Presidensie ontken nóg ‘n vrou vir Zuma

Pres. Jacob Zuma en sy vier vroue Foto: http://guardianlv.com/

Pres. Jacob Zuma en sy vier vroue Foto: http://guardianlv.com/

ʼn isiZulu-idioom wat pres. Jacob Zuma tydens ʼn geleentheid vir senior burgers gehou het, is verkeerd geïnterpreteer, het die presidensie Woensdag gesê.

“Hy het tydens ʼn wonderlike Kersparty vir ouer persone in Savannahpark in Durban geskerts en gesê hy het nog nie “indlu yokugugela” nie, wat die verslaggewer aangeneem het verwys na ʼn volgende vrou,” het Mac Maharaj, woordvoerder van die presidensie, in ʼn verklaring gesê. “Dit is jammer dat so ʼn wanvoorstelling die sluier getrek het oor ʼn pragtige geleentheid waar die senior burgers geëerd en feestelik gevoel het.”

Zuma het reeds vier vroue, maar hy was al ses keer getroud. Een van sy vroue het op 8 Desember 2000 selfmoord gepleeg en hy en Nkosazana Dlamini-Zuma is in Junie 1998 geskei.

Die Star het berig dat Zuma die isiZulu-uitdrukking gebruik het as ʼn aanduiding dat hy dalk weer sal trou. Volgens die koerant het Zuma gesê: “Angakayakhi indlu yokugugela… laba ngisabathathile nje.” Losweg vertaal beteken dit, “Ek het vroue, maar ek moet nog met my laaste een trou.”

Prof. Sihawu Ngubane, Zulu-kultuurkenner verbonde aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, het aan die koerant gesê wanneer ʼn man sê hy het nog nie “indlu yokugugela” gevind nie, beteken dit hy gaan met nog ʼn vrou trou saam met wie hy oud sal word. “Hulle noem die laaste vrou ‘indlu yokugugela’ [die huis waarin ek oud sal word], aangesien die verantwoordelikheid om na ʼn man om te sien op hul oudag, lê hoofsaaklik by die jonger vrou,” het Ngubane glo aan die koerant verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.