Premier stel komitee aan ná seksuele klagtes by skole

David Makhura, premier van Gauteng Foto: GCIS

David Makhura, premier van Gauteng, het ʼn spesiale kabinetskomitee saamgestel om die vlak van seksuele aanranding in die provinsie se skole te bepaal en stappe te doen om leerders se veiligheid te verseker.

Dit volg nadat verskeie voorvalle van seksuele aanranding by skole die afgelope twee weke aan die lig gekom het. Een van die gevalle is van ʼn veiligheidswag wat glo ʼn aantal leerders van die AB Xuma Primary School in Soweto seksueel misbruik het. Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, het gesê tot soveel as 87 leerders is glo deur die wag misbruik. Die wag is gevolglik in hegtenis geneem en het Woensdag in die Protea-landdroshof verskyn. Die staat het egter aangedui hy kan nog nie bevestig dat 87 leerders misbruik is nie en dat nog net 15 leerders tussen die ouderdom van vyf en 12 tot dusver verklarings by die polisie afgelê het.

Die komitee wat Makhura saamgestel het bestaan uit Lesufi, Sizakele Nkosi-Malobane, LUR vir gemeenskapsveiligheid, en Nandi Mayathula-Khoza, LUR vir maatskaplike ontwikkeling. Die komitee sal nou saamwerk met nieregeringsorganisasies wat geslagsopvoeding in skole doen.

“Die komitee sal binne die volgende tien dae met skoolhoofde, beheerliggame en bevelvoerders by polisiestasies vergader om veiligheidsmaatreëls by skole op te skerp,” het Phumla Sekhonyane, die premier se woordvoerder, gesê.

Sy het gesê die 6 000 veiligheidsbeamptes wat reeds by skole aangestel is, sal herevalueer word. “Die regering gaan die polisie bystaan en meer beamptes en voertuie voorsien. Die premier sal Vrydag 200 nuwe voertuie aan die polisie oorhandig,” het sy gesê.

Lewensoriënteringsonderwysers sal ook aangestel word as eerste skakel by wie voorvalle aangemeld kan word.

Mmamoloko Kubayi, die nuutaangestelde minister van kommunikasie, het ook Donderdag gesê die kabinet het met ontsteltenis van die bewerings kennis geneem.

“Die provinsiale departement van onderwys word geloof dat hulle vinnig opgetree het deur die skoolhoof van die AB Xuma Primary School en haar bestuursraad te verwyder, maatskaplike werkers aan te stel om die kinders by te staan en om ʼn ondersoek deur ʼn onafhanklike instelling van stapel te stuur,” het sy gesê.

Sy het gesê die kabinet doen ʼn beroep op gemeenskappe om saam te werk en alle kinders van enige vorm van gevaar en mishandeling te beskerm.

Benewens die voorval by die AB Xuma Primary School ondersoek die Gautengse departement van onderwys ook ʼn voorval waarin ʼn meisie tydens ʼn matriekafskeid in Mamelodi in Pretoria glo verkrag is en nog ʼn beweerde saak van seksuele aanranding by ʼn skool in Benoni aan die Oos-Rand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Piet Pompies ·

Weereens word ‘n komitee aangestel om die sake te ondersoek wat spruit uit die onbevoegtheid van mense wat nie hulle werk doen. Die aanbevelings word bekend gemaak en om dit net weer in “file 13” te sit.
Komitee: Hier kom….i…..tee

snoefie ·

net baie kfc en coke terwyl die lewensoriënteringsonderwysers eers geleer word om “lewensoriëntering,” te spel.

CHRISTA ·

Hoekom kry hulle nie Prof Jansen wat so ‘n ekspert in die onderwys is om ondersoek in te stel na al hierdie voorvalle nie? Dan kan hy sommer ook ‘n plan maak om die gehalte van ons onderwysstelsel wat tans net as rommelstatus beoordeel kan word uit die rommel ophef tot elitestatus!!

Narre ·

Nog ‘n komitee. Daar moet baie vinnig opgetree word. Die samestelling van hierdie komitees is altyd so voorspelbaar. Daar gaan weer niks gebeur nie.

Hendrik ·

Met trots gebring deur die ANC regering…waar alles uitgestel en toegesmeer word deur komitees! Geen leierskap, geen toekoms!

Boet Fasie ·

Nou hoekom sal die regering nou ‘n kitee aanstel om die aanranding by skole te ondersoek, is dit dan nie juis die regering wat die kinders en onderwysers aangemoedig het om alles aan die brand te steek nie. Stemme en Sosial Grands (SASSA)

Boet Fasie ·

Nou hoekom sal die regering nou ‘n komitee aanstel om die aanranding by skole te ondersoek, is dit dan nie juis die regering wat die kinders en onderwysers aangemoedig het om alles aan die brand te steek nie. Stemme en Sosial Grands (SASSA)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.