Predikantsvrou, aanstaande skoonseun sterf saam op pad na kerkkamp

Ds. Attie en Laurika Venter saam met hul kinders, Lausanne en Jac. Foto: Verskaf

Ds. Attie en Laurika Venter saam met hul kinders, Lausanne en Jac. Foto: Verskaf

Laurika Venter, ʼn geliefde maatskaplike werker en predikantsvrou van Pretoria, en haar aanstaande skoonseun, Konrad de Beer, word Donderdag saam begrawe nadat hulle op pad na ʼn kerkkamp in Limpopo in ʼn ongeluk gesterf het.

Konrad sou die volgende dag die Venter-egpaar se dogter, Lausanne (24), naby Mookgopong (Naboomspruit) vra om te trou. Lausanne was ook in die ongeluk wat die lewe van haar ma en haar geliefde geëis het, maar het ongedeerd daarvan weggestap.

Ds. Attie Venter, predikant van die Gereformeerde Kerk Annlin in die noorde van Pretoria, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die ongeluk het Vrydag omstreeks 21:00 op ʼn grondpad buite die Rhemardo-vakansieoord, hul eindbestemming vir die naweek se kerkkamp, plaasgevind. Laurika het die egpaar se dubbelkajuit Toyota-bakkie bestuur wat ʼn Conqueror-sleepwa gesleep het.

“Die bakkie het ʼn sloot in die grondpad getref en dit het veroorsaak dat die sleepwa begin swaai het. Die sleepwa het veroorsaak dat die bakkie omslaan, waarna dit ʼn boom getref het,” het Venter gesê. Laurika en Konrad is op die toneel dood verklaar. Lausanne het die aand saam met haar pa terug huis toe gery, waar hulle in plaas van ʼn bruilof, begrafnisreëlings moes begin tref.

Konrad de Beer en Lausanne Venter.

Konrad de Beer en Lausanne Venter.

“Konrad en Lausanne gaan al die afgelope drie en ʼn half jaar uit. Lausanne het nie geweet nie, maar hy was van plan om haar Saterdag te vra om te trou. Hy het ʼn piekniekmandjie gepak en sou die ja-woord by die Makapan-grotte vra,” het ʼn emosionele Venter gesê.

Hy het gesê Konrad, ʼn swart ekonomiese bemagtiging (SEB)-konsultant vir SEESA, was soos hul eie seun. “Hy het ons dogter ongelooflik gelukkig gemaak en haar op sy hande gedra. Hy was ʼn dierbare mens met ʼn goeie, omgee-hart. As ons vleis gebraai het, het hy altyd gesorg dat hy braai.”

Die Venter-egpaar was 28 jaar lank getroud. Buiten Lausanne, ʼn voedingskundige van beroep, het die egpaar ook ʼn seun, Jac (20), ʼn student aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Laurika het die afgelope 16 jaar wat sy saam met haar man by die Annlin-gemeente betrokke was, Sondagskool aangebied en ook die bejaardes onder haar vlerk geneem. “Sy was ʼn passievolle mens. Haar grootste passies was kinders en bejaardes. Sy sou sommer in ʼn straat stilhou om ʼn kindjie wie se neusie loop te help om dit blaas,” het Venter gesê.

“Sy het haar katkisasieklasse met passie aangebied. Sy het die bejaardes gereeld besig gehou met uitstappies, aktiwiteite en inligtingsessies. Sy was ʼn besondere ma en ʼn sterk gesinsmens. Sy het ons uiters lief gehad en alles vir ons gedoen. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie, hetsy dit in ons tuin was, wat sy so mooi gemaak het, of met mosaïek.”

Laurika was die afgelope sewe jaar ʼn maatskaplike werker vir die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAFV). Sy het ook verskeie projekte en verrykingswerk by die Sonheuwel-plakkerskamp verrig om die vroue daar te help om ʼn inkomste te verdien en om hul menswaardigheid te herwin.

Laurika en Konrad word Donderdag om 11:00 langs mekaar in die Zandfontein-begraafplaas ter ruste gelê. Die troosdiens vind om 12:30 onder leiding van ds. Heinrich Zwemstra in die Gereformeerde Kerk Annlin plaas.

Buiten haar gesin, laat Laurika haar ouers, Willem en Leonie Postma, en jonger broer en suster, Willem Postma en Martie Postma-Botha agter.

Konrad laat sy ouers, Willie en Marieta de Beer, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

lettie ·

Dis baie hartseer en tragies. My innige meegevoel aan julle.

Annie ·

Baie sterkte aan beide families, hierdie is baie hartseer en tragies.

Marietjie van der Spuy ·

SAVF se personeel is verslae oor hierdie verlies van ‘n wonderlike, passievolle en opregte vrou wat ons verloor het. Laurika laat ‘n leemte wat geen mens sal kan probeer vul nie!
Sy het ‘n passie vir haar gesin, SAVF en kliente gehad. Laurika, ons gaan jou soooooo mis!

Tersia Landsberg ·

Konrad laat ‘n groot leemte in SEESA (die inligting is egter verkeerd, hy was ‘n Vaardigheidontwikkelingsfasiliteerder vir SEESA Skills Training). Dit is ‘n groot verlies vir sy kollegas, in wie se lewens hy diep spore getrap het.

carina jooste ·

Sterkte Ds Attie en gesin sowel as Konrad se ouers. Mag God jul toevou in Sy liefde in hierdie hartseer tydperk.

Marianne ·

Die Here hey gegee en Hy het geneem. Mag die families krag trek uit Sy sterkte. My hart gaan uit Na ALMAL wat deur die tragedie geraak is.

Hettie Arnold Minnaar ·

Mag God julle styf vashou in hierdie moeilike tyd. Ons bid vir almal wat deur die tragedie geraak word

charlene ·

Dis een ding wat ek nooit sal verstaan nie, die goeie mense wat se lewe so kort genkip word. As mens die berig lees was hulle ablei ongelooflike goeie mense, met `n goeie hart. Daar is so min mense wat omgee, so min mans wat nog omgee – en hier is 2 wonderlike mense weg geneem.
Sterkte aan albei families en veral vir Lausanne – jou oe blom op die foto saam Konrad en nou is jy dit alles ontneem vir eintlik geen rede. Mag die Here jou dra en mag jou geloof jou eendag heel maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.