Premier sê oor leefstyloudits, e-tol en Esidimeni

Makhura tydens die lewering van sy provinsiale rede. Foto: GautengGov/Twitter

Alle provinsiale ministers en hoofde van staatsdepartemente in Gauteng gaan aan leefstyloudits onderwerp word om korrupsie te bekamp, het die Gautengse premier, David Makhura, vandag aangekondig.

Makhura het sy provinsiale rede in die Gautengse wetgewer in Johannesburg gelewer, en gesê Gauteng het ‘n baie groot bydrae gelewer om pres. Cyril Ramaphosa met sy beleid van skoon administrasie aan die bewind te kry.

Daarom sal Gauteng ‘n leidende eksponent wees daarvan om korrupsie en wanbestuur hok te slaan, en te sorg dat skuldiges vervolg word, het Makhura onderneem.

Hy het spesifiek verwys na die dood van 144 geestesongestelde staatspasiënte in die Life Esidimeni-skandaal.

“Hoewel die uitplasing van die pasiënte nie deur die provinsiale kabinet goedgekeur is nie en ek onbewus was daarvan, aanvaar ek as premier volle verantwoordelikheid daarvoor. Ons sal dus sorg dat alle skuldiges krimineel vervolg word. Die Life Esidimeni-gebeure het getoon dat daar groot fout is in dele van die Gautengse staatsdiens, en spesifiek die gesondheidsdepartment. Ons het die voorste kenners ingeroep sodat ons by die gesondheidsdepartment kan ingryp,” het Makhura gesê.

Die provinsie se pogings om skoon oudits te kry, dra al meer vrug. Twee derdes van Gautengse provinsiale staatsdepartemente en provinsiaal bestuurde entiteite het verlede jaar skoon oudits gekry – die tweede beste provinsiale ouditprestasie na die Wes-Kaap.

Mkhura het erken dat e-tol misluk het, en gesê hy sal met die nasionale regering onderhandel om ‘n nuwe oplossing vir die voortslepende probleem te vind.

Hoewel Gauteng in aller yl huise bou, beteken die verstedelikingstoestroming na die provinsie dat die behuisingsagterstand 540 000 huise beloop.

Volgens die premier is jeugwerkloosheid die grootste probleem in Gauteng, met sowat twee miljoen jong Gautengers wat tans werkloos is. Verskeie provinsiale planne is van stapel gestuur om hiermee te probeer help, waaronder die Tshepo One Million-program wat jong mense in betrekkings uitplaas.

Daar was goeie nuus aan die onderwysfront. Gauteng spog met ‘n 95%-toegangsyfer vir graad R en het verlede jaar die tweede beste matriekslaagsyfer gehad na die Vrystaat. Sewe Gautengse onderwysdistrikte se matriekslaagsyfer was onder die top tien distrikte in die land. Die provinsie het ook die toekenning vir die beste vakleerlingopleiding in die land verower.

Makhura het ook ander goeie nuus gehad. Gauteng behoort teen 2020 100% breëbanddekking te hê, met 1 500 kilometer vesel wat reeds aangelê is.

Die premier het te velde getrek teen die onwettige manier waarop buitelandse immigrante in townships handel dryf, en belowe om meer inspeksies te laat doen sodat kriminele klagtes kan volg en Suid-Afrikaners ‘n regverdige mededingingskans in die township-ekonomie kan kry.

Op ligter trant het Makhura onthul dat hy ‘n Blou Bul-ondersteuner is. “My bloed is blou!”, het hy in Afrikaans uitgeroep.

Ter ondersteuning van plaaslike nywerhede het die Gautengse regering besluit op ‘n streng beleid om vir groot aankope, soos meubels, plaaslik vervaardigde produkte te koop as ‘n streng beleidsvoorskrif.

Hoewel werkloosheid ‘n groot [probleem bly, is oproepsentrums ‘n belangrike groeibedryf in Gauteng, met 6 000 nuwe werkgeleenthede wat verlede jaar provinsiaal in die bedryf geskep is. Die Gautengse regering het R36 miljard se nuwe regstreekse buitelandse beleggings in die provinsie help vestig.

Makhura het Gautengers gevra om die hoop van die Ramaphosa-regering aan te gryp en saam aan oplossings vir die provinsie se uitdagings te werk. Hy het die VF Plus bedank vir die wyse waarop hulle die provinsie raad gee oor hoe om misdaad hok te slaan.

In reaksie op Makhura se toespraak het die provinsiale leier van die opposisie, John Moodey van die DA, gesê Makhura het nie sy regering se foute erken nie en het nie meer nuwe idees vir oplossings nie. Volgens Moodey is die enigste oplossing vir Gauteng om ‘n nuwe regering onder DA-leiding te kry in aanstaande jaar se verkiesing.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarel swartbrand ·

Dit klink nie sleg , ek sou miskien ook wou hoor van plaasmoorde en die lui polisie en duidelik weet die minister nie veel van rugby om die flou bulle te ondersteun nie ???

Lolla ·

Gee die land vir VFPlus! Julle weet nie wat om te doen nie, dis in elkgeval net VFPlus wat met oplossings en advies wat reg is en sin maak vorendag kom. Geen skandes, net geleerdheid en beskaafdheid. Soos dit hoort.

vissie ·

Ai DA julle is dan so te se 50/50 verdeel gewees oor n eenvoudige kwessie soos oor die de Lille sage , nie eens julle kan eenstemmig optree waar korrupsie deur sypel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.