie binnegehardloop om te red wat hulle kon, onder meer meubelstukke uit die sitkamer, sy vrou se borduurmasjiene, ʼn TV, Deysel se rekenaar en die egpaar se klere.

Maar al die boeke wat hy ʼn leeftyd lank versamel het vandat hy in 1974 begin preek en in 1977 in sy eerste gemeente bevestig is, is verlore. “Dit was ongelooflik baie boeke, amper ʼn biblioteek.”

Ook al die gereedskap waarmee hy sy stokperdjie, houtwerk, beoefen het, is vernietig.

Winburg se NG Moederkerk is gedurende die Tweede Vryheidsoorlog gebou en as onvoltooide kerk as hospitaal gebruik. Dit is nie in die brand beskadig nie. Foto: Morné van Rooyen

Deysel sê die forensiese ondersoeker van die polisie het Maandag gesê hy vermoed iets het fout gegaan met die elektriese bedrading van die pastorie, wat omstreeks 1964 gebou is.

Hy en sy vrou, wat reeds sedert Februarie 2004 aan die gemeente verbonde is, gaan ʼn dag of drie lank tuis by hul dogter Karin Liebenberg in Bloemfontein. Hul oudste seun, Barend, het van Pretoria af gekom om Deysel en sy vrou rond te ry omdat albei hul voertuie in die slag gebly het.

Hul ander twee kinders, Marié Nel van George en Johan van Pretoria, staan hulle ook by waar hulle kan.

Deysel sê die pastorie was behoorlik verseker, maar omdat net die mure bly staan het, sal dit waarskynlik nie herbou word nie. Hy sou juis Dinsdagmiddag ʼn assessor ontmoet om die omvang van die skade te begin bepaal. “Die kerkraad het reeds begin kyk om ʼn huis vir ons te huur, dan behoort ons weer in permanente huisvesting te wees.”

Hul meubels, persoonlike aandenkings, sy boekery en alles andersins wat van ʼn huis ʼn woning maak, sal egter nooit vervang kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

leser ·

wat ‘n tragedie, strekte aan ds en familie in die moeilike tyd

GerhardG ·

Baie sterkte aan julle.

Die Kerkbode berig ook van ‘n ander pastorie wat onlangs afgebrand het. ‘n Kerkraad kan traag voel om sy eiendomsversekering op datum te hou omdat dit uit bydraes van lidmate gefinansier moet word, maar dit is maar die regte ding om te doen. Ons gemeente se kerkgebou het in 2012 gedeeltelik afgebrand, en danksy ‘n versekeringspolis wat op datum was en ‘n kwaliteit versekeringsmaatskappy kon ons dit herbou.

karen ·

die grootste jammerte is al die boeke wat in die slag gebly het. ‘n hele loopbaan en dit is onvervangbaar……

Peet Schabort ·

Dit moet erg traumaties wees om dit wat deur soveel jare bymekaar gemaak is in ‘n oogwink te verloor. Sterkte aan u en die gemeente. Die twee NG-gemeentes het ‘n besonderse geskiedenis en is seker die enigste wat dieselfde gemeente deel (bedien) om dit so uit te druk. Daarvoor is hier nie nou plek. Daar is nou al geruime tyd wat die vraag by my ontstaan het of ek en Morné dieselfde passie deel? Hy natuurlik meer onderleg daarin en ek wat merendeels net foto’s neem. Slaan ek die bal raak ook n.a.v. die pragtige foto vd kerk by die berig met https://af.wikipedia.org/wiki/Gebruiker:Morne
Die MM-leser kan ook gaan kyk by http://www.genza.org.za/index.php/en/church-photographs asook http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=12
Ook by http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=16916 waar die kerk afgebrand het en ‘n groot gedeelte vd Kanselbybel oorgebly.
Ook die hartseer by http://www.genza.org.za/bonus/main.php?g2_itemId=14428 waar nie veel oorgebly het.
Daarom is dit van uiterste belang om alle bewaringswaardige goed te bewaar op die internet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.