Premier herstel vinnig ná hy flou word

Willies Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, saam met Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini kaBhekuzulu en voormalige president Jacob Zuma. (Foto: ANA)

Willies Mchunu, premier van KwaZulu-Natal, het Woensdag net voor 14:00 teruggekeer na die skouterrein in Pietermaritzburg waar hy ure vantevore halfpad deur sy provinsiale rede inmekaargesak het.

Maroela Media het vroeër berig Mchunu het Sihle Zikalala, ANC-voorsitter in KwaZulu-Natal, gevra of hy met die provinsiale rede kan voortgaan kort voordat hy ten aanskoue van die gehoor skynbaar flou geword het. ’n Man het Mchunu betyds gevang voordat hy inmekaargesak het, maar hy het flou en gedisoriënteerd voorgekom.

Lydia Johnson, speaker van die KwaZulu-Natalse wetgewer, het terselfdertyd probeer om Mchunu regop te hou terwyl sy hom gevra het of hy oukei is. Mchunu het haar egter nie geantwoord nie.

Verskeie mense, onder andere die LUR van gesondheid in KwaZulu-Natal, dr. Sibongiseni Dhlomo, het Mchunu te hulp gesnel. Dhlomo het beheer van die situasie geneem.

Mchunu is daarna per ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem. Volgens Dhlomo was hulle bewus daarvan dat Mchunu ongesteld was, maar hulle kon nie begryp hoekom hy ewe skielik flou geword het nie.

Dhlomo het vertel dat die hoof van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid Mchunu vergesel het om seker te maak dat hy nie weer inmekaarsak nie. Mchunu het nadat hy van die verhoof af geneem is gesê dat hy net wil huis toe gaan om te rus, maar Dhlomo het daarop aangedring dat hy by die hospitaal ʼn draai moet maak net om seker te maak alles is in orde.

Dhlomo sê hulle het ook seker gemaak dat Mchunu water inkry, omdat hy vermoedelik gedehidreer was. Die premier was egter in staat om self na buite te stap.

Die ANC-sekretaris in KwaZulu-Natal, Mdumiseni Ntuli, het tydens ’n perskonferensie na die afloop van die provinsiale rede gesê dat Mchunu die nodige gesondheidsorg ontvang en dat sy toestand reeds verbeter het. Ntuli het ook bygevoeg dat Mchunu selfs sal kan terugkeer na die skouterrein vir middagete voordat hy huis toe gaan om te rus.

Ntuli het gesê hy glo dat Mchunu vinnig sal herstel om sodoende sy pligte as premier voort te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries du Toit ·

Moet daai foto nou ons herhinner aan vreeslike slegte dinge wat ons getref het. Ek kry n naar kol op my maag as ek na die foto kyk. Wonder hoekom

Manie ·

Dit is van al die strooi wat hy uitdink dat sy brein nie suurstof kry

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.