Premier, LUR moet verslae aan integriteitskommissie voorlê

Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap (Foto: Oscar Mabuyane/Facebook)

Die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) van die ANC in die Oos-Kaap het die provinsie se premier en die LUR vir openbare werke versoek om verslae aan die party se provinsiale integriteitskommissie voor te lê nadat hulle onlangs in ʼn verslag van die Openbare Beskermer (OB) betrek is.

Die OB het verlede week ʼn verslag bekend gestel waarin bevind is dat Oscar Mabuyane en LUR Babalo Madikizela by die wanbesteding van geld vir Winnie Madikizela-Mandela se gedenkdiens betrokke was.

Volgens die verslag het Mabuyane meer as R1,1 miljoen vir dié gedenkdiens van die Mbizana-munisipaliteit ontvang. Altesaam R450 000 van die geld is gebruik vir verbeterings aan sy huis in Bunkers Hill.

Luidens berigte het Madikizela R350 000 van die geld ontvang, terwyl R288 000 glo in die ANC se fondsinsamelingsrekening betaal is.

Die provinsiale struktuur het Maandag vergader en onder andere die verslag, asook Mabuyane en Madikizela se beweerde betrokkenheid, bespreek.

Die PUK het gevra dat Mabuyane en Madikizela bygewerkte verslae aan die party se integriteitskommissie voorlê nadat die kommissie hulle in 2019 onskuldig aan wangedrag bevind het.

Volgens die komitee sal hy die saak heropen, mits dié verslae ingedien word.

Die PUK het verder ook die OB se tydsberekening vir die vrystelling van die verdoemende verslag gekritiseer.

“Dit is jammer dat die OB se verslag so na aan die plaaslike verkiesing gepubliseer is, aangesien dit reeds twee maande vantevore afgehandel is.

“Die standpunt en tydsberekening van die verslag bevorder die oortuiging dat die OB dit as wapen gebruik in die binnegevegte of sogenaamde tweespalt in die party.”

Die komitee het dit verwelkom dat Mabuyane en Madikizela die OB se verslag deur ʼn geregtelike ondersoek in die hof sal laat hersien.

“Die ANC respekteer hul wettige en grondwetlike regte as Suid-Afrikaners om dit te doen.”

Desnieteenstaande sal die komitee daadwerklik optree indien daar enige verwikkelinge oor die korrupsieaantygings is.

Die DA het intussen gesê hy sal Woensdag in Port Elizabeth teen korrupsie in die provinsie betoog.

“Nadat die premier by die verslag betrek is, voel die DA dat hy moet optree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johann ·

Vat vat vat vat en NOG vat…hey, enigiets om die bankrot ANC se sakke vol te kry.

Porseleintjie ·

Integriteitskommissie word seker net in SA gekry. Ander lande se regerings beskik oor genoegsame karakter wat maak dat eerlikheid aan die orde vd dag is.

Willem ·

Dis wat jy kry as jy parasiete aanstel. En boonop nie kan tel nie, en dus nie die waarde van goed verstaan nie, want dis ‘n kultuur van “verbruik” i.p.v. produseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.