Presidensie ontken nuwe verbeterings by Nkandla

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Die presidensie het Sondag onomwonde mediaberigte verwerp van verdere opknappingswerk op belastingbetalerskoste by sy privaat huis in Nkandla, KwaZulu-Natal.

“Die presidensie neem met kommer kennis van ʼn berig in die Sunday Times oor beweerde planne deur die departement van openbare werke om sekere aspekte van die president se Nkandla-huis op te knap,” lui ʼn verklaring deur die presidensie.

Zuma wil dit graag bevestig en benadruk dat daar geen opknappingswerk gedoen is aan Nkandla nie en dat geen staatsdepartement enige voorstel ingedien het vir opknappingswerk nie.

“Ons wil ook daarop wys dat geen staatsdepartement, insluitend die departement van openbare werke, toegelaat sal word om enige opknappingswerk te doen aan die president se huis in Nkandla nie.”

Die Sunday Times het vroeër berig dat die regering gereed maak om nog belastingbetalersgeld te spandeer aan Zuma se omstrede Nkandla-tuiste, wat reeds teen R246 miljoen opgegradeer is.

“Zuma is nie afgeskrik deur die publiek se ontsteltenis of ʼn bevinding deur die konstitusionele hof dat hy versuim het om die Grondwet te handhaaf wat betref geld wat op sy privaat woning spandeer is nie, en die departement van openbare werke het vandeesweek bevestig dat nuwe werk binnekort gedoen gaan word,” het die koerant berig. “Daar is prosesse aan die gang om die eiendom op te knap – in sommige gevalle beduidend op te knap – om slordige werk te herstel en, weereens, veiligheidsbekommernisse aan te spreek.”

Alhoewel die assessering nog nie afgehandel is nie, sal die bykomende opgraderings en herstelwerk miljoene rand kos en van die huise op die eiendom kan selfs oorgebou word.

Barnie Ntlou, hoofdirekteur vir regsdienste by die departement, het glo skriftelik aan die Sunday Times gesê “die proses het sopas begin” om dele van die eiendom te herstel en beamptes het reeds die woning besoek.

In ʼn reeks opvolg telefoonoproepe om dit te bevestig, het Ntlou dit benadruk dat die werk definitief sal voortgaan. “Ons is gedwing om dit te doen. Ons kan nie toelaat dat ʼn presidensiële woning vervalle is nie,” het hy glo gesê.

Fikile Mbalula, die minister van polisie, het in reaksie op ʼn SMS of hy ingelig is oor toekomstige opgraderings by die woning, geskryf: “Ja.” In reaksie op ʼn opvolgvraag oor die aard van die werk het Mbalula die koerant na die presidensie verwys.

Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het in haar verslag oor die Nkandla-skandaal bevind dat die opgraderings aan die eiendom, wat met belastingbetalersgeld gedoen is, ʼn gastehuis en twee privaat huise, ʼn swembad, besoekersentrum, veekraal en hoenderhok, helikopter-landingsplek, geheime tonnels en ondergrondse skuilplekke insluit.

Die konstitusionele hof het in Maart 2016 beslis dat Zuma versuim het om die Grondwet te handhaaf, te verdedig en te respekteer nadat hy Madonsela se aanbevelings geïgnoreer het dat hy van die geld moet terugbetaal wat spandeer is aan opgraderings by sy huis. Die tesourie het bepaal die bedrag wat hy moet terugbetaal, is R7,8 miljoen en die presidensie het gesê Zuma het ʼn lening by VBS Mutual Bank aangegaan om dit te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Andre ·

As hulle eers ontken, kan jy maar seker wees dit gaan gedoen word.

Koos ·

Soos destyds met die bou van die Nkandla paleis sal Numba 783 na afhandeling van die opgraderings agterna eenvoudig ontken dat hy daarvan geweet het, of toestemming daarvoor gegee het. En gedane sake het geen keer nie, en sal ons Teflon president skotvry daarvan afkom, ten koste van die belastingbegtalers.

Annie ·

Gewoonlik met hom, waar daar ‘n rokie is is daar defnitief reeds ‘n veldbrand………

Leendert ·

Johannes, waar daar ‘n rokie is, moet daar ‘n brandpoel wees.

yvette ·

Net soos n bosluis, sal suig tot hy dik is en dan afval, geen einde!

Katryn ·

Die outjie lieg soos ‘n matroos! Wie kon nog ooit glo of hy waarheid praat of jok? Steek ons maar in die skande ….. jou dag sal kom! Gouer as wat jy dink!

Moeg vir swak Afrikaans ·

Lieg soos ‘n tannetrekker, vloek soos ‘n matroos.

Gert ·

Op n afstand (fotos) gesien die grasdak kontrakteur het aangejaag. Geweet daai dakke gaan binnekort vervang moet word. As grasdakke se vakmanskap ontbreek, bou jy alles oor, geen kans op behoorlike herstel. Raai maar wie was die gelukkige kontrakteur wie lekker geskep het. Miljoene. En ek noem maar net die grasdakke.

Johann cb ·

Miskien moet ons sy aftreepakket vergelyk met die koste van die voorgenome opknappingswerk en van daar ‘n besluit neem…
Ons, die nasie, sal tog op ‘n wyse moet “betaal” voor hy sy goedjies vat en loop!
Dink daaroor, ek skat dit maak logiese sin!

Justice ·

Ek kan dit glo dat miljoene weer gespandeer gaan word – die Nkandla tenderpreneurs en middelmanne behoort teen die tyd reeds ‘n erge kontantvloei krisis te ervaar. Hulle wag nou vir die manna uit die belastingbetalers se sakke om hul status en aansien in die gemeenskap te onderhou.

Big daddy ·

My ondervinding vd anc regering is dat die oomblik as hulle gerugte ontken dit uitdraai om presies die teenoorgestelde te wees.

Stephanus ·

Hy is bekend daarvoor dat hy nie sal skroom om iets te ontken nie!!!

Paul Botha ·

Waar daar ‘n rokie trek ……..(voltooi maar soos jy voel!) Ons gaan nog swaar leef tot NADAT hy weg is.

AL ·

En hy het nie eens eienaarskap aan Nkandla nie! Wie trek voordeel uit hierdie opknappings behalwe die tenderpreneurs?
Die publiek is verby keelvol vir hom, hierdie kan van die laaste strooi wees wat hom laat knak.

foxi ·

Soos die woord sê…….eendag sal alles deur vuur verswelg word!!!

yogi bear ·

Hierdie keer sal NAMA-ONE moeilik kan sê dat hy daar niks van af weet nie.
Almal in die land weet mos nou daar is iets aan die gebeur

w ·

Hy steur hom ni aan di gekerm van di minority ni. Die onnnosel majority staan agter hom

John ·

‘Opknap’ is die vangplek. Aanbouings, uitbreidings en nuwe vleuels of vloere is dalk aangewese. En dit kan nogal kos… koes maar solank…

Wiehan ·

Daar moet ook ‘n lughawe op Nkadla gebou word, waar anders gaan sy nuwe jet land. Hy’s nie van plan om uit te tree nie’ Bob die 2de.

Alida ·

Van wanneer word n huis net sommer oorgebou? Brouwerk die eerste keer. Maar nou-ja ons weet mos almal party mense glo nie aan instandhouding nie. Deurtrekkers dit is wat hulle is.

Helene. smuts ·

Dis defnitief klaar gedoen. Hoe kry Zuma se gades dit reg om sy paleis so gou af te breek. Ek vertaan dit nie. Daar kan duisende huise gebou word. Dis n skande. Hy voel niks vir ons land en al die rasse.

Pieta ·

Het dit te make met ‘n aparte palleis, ens. ens. vir “Madam Beetroot” ?

Chris Ws ·

Dis tyd dat nkandla deur “protesteerders” omsingel word en niks in op uitgelaat word nie vir so jaar of twee!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.