Premier se rol in Esidimeni-sterftes moet ondersoek word

David Makhura, premier van Gauteng Foto: GCIS

David Makhura, premier van Gauteng, se rol in die oorplasing van psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na omstrede NRO’s, wat tot 141 sterftes gelei het, moet ondersoek word, het die Demokratiese Alliansie Sondag gesê.

Dumi Masondo, geskorste voorsitter van die Gautengse Hersieningsraad vir Geestesgesondheid, het Vrydag aan die Esidimeni-arbitrasieverhoor gesê Makhura het vergaderings bygewoon oor die skuif van die pasiënte, en hy was dus bewus van die oorplasings, het DA-woordvoerder Jack Bloom gesê.

“Dit is teenstrydig met Makhura se bewering dat hy nie geweet het dat die pasiënte na nieregeringsorganisasies oorgeplaas sou word nie, maar dat hulle na ander staatsgesondheidfasiliteite oorgeplaas sou word,” het hy gesê.

Masondo het ook gesê Qedani Mahlangu, voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, is opdrag gegee “deur mense bo haar” om die kontrak met Life Esidimeni te beëindig. Sy het onder eed getuig, so haar bewerings moet ernstig opgeneem word, het Bloom gesê.

Dr. Barney Selebano, hoof van die Gautengse departement van gesondheid, het gesê die besluit, om die pasiënte oor te plaas, is in die premier se kantoor geneem, aldus ʼn verslag deur die ombudsman.

Makhura sal na verwagting ook by die verhoor getuig saam met Selebano en Mahlangu. Dit is nie duidelik waar Mahlangu haar tans bevind nie, aangesien dit Sondag in ʼn berig aan die lig gekom het dat sy nie ʼn student aan die Londense skool van ekonomie is, soos sy beweer het nie.

“Die provinsiale uitvoerende komitee van Gauteng het erken dat sy goedkeuring bekom het om in die Verenigde Koninkryk te studeer, so hulle kan gekontak word om haar adres te bekom,” het Bloom gesê. “Ek word bemoedig deur regter Dikgang Moseneke se versekering dat die verhoor nie afgesluit sal word sonder dat alle sleutelspelers voor die verhoor verskyn nie. Hulle moet die moeilike vrae beantwoord sodat ons uiteindelik die waarheid kan hoor.”

Bloom het verlede week gesê dit is noodsaaklik dat Mahlangu verantwoording doen vir haar optrede, “aangesien sy daarop aangedring het dat die kontrak met Esidimeni gekanselleer moet word, ondanks waarskuwings dat dit tot ʼn ramp sal lei”. “Sy het ook beamptes geïntimideer om die pasiënte na ongelisensieerde NRO’s oor te plaas, waar hulle gesterf het, en het probeer om te verbloem wat gebeur het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.