Presidensie vaar uit teen ‘kwaadwillige gerugte’ oor Nene-afdanking

Nhlanhla Nene, die voormalige minister van finansies, lewer op 25 Februarie 2015 sy begrotingsrede in Kaastad Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Nhlanhla Nene, die voormalige minister van finansies, lewer op 25 Februarie 2015 sy begrotingsrede in Kaastad Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie

Die presidensie het Saterdag uitgevaar teen “kwaadwillige gerugte” oor die rede agter Nhlanhla Nene, voormalige minister van finansies, se afdanking.

“Die presidensie wil die kwaadwillige gerugte wat die ronde doen en wat deur sekere mediahuise gepubliseer is, korrigeer in verband met ministeriële ontplooiings en die SAL se raadvoorsitter, me. Dudu Myeni,” is in ʼn verklaring gesê. Die verklaring lui verder mediaberigte dat Nene uit sy pos verwyder is omdat Myeni ongelukkig sou wees met die nasionale tesourie se opdragte aan SAL met betrekking tot die Airbus-ooreenkoms en ander sake, is “kwaadwillige fabrikasie”.

“Soos daar Vrydag verduidelik is, is mnr. Nene Suid-Afrika se kandidaat om aan die hoof van die Afrika-streeksentrum van Brics se nuwe ontwikkelingsbank te staan,” het die presidensie gesê. “SAL het opdragte van die minister van finansies ontvang onder die leiding van die ministerie. Geen lid van die SAL-raad is bó die minister of kan buite die mandaat en opdragte wat deur die minister van finansies en die nasionale tesourie daargestel word, beweeg nie.”

Die presidensie het ook gerugte dat pres. Jacob Zuma en Myeni ʼn romantiese verhouding het en saam ʼn seun het, ontken en gesê hul verhouding is “streng professioneel”. “Gerugte oor ʼn romanse en ʼn kind is ongegrond en is versin om aanvalle op die president uit te lok.”

Berigte dat Malusi Gigaba, nou minister van binnelandse sake, uit sy posisie as minister van openbare ondernemings verwyder is ná ʼn uitval met Myeni, is ook ongegrond, het die verklaring gesê. “Dit is nie waar nie. Mnr. Gigaba het sy volle termyn as minister van openbare ondernemings uitgedien tot en met die verkiesing in Mei 2014. Die nuutgekose president stel ʼn nuwe kabinet aan sodra hy ingesweer is. Die nuwe president is onder geen verpligting om dieselfde persone weer in dieselfde posisies aan te stel nie.”

Die presidensie se verklaring volg op wye kritiek van Zuma se besluit om Nene van sy pos te onthef. Verskeie politieke partye en instansies het hul menings uitgespreek oor die redes vir Zuma se besluit. Nadat Nene in die pad gesteek is, het die rand afwaarts getuimel totdat dit Vrydag ʼn rekordlaagtepunt van R16 teen 1 Amerikaanse dollar gehaal het.

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie (DA), het Zuma se redes vir die besluit as vals bestempel en gesê dit is duidelik dat die president die redes ná die tyd uitgedink het om sy “rampspoedige besluit te rasionaliseer”.

“Zuma het geen redes vir sy besluit gegee toe dit Woensdagaand bekendgemaak is nie. Die redes wat Vrydag gegee is, is lagwekkend,” het Maimane gesê. “Die benoeming van Nene om aan die hoof van die BRICS-bank se Johannesburg-kantoor te staan, sal op geen manier hom verhoed om steeds as minister van finansies te dien totdat sy benoeming bevestig is nie. Nkosazana Dlamini-Zuma het steeds as ʼn minister gedien nadat sy benoem is om aan die hoof van die Afrika-Unie te staan,” het hy gesê.

“Pres. Zuma se uiters onverantwoordelike besluit het tot ʼn ekonomiese krisis gelei wat maklik ʼn keerpunt in sy mislukte presidentskap kan wees,” het Maimane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Johann Marx ·

Dis NET in Afrika waar jy van jou pos “onthef” word, omdat jy ‘n kandidaat is vir iets anders. In die gewone wêreld bly jy in jou pos TOTDAT jy suksesvol is met jou aansoek vir ‘n ander pos, waarna jy jou bedanking indien, jou kennis-periode uit werk, en jou verpligting nakom om jou opvolger, wat by jou oorneem, by te staan met enige vrae wat so ‘n person mag hê. Met ‘n sensitiewe pos soos hierdie sou dit ook raadsaam gewees het om die adjunk te bevorder, selfs net tydelik, tot tyd en wyl ‘n geskikte kanditaat vir die pos gevind word……jy gryp nie een van jou tjommies en druk hom in die pos in nie? Tydens Mnr van Rooyen se “burgemeesterskap” het die munisipaliteit wat hy bedien het se “skuld” gegroei van R95 miljoen in 2000, tot R340 miljoen in 2008. En nou is hy ons nuwe Minister van Finansies?

Ockert ·

Ek dink werklik dat die presidensie ook nou moet wakker skrik en begin kyk wat om hulle gebeur en daarteen opstaan of hulle bang dat hulle dieselfde paadjie as Nene gaan loop?

arie plaasboer ·

@ Johan Marx en Ockert,
Ek kan allen maar saamstem met julle sentimente.

Kan nie glo dat die presidensie so uit voeling is met die vereistes van die pos van staatspresident nie.

Gideon ·

Indien julle die sentiment deel dat Pres. Jacob Zuma ongeskik is as president, teken asseblief die volgende petisie. Hierdie petisie is reeds voor Adv. Thuli Madonsela gebring en sy gaan dit direk voor die parliament en die president bring. Elke handtekening voeg krag by ons stemme, en wys dat ons genoeg gehad het van hierdie grap van ‘n regering, en hierdie skaamte van ‘n president.

https://www.change.org/p/thuli-madonsela-zuma-needs-to-step-down-government-in-sa-needs-to-change-before-its-too-late/share?after_sign_exp=default&just_signed=true

Eddy ·

In elke donker gaatjie sit zuma en sy maatjie.Die probleem is lig is nie duisternis nie en hulle is duisternis

Andre ·

Ek vertrou dat die Presidensie sy wolhaarstories ook met groot sukses aan buitelandse beleggers en die geldmarkte verkoop sal kry. Foeitog!!

Ida ·

Waar ‘n rokie is, is daar ‘n vuurtjie. Nene is beslis nog nie aangestel by BICS. Mnr JZ, dink jy regtig ons moet jou begin glo as jy klein foutjies maak soos dat al die kontinente binne Afrika inpas. Gaan terug skool toe en leer dat 1 + 1 = 2 en nie 3 nie. Alles is vir jou ‘n groot grap. Jy is ‘n grap Mnr JZ. Met jou stupid grappe hang die hele SA, inkluis jy en jou lojale trawante, aan ‘n dun lewenslyn binne-in ‘n vulkaniese gat, wat wag om tot uitbarsting te kom.

Bach ·

Is daar dan niemand met integriteit in die regering wat sy stem kan verhef nie. Waar is Cyril, Pandor of selfs Hanekom? Ek dink die ander klomp is almal zombies.

Marie Bredenkamp ·

Wolhaarstories tot die hoeveelste mag. Hy/Hulle moes geleer het uit die fiasko met die “onverkorte geboortesertifikate” wat ook herroep moes word, en waarvan die skade ook nie reggestel kan word nie…

anna ·

idiote almal van hulle. dubbele knopkop voor in die koor. regdeur die bank.

Albie ·

Almal naby aan Zuma deel aan die oorvloedige gravy train. Hulle gaan hulle sakke ook vol stop voor sy termyn verstryk. En dan gaan die poppe dans want Zuma en sy maatjies wil nog meer he vir langer!

anna ·

ek kan nie glo dat dubbele knopkop se makkers nie die skrif aan die muur kan sien nie. hulle het dus ook nie verstand nie. het gehoop hier en daar is een maar nee.

Johann Marx ·

Die beste manier om “kwaadwillige gerugte” te voorkom, is om die waarheid te praat, jou aksies vooraf met almal te bespreek, en dan vir almal te wys watter briljante president jy is…..nadat jou aksies massiewe finansiële voordeel vir die hele land en sy bevolking gerealiseer het.

arie plaasboer ·

@Johann Marx,
Die belangrikste woord in jou kommentaar is verseker “gerealiseer” het.

Dit betekn dat hoopvolle reaksies net eenvoudig nie geduld kan word nie.

arie plaasboer ·

@Johann Marx,
Die belangrikste woord in jou kommentaar is “gerealiseer”.

Hoopvolle en verwagte resultate is doodgewoon nie aanvaarbaar meer nie.

Dirk Breytenbach ·

Behalwe die totale afwesigheid van intelligente en verantwoordelike leierskap in die regering is besigheid in SA dan totaal stomgeslaan? Geen kritiek of vrae nie , doodse stilte van aanvaarding terwyl SA oor ‘n finansiele afgrond gedruk word . Wat se kaliber mense staan aan die stuur van groot besigheid en om nie eens te praat van besigheidsgroeperinge wat sake in SA verteenwoordig nie? Hier en daar was ‘n flou poging van leiers maar geen alternatief of waarskuwing nie. Ons verdien wat ons kry weens ruggratloosheid van besigheid SA. Te besig met vakansieplanne, beskerming van tenders of politieke korrektheid? Die lys kan aangaan.

Flip ·

Een van die baie dinge wat my dronkslaan is, besef Zuma nie wat die waarde van Nene se pos is nie? Waarom het hy nie eerder een van Nene se voorgangers gekies vir die sg. BRICS-bank nie? Dit is verseker so dat Zuma nie syfers verstaan nie en dis ook dan vir my verstaanbaar waarom die ANC vir hom belangriker is as Suid Afrika!

Hans ·

As jy ‘n klip in die bos gooi en daar spring ‘n haas uit, dan moet jy weet jy het raak gegooi.

Dan ·

Dit is deur en deur bewys dat van No.1 kan jy enige iets verwag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.