Presidensie kap terug oor Gordhan-berig

Pres. Jacob Zuma by die G20-beraad in China. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Pres. Jacob Zuma by die G20-beraad in China. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die Presidensie het Sondag uitgevaar teen die “wanvoorstelling en manipulering van inligting” in ‘n mediaberig rakende pres. Jacob Zuma en Pravin Gordhan, die minister van finansies, se reis na China om die G20-beraad by te woon.

Bongani Ngqulunga, woordvoerder van die presidensie, het in ʼn verklaring spesifiek verwys na ʼn berig wat Sondag in City Press verskyn het, getiteld “Separate planes to China for Zuma and Pravin”. Hierin word berig dat betroubare bronne bevestig het dat Zuma en sy gevolg op ʼn privaat straler na Hangzhou in China gereis het, terwyl Gordhan verkies het om kommersieel te vlieg en sy eie program tydens die besoek te bepaal.

“Die joernalis wek die indruk dat iets skort of dat iets onregverdigs gebeur en dat die president en minister Gordhan eintlik in dieselfde vliegtuig na China moes gereis het,” het Ngqulunga gesê. “Dit blyk dat die berig ten doel het om die indruk te wek dat minister Gordhan sleg behandel is. Daar word niks genoem van die ander ministers en adjunkministers wat ook kommersieel na China gevlieg het nie.”

Ngqulunga het beklemtoon Maite Nkoana-Mashabane, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Rob Davies, die minister van handel en nywerheid, en Sindi Chikunga, die adjunkminister van vervoer, het ook kommersieel na China gevlieg om by Zuma aan te sluit.

“[Die joernalis] noem ook dat minister Gordhan ‘stilweg sy eie program in China gevolg het’. Dit is ʼn algehele versinsel. Minister Gordhan en minister Nkoana-Mashabane het die president na al sy vergaderings vergesel sedert hulle in Hangzhou aangekom het,” het Ngqulunga gesê.

Hy het City Press verder oor die kole gehaal omdat die koerant glo nie die presidensie om kommentaar genader het nie, maar slegs vir Gordhan oor die bewerings uitgevra het. “Vir die rekord, die president hoef nie saam met ministers in dieselfde vliegtuig te reis nie. Daar is geen sodanige vereiste nie,” het Ngqulunga gesê.

“Ons vertrou dat City Press nie besluit het om ʼn sekere siening oor ʼn saak te hê en stories so te verpak dat dit aan hierdie vasgestelde narratief voldoen, ongeag die feite nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Lance ·

Ag niemand glo nog wat die zuma se nie so maak maar jou persverklaarings all you like …mense sien jou as n dief en n skelm …en mens kan nooit jou reputasie terugkoop met geld nie !

Jakkalas ·

Al wat ons die “Jan publiek” in belangstel is die feite. Die res is net sensasiolisme en niemand baat daarby. Ek hoop hulle feite is reg anders stel ou Zumpie weer ‘n eisie in. Werk aan daai aftree pakket……

Hasie ·

Hoekom moet Zuma altyd anders wees? Hoekom kon hy nie ook kommersieel gevlieg het nie. Daar kon dan baie op sekuriteit gespaar gewees het. Sodra Zuma stil raak is hy met iets onheilige besig. Dit is soos Lance sê, sy reputasie is verdoemend

Pieter ·

Hasie, ek dink hy het privaat gevlieg omdat daar seker weer geen doeane klarings en ondersoeke gedoen is nie en daar weer seker baie kontant uit ons land uitgesmokkel is. As hy kommersieël moes vlieg sou dit nie vir hom moontlik gewees het nie.

Sarie ·

Vir ‘n land wat naby rommelstatus is dit ondenkbaar dat soveel geld op reise van ministers spandeer word. Wat was Zuma se bydrae tot die vergadering. Ek wed jou hy het net plek volgemaak. Dalk agteraf gekonkel met sy Chinese kamerade daarom moes hy alleen vlieg sodat hy ‘n bietjie langer kon agterbly om ons land verder aan die Chinese uit te verkoop sodat hulle kos vir sy trop vrouens kan voorsien.

Jan ·

Maak regtig nie meer saak wat berig word nie, alle geloofwaardigheid uit hierdie kamp is lankal daarmee heen. Geld word op groot skaal vermors en die armes krepeer.

Johann ·

Solank daat net nie NOG wurms uit die ZUMA BLIK klim nie; enigiets om die aandag af te trek van Zuma wat moet kom pa staan op HONDERDE AANKLAGTE VAN BEDROG!

christine ·

Ek sou soos Gordhan ook verkies om my eie te wees. Soort soek soort. Hier gaan hy niks leer nie. Mens weet nooit waar toe die skynheiliges in staat is nie. Beter as die mense jou kom en gaan nie ken nie. Sal nie te gerus wees in die rampokkers se geselsskap wees nie moet niks eet en drink wat hulle jou aanbied nie. Loop elke dag n anderpad na beraad toe pas u mooi op. Ons maak staat op u.

Nita ·

Ek bewonder minister Gordhan. Hy doen wat hy in sy vorige ampstermyn aanbeveel het, nl ministers moet spaar op reiskostes, verblyf en duur motors. Kort hierna is hy toe sommer gepos na n ander amp. Maar hy doen weereens sy woord gestand. Maar Zuma wil hom uit he, want Gordhan se duim is op sy gorrel.

Koos1 ·

Vir die rekord, soos in die berig, as jy almal wat moet gaan op een vliegtuig sit, spaar jy geld. Dit is mos nou ‘n eenvoudige besigheids beginsel.
Die Premier van Engeland vlieg al vir jare met British Airways, saam met gewone plebs, en daai is ‘n eerste wêreld land……… aai, Welcome to Africa!

My opinie ·

Probeer hul “damage control” doen??Hul reaksie is darem blitsig en op die einde venynig. Waar ‘n rokie is……Party mense is oorbewus van hul hul “vernaamheid” en intussen loop die keiser kaal. Hy en sy troue onderdane is net te blind om dit te sien (of te arrogant om dit te erken) Nelson Mandela het voorspel dat zuma moeilikheid is. Oor en oor en oor bewys hy dit. Hy is ‘n skande vir Suid Afrika

Joe ·

Sekere maatskappye laat dit gladnie toe dat senior personeel saam vlieg. Dit verhoed die totale uitwissing van topbestuur sou daar ‘n ramp wees. Is dit nie sinvol om dieselfde met senior ministers te doen nie?

Christo ·

Ai Joe, die effek van totale uitwissing van die topbestuur van ‘n goed-funksionerende maatskappy sal verseker ‘n ramp wees! Maar die effek van uitwissing van senior ministers van ‘n wan-funksionerende staat? Moeilik voorspelbaar!

KarooKlong ·

Dink aan ‘n weegskaal, as iets eenkant neerstort dan styg iets aan die anderkant.
Ek dink ook maar net….

Rynhardt ·

Die feit dat Pravin Gordhan van n ander vlug gebruik gemaak het as Zuma, wys klaar daar heers groot spanning.Gister se Rapport het klaar gewys dat Anc wil Gordhan uit die pad he! Die Anc se gereelde ontmoetings met China moet baie mense bekommerd maak in SA.Wat behels al die geheime ooreenkomste met China? Dit is wat elkeen homself moet afvra! Al die Anc se sprekers is nie geloofwaardig nie, al se hul ook wat oor China!

John ·

Die se vriende vat ook altyd meer uit as wat hulle terugbring. Ons landjie is tog so ‘n skandemaker. Skaars is die BRICKS-bank geopen of ons is die eerste om die grootste bedrae te leen en die prez val die grootbaas van Sjina behoorlik om die hals om dankie te se… asof dit verniet gaan wees. Grootgeld vra groot rente, maar teen die tyd dat dit terugbetaal moet wees sit die president afgetree op Nkandla se stoep langs die brandpoel en die volk sit met die skuld.

Riëtte ·

Hoe voel daardie skoen aan die ander voet ? SABC kry sy siening oor sake direk by die uwe JZ en rapporteer daarvolgens….. of nog erger…. glad nie. Waarom nou die bohaai?

Jaco Grobler ·

Enige leier van ‘n gemiddelde kaliber sou daarop aandring dat hulle saamvlieg, waardevolle tyd om te werk, bespreek en beplan, vir beide die konvensie en in landsbelang, dis nie asof alles in SA voor die wind gaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.