Premier stuur afgevaardigdes na Ventersdorp

Foto: ANA.

Prof. Job Mokgoro, premier van Noordwes, het Maandag ʼn groep afgevaardigdes wat bestaan uit al die hoofde van die provinsiale regeringsdepartemente na Ventersdorp gestuur om met verskeie belanghebbendes te skakel ná die betogings in dié omgewing.

Vuyisile Ngesi, Mokgoro se woordvoerder, het gesê die premier se besluit om departementshoofde en ander senior regeringsbeamptes na Ventersdorp te stuur het ʼn assessering van die gemeenskap se eise en moontlik langdurige oplossings vir die probleme wat die gemeenskap met die munisipaliteit en die provinsiale regering geopper het ten doel.

“Die afgevaardigdes sal die geleentheid hê om met die belanghebbendes, onder wie die gemeenskapsleiers en -verteenwoordigers, te skakel om hulle in staat te stel om ʼn omvattende verslag vir die premier saam te stel oor die griewe, die voortslepende situasie asook moontlik langdurige oplossings,” het Ngesi gesê.

Volgens Ngesi sal dié verslag Mokgoro in staat stel om gepaste ingrypingsmaatreëls in Ventersdorp aan te kondig.

Die afgevaardigdes sal so gou moontlik ná aflegging van die besoek verslag lewer aan Mokgoro.

Woedende inwoners van Ventersdorp het verlede week die strate ingevaar en geëis dat die N14-ontwikkelingsprojek wat in 2006 beloof is asook ander diensleweringskwessies aangeraak word.

Die projek bestaan uit ʼn winkelsentrum, toerisme- en landboutrekpleisters en huise.

Twee vragmotors is aan die brand gesteek en die dorp is so te sê op sy knieë gebring. Elf mense is in hegtenis geneem vir openbare geweld en sedertdien op borgtog van R500 vrygelaat. Hulle moet 12 November weer in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

marous ·

Komissies ,afgevaardigers , verteenwoordigers …bla bla bla . Daar is geen manier wat hierdie goed gaan stop nie . Dis of vernietig alles tot in die grondin , of die polisie gaan moet skiet en almal weet dit sal nie toegelaat word nie . Lippetaal , leuens , vals beloftes en blaam verskuiwing ….afrika se lamleggende siekte

Andrea van Vuren ·

Hoekom soveel afgevaardigdes? Elkeen van hulle is seker met blouligvoertuie begelei — dink net hoeveel brandstofvermorsing. Hoeveel geld is aan die “afterparty” en moontlike oorslaap in ‘n hotel of gastehuis geblaas. Sinnelose vermorsing vir net mooi NIKS! Alles tevergeefs sê die Prediker.

SjN ·

Hy moet self gaan om eerstehandse inligting te kry, lekker om belangrik te wil wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.