‘Premier moenie betrokke wees by ondersoek’

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes. Foto: ANA

Die ANC-jeugliga in Noordwes het ʼn beroep op die nasionale regering gedoen om ʼn forensiese ondersoek van stapel te stuur na die provinsiale gesondheidsdepartement na aanleiding van berigte dat die departement R30 miljoen aan ʼn maatskappy met Gupta-bande voorgeskiet het.

Tshiamo Tsotetsi, woordvoerder van die jeugliga, het gesê die opperste sfeer van die regering moet die forensiese ondersoek behartig en nie die Noordwes- provinsiale regering nie.

Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, het Maandag ʼn forensiese ondersoek na die provinsiale departement van gesondheid van stapel gestuur om bewerings te ondersoek dat die departement R30 miljoen aan Mediosa voorgeskiet het en ook ʼn verdere R180 miljoen vir die maatskappy beskikbaar gestel het. Die maatskappy het bande met die omstrede Gupta-familie.

Dié ondersoek sal gelei word deur Noordwes se direkteur-generaal en ander verkrygingskwessies sal ook as deel van dieselfde ondersoek bekyk word.

“Ons doen ʼn beroep op [Mahumapelo] om sy deelname te onttrek aan enige proses wat ten doel het om die dooiepunt rakende die gesondheidsdepartement op te los. Ons versoek die premier om te onttrek aan hierdie saak en die opperste sfeer van die regering toe te laat om ʼn ondersoek van stapel te stuur. Hy moet toelaat dat die proses geloofwaardig en op waardige wyse gedoen word,” het Tsotetsi gesê.

Tsotetsi het daarop gewys dat Mahumapelo die voorsitter van die uitvoerende raad is wat in April 2015 drie departemente onder administrasie geplaas het waarvan een die departement van gesondheid is.

“Dit sou beteken dat die departement van gesondheid sedertdien nie in staat was om enige groot transaksies uit te voer sonder die kennis en goedkeuring van die uitvoerende raad en die provinsiale tesourie nie,” het hy beklemtoon.

“Ons beroep op die premier om aan die ondersoek te onttrek word verder gedryf deur die erkenning onder eed van dr. Thabo Lekalakala, die hoof van die gesondheidsdepartement, dat die reise wat hy na Indië onderneem het, [deur Mahumapelo] goedgekeur was en al die onkoste deur Mediosa betaal was.”

Tsotetsi het gesê dit is “algemeen bekend” dat Mahumapelo na bewering ʼn bondgenoot van die Gupta-familie en moontlike misdaadnetwerk is, wat hom daarom direk verbind met Lekalakala se erkennings wat hy onder eed gemaak het.

“Al hierdie feite asook die feit dat die hoof van die departement van gesondheid die selfvertroue gehad het om die LUR te ondermyn en nie aan hom te rapporteer nie, is na ons mening ʼn bevestiging dat die premier ʼn moontlike rolspeler was in die jammerlike stand van sake in die provinsie,” het hy gesê.

“Daarom sal [Mahumapelo se] deelname aan ʼn forensiese ondersoek na ʼn saak waarby hy moontlik betrokke is beslis die proses van geloofwaardigheid beroof. Daarom doen ons ʼn dringende beroep op die nasionale departement van gesondheid of ander relevante wetstoepassingsowerhede om die proses van enige vorm van ʼn ondersoek na dié debakel te lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

KP ·

Bly om te sien daar is skielik baie se oë wat oopgaan. Hoop daar word daadwerklik iets aan hierdie verrottende sweer in hierdie land gedoen. Sal dit glo as daar begin word met tronkstraf.

Genieve ·

Een vir een word almal se werke aan die lig gebring..as hulle dai geld terug kry hoef ons mos dan nie belasting te betaal nie, en stuur hulle terselfdetyd tronk toe.

Hoop n Droom ·

die Btw kom af, die Tronke loop oor, die Staatskaste verander in “Goud” en Siedaar, daar is n GEJUIG want JUSTICE prevail, Of is dit net n “Droom” …….

Al ·

Die staat verbrou en verneuk mense uit miljoene. Dis tyd laat hul verantwoordelikheid neem vir hul eie foute, en ophou ‘wit bevooregting ‘blameer as hul vooruitgang wys.
Die staat is die land se ondergang.

PJC ·

As al hierdie bedrog gestop word het die staat dalk een van die dae ń oorskot en hulle finansiĕle probleme iets van die verlede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.