Pres. Jacob Zuma bedank

Zuma kondig sy bedanking aan. Foto: Skermskoot/SAUK

Pres. Jacob Zuma het Woensdagaand, 14 Februarie 2018, omstreeks 23:00 bedank tydens ʼn regstreekse uitsending uit die Uniegebou in Pretoria.

Die ANC het Zuma ʼn ultimatum gegee om teen vandag te bedank, of hy sal Donderdag ʼn mosie van wantroue in die parlement in die gesig staar.

Zuma het gesê hy bly vir altyd verskuldig aan die ANC, “ʼn vryheidsbeweging wat ek al byna my lewe lank dien”. “Ek respekteer elke lid en leier van hierdie wonderlike beweging.”

Hy het gesê van die oomblik wat hy verkies is as president, het hy ʼn eed van lojaliteit afgelê aan die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. “Dit was ʼn wonderlike leerervaring, ʼn yslike taak.

“Ek begryp ten volle dat, alhoewel ek dien vir die plesier van my party, die ANC, is die deur waardeur ek amptelik aangestel is om die mense van Suid-Afrika te dien, die Nasionale Vergadering. Geen politieke party kan sy kandidaat op die kiesers afdwing sonder die Nasionale Vergadering nie, maak nie saak hoe gewild hulle is nie. Hierdie lyn tussen party en staat word gereeld vergeet in die daaglikse handel en wandel van party/politieke-bedrywighede.”

Zuma het gesê daar was baie spekulasie oor hoe die president van die republiek sy of haar amp moet verlaat. “Sommige het selfs gewaag om voor te stel dat die voordele wat die amp bied, moet bepaal hoe iemand die amp verlaat. Of ons die voordele sou verloor van hierdie politieke amp, kan nooit ʼn impak hê op hoe ons die pos verlaat nie. Ek het nie ingestem om te dien [as president] omdat daar nie beter kaders in die ANC of die land is nie, en die belangrikste van alles, ek het ook nie ingestem om te dien op grond van die voordele van die amp van president nie.

“Dit is die party wat my as verteenwoordiger aangestel het en ek het gedien op grond van die Grondwet as die hoogste gesag van die land.

“Moenie ʼn fout maak nie – geen leier moet aan bewind bly langer as wat die mense bepaal hy moet dien nie. Geen leier moet ʼn maklike uitweg probeer soek bloot omdat hulle nie kans sien vir lewe aan die einde van die termyn sonder die voordele wat met die amp verband hou nie.

Zuma kondig sy bedanking aan. Foto: Skermskoot/SAUK

“Ek is nie bang om die politieke amp te verlaat nie, maar ek het my party gevra om my oortredings aan my bekend te maak en die rede vir die versoek dat ek onmiddellik moet bedank. Dit was belangrik in die lig van die gesprekke wat ek met die president [van die ANC] en die sekretaris-generaal [van die ANC] gehad het. Dis waar dat daar ʼn ooreenkoms was, dat, as daar ʼn behoefte is dat ek die amp moet verlaat voor die einde van my termyn, sal daar ʼn oorgangsperiode wees – waar ek sommige van die funksies na die adjunkpresident kan delegeer.

“Natuurlik moet ek aanvaar as my party en my landgenote wil hê dat ek die amp moet verlaat; en hulle moet dit doen soos die Grondwet bepaal.

“Ek vrees nie enige mosie van wantroue of ʼn staat van beskuldiging nie, omdat dit die wettige meganismes is om die president te verwyder. Ek het die mense van Suid-Afrika na die beste van my vermoë gedien.”

Zuma het gesê hy bly vir ewig dankbaar vir Suid-Afrikaners wat hom met die hoogste posisie van die land vertrou het. “Ek bedank die burgers van Suid-Afrika vir die voorreg dat ek al sedert 2009 as president kon dien. Dit was ʼn voorreg wat ek vir die res van my lewe sal koester.”

Hy het lede van die kabinet, adjunkministers en die hele regering (nasionaal, provinsiaal en plaaslik) bedank vir hul positiewe gees en die samewerking oor die jare heen. Hy het ook ander politieke partye bedank vir hul bydraes om ʼn sterk demokrasie te verseker en die internasionale gemeenskap vir die werk wat saam gedoen is.

“Ek is geskok oor die voorvalle van geweld wat buite ons hoofkantoor, Luthuli-huis, plaasgevind het. Geen huis moet in my naam verlore gaan nie en die ANC moet ook nie in my naam verdeeld wees nie.

“Ek het daarom tot die besluit gekom om met onmiddellike effek te bedank, alhoewel ek nie saamstem met die besluit van die party nie. Ek sal egter ʼn gedissiplineerde lid bly en sal steeds die mense van Suid-Afrika dien as ʼn lid van die ANC, ʼn organisasie wat ek my lewe lank gedien het.

“Ek sal al my energie toespits om die beleide van ons organisasie te bevorder,” het Zuma afgesluit.

Berigte dat Zuma gaan bedank of herroep gaan word deur die ANC het begin Februarie toegeneem. Die EFF het kort daarna versoek dat ʼn mosie van wantroue teen Zuma in die parlement gedebatteer word terwyl opposisiepartye volgehou het Zuma moet nie die staatsrede lewer wat vir 8 Februarie geskeduleer was nie.

Die topses-leiers van die ANC het Sondagaand, 4 Februarie, met Zuma vergader waartydens hy geweier het om te bedank. Die ANC se nasionale werkskomitee het die volgende dag vergader en aanbeveel dat Zuma moet bedank.

Op 6 Februarie kondig Baleka Mbete, speaker van die parlement, aan dat die staatsrede uitgestel word. Zuma, president van die ANC Cyril Ramaphosa en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, vergader dieselfde aand en Zuma stem in om te bedank maar eers ná Junie. Daar word ooreengekom om die vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) wat vir die volgende dag geskeduleer was, uit te stel.

Intussen word daar berig dat Zuma verskeie eise het voor hy sal bedank. Op 12 Februarie versoek opposisiepartye dat die parlement moet ontbind en dat die 2019-verkiesing vroeër gehou moet word. Die NUK vergader op dieselfde dag nog. In die vroeë oggendure die volgende dag, kom dit aan die lig dat die ANC Zuma 48 uur gegee het om te bedank of hy word herroep.

Op 13 Februarie kondig die ANC aan Zuma word herroep. Daar word nie ʼn spertyd gegee vir Zuma om te reageer nie en die ANC word wyd gekritiseer.

Op 14 Februarie kondig die ANC aan dat Zuma vandag moet bedank of deur ʼn mosie van wantroue op 15 Februarie verwyder sal word. Zuma sê tydens ʼn regstreekse onderhoud op die SAUK dat hy nie sal bedank nie en voer aan hy het niks verkeerd gedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Valerie ·

Beste nuus sedert die uitvindsel van die wasmasjien. Ek en my man op pad na Marius om te gaan braai. Uiteindelik iets om regtig te vier.

Kobus ·

Skielik ook lus om n vuurtjie aan te steek vir n tweede Valentynsdagviering….

Kat ·

Uiteindelik!!! Kan nie wag vir die hofsake nie! Lekker een vir Gerrie Nel!!

Anti Zumpi. ·

Uiteindelik, soos jy se Kat. Nou moet sy doppie geklink word.
Nou vir sy suurgesig “Chronies” en die Guptas.
Mag hulle almal lekker op die belasting betalres se geld rus.

zoom zoom ·

Ons het geweet wat ons het in zuma maar ons weet nie wat ons nou gaan kry met CR. Onthou sy woorde oor grond sonder vergoeding???

Nettie ·

Ja, almal hemel CR nou so op – maar wie van ons weet wat sy modus operandi of ware agenda is? Hy is – in my oë – beslis nie die Feë Moeder wat ‘n towerstaffie gaan swaai en woeps! dan is alles weer “honky dory” in SA nie. Hy is in baie mense se oë ‘n ‘wit kapitalis’ en Marikana is nog lank nie vergewe of vergeet nie.

Koos ·

….”na die beste van my vermoë gedien…”. Sjoe. What a man, Zuma, what a man! ?

Eish ·

Dank die Hemelse Vader hiervoor.
Die laaste ” Struggle veteraan” is uit die leierskap.
Nou is dit die “homegrown” stryd wat voorlê.
Staal jul vir n vars aanslag waar die pot n paar grade warmer gaan word.

Rupert Ashford ·

Lyk my dit was ‘n deurnag sessie by Maroela…:-)

Elizabeth ·

Ek is sommer lus en vier Valentynsdag!!! Beste Valentynsdag in my lewe!! Hoop vlg een is mr. Z in die tronk, en die vlg, en die vlg, …

Christa ·

Elizabeth more jy reg hy en sy gabba, malema. Was nog nooit so bly oor n bedangking , well done!!!!!!!!!

Nettie ·

Gaan vandag sjampanje drink …………………..beste nuus in jare !!!!

Hannelie ·

Beste nuus ooit!!! En dit op Valentynsdag, dankie tog dit was nie 1 April nie. Dit moet behoorlik gevier word !!

Petrus ·

Ons het minder as n jaar terug op ons knie gegaan in Bloemfontein en gevra vir genade. Ek dink ons kan nou baie baie dankie se.

Zulu ·

Dis wel goeie nuus, maar… Ons weet wat ons gehad het, ons weet nie wat ons kry nie, dis nogals scary, ook nie te se Cyril gaan ons volgende president wees nie…moet maar wag en kyk…

SjN ·

Mamma, gooi daar nog iets op Zuma se vertrek, dankie, laat hy val waar hy wil.

christa ·

dat iemand niks verkeerd gedoen het nie maar ons land is in die afgrond. Snaaks dat hy dit nie gekeer het nie. So van dikvellig en horende doof het ek nog nooit gesien nie. Stem, CR is nie juis anders as jy na sy sake luister nie.

Charmaine ·

Hahahahahaha Mr Z lieg soos ‘n honderd jaar oue opwen-wekker, hy al so goed hy glo homself

Hein ·

Koebaai hier kom Doebaai ,,,,,,,,, hou die vliegtuie dop as hy nie alklaar daar is nie !!

Heinrich ·

Mensdom, en selfs met sy uitree-rede lieg hy deur sy tande (of glo hy hy praat die waarheid soos hy dit ervaar in LaLa-land)

Riana ·

Beste nuus nog ooit oo Maroela! Ek sal valenteinsdag 2018 as n oorwinningsdag vir S.A onthou.

Johan. H. ·

Wonderwerke gebeur ,, laat die res ook tatatata. Wat n wondrelike dag is die nie WHOOP WHOOP

Casper Labuschagne ·

Vandag is Generaal J.C. Smuts se woorde so gepas as wat dit al ooit was, “In Suid Afrika gebeur die beste nooit nie, maar die slegste ook nooit nie.”

Ander Annie ·

22:57 en die bedanking van die eeu. Die Valentynsdag gaan oom Jacob en al die tannies van oom Jacob onthou vir ‘n baie lang tyd. Vir die Zuptas en die se maatjies is dit ook ‘n historiese dag. Ek het amper my vals tande (wat ek nie het nie) ingesluk toe oom Jacob so mooi sê hy is nie bang nie. Arrogant vreesloos tot op die laaste. Oom Jacob ek is opreg bly jy dink jy het op dees aarde niks verkeerd gedoen nie. Ek hoop oom Jacob hou van oranje. Dit gaan sy ontwerpersdrag word saam met die Zuptas. Interessante tye wat voorlê. Oom Jacob vat ‘n paar dae en gaan kuier vir Oom Bob.

Chrissie ·

Sjoe…. As dit sy beste was Wat hy gegee het kan ons op ons knië gaan en ons Hemelse Vader dank dat ons nie sy slegste hoef te beleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.