Presidensie moet antwoord oor Guptas se Eskom-kontrak

Atul Gupta (Argieffoto)

Atul Gupta (Argieffoto)

Mediaberigte het Sondag bevestig dat Eskom agteroor gebuig het om seker te maak dat die Gupta-familie, wat politieke bande het, ʼn steenkoolkontrak van R4 miljard ontvang, het die Demokratiese Alliansie gesê.

“Dit is adjunkpresident Cyril Ramaphosa, hoof van die regering se ‘oorlogkamer’ vir die energiekrisis, se plig om ʼn volle en gedetailleerde verduideliking te gee hoe dit onder sy toesig plaasgevind het, of hy in kennis gestel is van die ooreenkoms, en watter rol hy gespeel het om seker te maak dat dit goedgekeur word,” het Natasha Mazzone, woordvoerder van die DA, in ʼn verklaring gesê.

Sy is van plan om skriftelik vrae te rig aan Ramaphosa in dié verband.

“Die Guptas se maatskappy, Tegeta Exploration and Resources, het merkwaardig genoeg ʼn R4 miljard-kontrak ontvang om die Majuba-kragstasie in Mpumalanga vir die volgende 10 jaar van steenkool te verskaf, ondanks die feit dat hulle sedert 2011 verwerp word weens hul swak gehalte steenkool,” het sy gesê.

Die maatskappy het met sy vyfde probeerslag die kontrak gekry, nadat hy vier keer onsuksesvol was met sy steenkoolgehaltetoets, teen ʼn koste van R100 000 per toets aan Eskom. Nadat die ooreenkoms onderteken is, is vier senior werknemers op ʼn omstrede wyse geskors nadat hulle die gehalte van die Gupta-steenkool bevraagteken het, het Mazzone bygevoeg. Die analisverslae ná die toetse dui daarop dat die steenkool “marginaal” is en dit laat vrae ontstaan waarom hierdie gehalte steenkool gekies is bó beter opsies.

“Dit is welbekend dat die Gupta-familie sterk bande met die ANC, en veral pres. Jacob Zuma, het. Van die huur van die Gupta-vliegtuig en die berugte ‘Guptagate’, tot verhoogde uitgawes vir advertensiespasie vir die regering in die Gupta-beheerde koerant, The New Age is een ding seker – die Guptas kom eerste, en Suid-Afrika kom tweede,” het sy gesê.

Mazzone het bygevoeg sy sal ook vrae aan Ramaphosa stel oor ander belangrike kwessies. Dit sluit in die hoeveelheid kontrakte wat Tegeta Exploration and Resources by Eskom het; wat die aard, waarde en besonderhede van dié kontrakte is; of alle kontrakte aan die voorgeskrewe tenderprosesse onderwerp is, en indien nie, waarom nie; en watter ander finansiële belange, direk of indirek, het die Guptas in Eskom.

“Suid-Afrika het die reg om seker te wees dat elke sent van openbare geld gespandeer word om die lewens van elke burger te verbeter. Ons land kan glad nie bekostig dat die Guptas of enige ander persoon met politieke bande wins maak ten koste van gewone, hardwerkende Suid-Afrikaners wat reeds onder druk is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lizel Pretorius ·

…en die Presidensie het n skoon ouditverslag gekry…

Kaspaas ·

Die blindes ly die blindes, elke vlak van die regering is vrot van die koruptes so absoluut niks sal gebeur en die Guptas sal kontrak kry

Johann Marx ·

Zumpies kry moola by hierdie rakkers en die Chinese (vir wie hy grond en china-malls gee) om sy stat mee op te gradeer…..dis hoekom hy lag elke keer as iemand vra oor daardie uitgawes. Almal vra altyd oor die “uitgawes” maar niemand vra waar die geld daarvoor vandaan kom nie, en almal neem sommer aan dis “belastingbetaler’s geld”. Die dag as hy in ‘n hoek geverf word, sal die waarheid uitkom. Sy dorp is nie met belastinggeld gebou nie…..hy het net sy invloed gebruik om geldjies by die Indiane en die Chinese los te woeker….in ruil vir vet kontrakte en verblyfreg.

DAAN ·

JOHAN , EK DINK JY IS REG. DIE WAARHEID IS , DAT AFRIKA IS NIE OPGEWASSE VIR DIE CHINESE EN INDIESE BESIGHEIDS VERNUF NIE.

Gerhardt ·

Genade maar ek is moeg vir die Gupta’s. Ek wens hulle kan weggaan!

Yvonne ·

So hartseer dat een man se gierigheid triomfeer oor die belange van die armes! En meeste landsburgers.

Gerhard Bezuidenhout ·

Dit wys weereens net hoe diep korrup dieANC regering is . Natuurlik het Ramaphosa van alles geweet maar sal Zuma en die Guptas tot die dood toe verdedig want hulle skep te lekker. Alhoewel hulle hul betrokkenheid by sulke rampokkery sal ontken weet ons wat nie comrades is nie van beter.

Sarie ·

Ondersoek liewer met hoeveel het Zuma se persoonlike bankrekening gestyg want hierdie is tog nog net ‘n futtelose ondersoek die presidensie het lankal besluit wat die antwoord gaan wees, nog lank voor dit in die media uitgelek het. Wat het nog ooit geword van enige ander ondersoeke teen die Gupta’s? Net mooi niks nie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.