Premier, ministers tjoepstil oor betaalmeestersaak in hof

Die Ditsobotla-munisipaliteit in Lichtenburg, Noordwes. (Argieffoto: African News Agency)

Die organisasie Sakeliga sê geen van die respondente in sy munisipale betaalmeestersaak het opponerende hofstukke by die hooggeregshof in Mahikeng ingedien nie. Respondente sluit in die premier van Noordwes, asook die ministers van onderskeidelik finansies en samewerkende regering.

Dít terwyl die organisasie al meer as een keer ʼn uitstelooreenkoms met die partye aangegaan het.

Sakeliga sê hy het die respondente nou ʼn laaste keer aangemaan om teen Woensdag hul opponerende stukke in te dien. Indien hulle dit nie doen nie, sal Sakeliga voortgaan met ʼn aansoek om die saak op die onbestrede rol vir verhoor te plaas. Dit beteken dat die respondente geen argumente in die saak sou kon aanvoer nie, tensy hulle by die hof om verskoning vir die laat indiening aansoek doen.

Sakeliga het in Mei vanjaar ʼn geskiedkundige aansoek by die hof ingedien waarin hy vra dat die Ditsobotla- en Naledi-munisipaliteite onder die administrasie van ʼn spesiale, onafhanklike betaalmeester geplaas word.

So ʼn betaalmeester moet toesien dat invorderings vir dienste soos water en elektrisiteit regstreeks aan die verskaffers daarvan oorbetaal word, ooreenkomstig die munisipale begroting en verpligtinge, eerder as dat dit deur “onbevoegde amptenare verkwis word en sakegemeenskappe en inwoners sodoende sonder kritiek noodsaaklike dienste gelaat word”.

“Dit is duidelik dat boekhouding en administrasie nie by die geraakte munisipaliteite in Noordwes bestaan nie. Dit beteken dat miljoene rande vir elektrisiteit, water- en riooldienste en ander infrastruktuurprojekte elke maand straffeloos wanbestuur word en verdwyn, ten koste van sakeondernemings,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

“In dieselfde verslae bestempel die ouditeur-generaal sakelui as die beste betalers van munisipale dienste en meld dan tog die algehele ineenstorting van dienslewering en skokkende wanbesteding deur die munisipaliteite aan.”

Le Roux sê Sakeliga gee met die aansoek ʼn reusestap om die “voortslepende vermorsing, korrupsie en boewery” by Noordwes-munisipaliteite te beëindig.

“By die Naledi-munisipaliteit het daar tussen 2014 en 2020 bykans R1 miljard verdwyn weens vermorste, onreëlmatige of andersins korrupte onderhandelinge. Ditsobotla-munisipaliteit skuld Eskom weer meer as R600 miljoen. Intussen is daar gereelde krag- en wateronderbrekings en kritiek noodsaaklike infrastruktuuropknappings en herstelwerk word nagelaat. Gevolglik word plaaslike ekonomieë tot stilstand gedwing en die hele gemeenskap ly daaronder,” sê Le Roux.

“Die enigste pad vorentoe vir volhoubare sakeomgewings en gemeenskappe is om ʼn regstreekse vloei van geld tussen inwoners en ondernemings na verskaffers soos Eskom, waterrade en ander diensverskaffers te bewerkstellig en onafhanklik te laat administreer.”

Sakeliga se betaalmeestersaak vorm deel van ʼn langtermynstrategie om staatsverval op munisipale vlak te stuit sodat sakeomgewings van jare lange voortdurende wanbestuur en korrupsie kan herstel. Vorige oorwinnings vir Sakeliga, sy lede en hul gemeenskappe sluit in interdikte om te keer dat Eskom betalende verbruikers se krag afskakel, asook bevele in die appèlhof wat daarop neerkom dat staatsorgane wat geld aan mekaar skuld nie betalende verbruikers gyselaar mag hou nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hennie J ·

Natuurlik is hulle tjoepstil. Hulle verstaan nie die hofstukke nie!

Tiptol ·

Boekhouding en administrasie is afwesig by die meeste munisipaliteite. Maar gelukkig is korrupsie aanwesig.

Hardekwas ·

1 + 3 = myne, asook dit wat oorbly. Munisipale kader rekeningkunde 101.

Kobus ·

Ek sal wil weet hoeveel tyd (gemeet in maande) en geld is spandeer in hofsake sedert 1994 waar die ANC regering by betrokke is. Blykbaar heg die ANC dieselfde waarde aan R 1 vs R1,000,000.00 Hulle ken nie die verskil nie.Dis nou soos die uitgediende grappie van jare gelede oor die oom wat ‘n tjekboek gekry het en nie kon verstaan dat daar nie fondse is nie want daar is dan nog tjek blaadjies oor om te skryf

Riaan ·

Dit is volgens my die enigste manier om van die ANC ontslae te raak – Laat die beursie leegloop op ‘n wettige manier. As al die munisipaliteite so kan maak is die ANC binne ses maande geskiedenis, en ‘n hoofstuk in politieke wetenskap studies hoe om nie ‘n land te regeer nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.