Premier moet dadelik bedank, meen DA

Lubabalo Oscar Mabuyane, premier van die Oos-Kaap. (Foto: Facebook)

Die Oos-Kaap se premier Oscar Mabuyane moet dadelik bedank in die lig van ʼn verdoemende verslag deur die openbare beskermer, meen die Demokratiese Alliansie.

Die verslag het bevind Mabuyane het onregmatig geld van die Mbizana-munisipaliteit ontvang.

Andrew Whitfield, provinsiale voorsitter van die DA in die Oos-Kaap, sê die verslag is ook verdoemend vir die huidige LUR van openbare werke, Babalo Madikizela, wat ook dadelik moet bedank.

“Dit is vermetel dat die premier en sy uitvoerende lid kan rondloop en preek dat hulle korrupsie wil hokslaan, terwyl hy self met sy hand in die koekieblik sit,” sê Whitfield. “Die premier praat vinnig oor die vernedering van inwoners en om hulle grondwetlike regte te ondermyn. Maar hoeveel arm mense ly terwyl die premier in sy luukse multimiljoen rand se huis ontspan – wat betaal is deur die staatsbeursie wat veronderstel was om dié mense se lewens te verbeter?”

Whitfield sê die verslag, wat vandeesweek deur die OB vrygestel is, het bevind dat Mabuyane meer as R1,1 miljoen van die Mbizana-munisipaliteit ontvang het. Dié geld is gebruik vir verbeterings ter waarde van R450 000 aan sy huis in Bunkers Hill.

Die verslag het ook bevind daar is ʼn groot waarskynlikheid dat LUR Madikizela geweet het die R1,1 miljoen is uit onwettige aktiwiteit bekom en daar is ʼn waarskynlikheid dat Mabuyane ook daarvan bewus was.

“Dit gaan nie daaroor of die premier die geld teruggegee wat hy ontvang het ná die bewerings aanvanklik aan die lig gekom het nie, maar of hy ʼn misdryf gepleeg het toe hy in die eerste plek die geld ontvang het. Hoe kan ons hierdie premier vertrou om korrupsie in ons provinsie hok te slaan as die OB self bevind het hy is korrup?”

Whitfield sê die DA verwelkom die besluit om die saak na die hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) te verwys en versoek dat stappe vinnig gedoen word.

“Ons wag ook dat die verslag in die Oos-Kaapse wetgewer ter tafel gelê word en sal die situasie monitor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

H.A. ·

En so stoom korrupsie elke week maar voort. Dit KAN nie meer gestop word nie.

Prikkie ·

Die vraag is, hoe geloofwaardig is die verslag van die OB?

Wonder maar net.

koos10 ·

‘n ANC lid bedank? DA waar leef julle?
Cyril praat net oor die dinge, maar doen niks!
As hy moet begin afdank en skors gaan daar so min mense oorbly, dat hy baie moelik ‘n nuwe regering kan saamstel!

JohanR ·

DA waar het jy al in die laaste 27 jaar gesien dat iemand SELF bedank. Hulle sal sit en sit en sit totdat die sitplek nou soe warm word dat daar nie ‘n keuse is jy. Hy of sy gaan sit dan by die huis vir 3 jaar op volle salaris terwyl die saak ondersoek word. Na drie jaar het dinge nou bietjie stil geword en dan duik hy of sy op iewers op as ‘n ambassadeur. Ons weet goed hoe werk die storie!

Hennie J ·

VIVA piesangland. Seker nog n ob verslag wat hersien sal word.

jzjz05 ·

KAN IEMAND SE HOE DIE ANC KORUPSIE IN DIE LAND GAAN STOP ??Ons hoor dit elke dag maar die plan onbreek, dit is net wensdenke van iets wat nie moontelik is nie. Soms wonder ek, as dit nou nog so gaan,hoeveel van die desstyd se sokkergeld in die korupsiekas geval het .Al plan wat ek kan sien is vang hulle sit hulle in die tronk en more sit jy hulle op medieseparool.

Yvonne ·

Die geldhonger neem by die dag toe….sal nooit vesadig word nie….tot??????

Hennie ·

Akelm… ANC, grootse kriminele organisasie in die wêreld…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.