Presidensie ‘verwerk’ nog SOE-verslag oor Digital Vibes

Dr. Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid. (Foto: Dept. van gesondheid)

Die presidensie is steeds besig om die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor die omstrede Digital Vibes-kontrak, wat pres. Cyril Ramaphosa reeds vroeg in Julie ontvang het, te “verwerk”.

Tyrone Seale, woordvoerder, sê die presidensie het vantevore al die versekering gegee dat hy mense op die hoogte van verwikkelinge oor die kwessie sal hou op ʼn manier wat steeds inligting beskerm wat moontlik die onderwerp van vervolging, siviele stappe of tugprosesse kan word.

Seale sê in die belang van billikheid en ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting – asook omdat daar reeds talle aansoeke was vir toegang tot die verslag – het die presidensie derdepartykennisgewings uitgereik aan alle mense of entiteite wat in die verslag genoem word. Hulle kry dan die geleentheid om beswaar te maak teen die bekendmaking van die verslag, of gedeeltes daarvan.

“Elkeen sal die inligting wat hulle nodig het, ontvang sodat hulle ʼn besluit kan neem oor hul eie belang.”

Die SOE het ook ʼn hele aantal aanbevelings gemaak oor spesifieke mense teen wie tugstappe gedoen moet word.

“Daar word stappe gedoen oor hierdie verwysings,” sê Seale.

Die SOE maak verdoemende bevindings in sy ondersoek na die Digital Vibes-kontrak wat die departement van gesondheid teen ʼn koste van R150 miljoen met die maatskappy aangegaan het. Diegene aan die stuur van Digital Vibes het noue bande met dr. Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid.

Mkhize het bedank nadat hy glo by die toekenning van die tender gebaat het.

Die SOE het Woensdag egter gesê sy bedanking beteken nie Mkhize kan nie steeds vervolg word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

melaney ·

Gee tog kans mense. Presidensie is besig om alweer maniere te vind sodat hulle “nog ‘n saak” onder die mat kan invee.

JM ·

Tot satwordens toe siek en moeg vir hierdie korrupte land! Daaglikse nuus bestaan uit moord, verkragting, diefstal, leuens, gryp, sonder om daarvoor te werk en so kan ons aangaan!! Mag God ingryp, want ons kan nie meer nie. Suid-Afrika se nuwe leuse moet wees: GEWETENLOOS!

Nie Verbaas ·

Presidensie verwerk nog die verslag, met ander woorde hulle kyk waar hulle kan toesmeer en verontskuldig.

Persheks Adri ·

Kan sien Cyril is ernstig om korrupsie hok te slaan pffft! Hoe lank vat dit om deur ‘n verslag te werk? Kom Cyril lees bietjie vinniger en hou op cover vir jou kaders

Snowball ·

Persheks, een van die dae gaan die woord ‘kader’ ook verban word….

Persheks Adri ·

Ja Snowball dis hoekom ek al soms krans atleet sê lol!

Nie Verbaas ·

Die vertraging kan toegeskryf word aan n ernstige siekte genaamd ruggraatloos.

Dup ·

“Verwerk” beteken dat hulle besig is om nuwe poste vir die geimpliseerders te skep….

Di ·

Net so! verplaas net die probleem na ‘n ander pos toe waar hy kan voortgaan met sy korrupsie. Hoe anders gaan die man dan nou kan oorleef?

Schalk ·

In die “werklike” lewe buite die Staatsdiens was enige iemand al afgedank en vervolg. Politieke leiers en kader kudde het eie unieke “sorry ne” idees van straf uitdeel. Raps op die hand maar nie te hard nie is mos maar reg? Belaglik want dieselfde as jy nie in jou pos vorder nie word jy maar net meer betaal om minder te vorder.

Di ·

Nee wat ons gaan LAAAAAAAAAnk wag! Was dit nou enige ander normale landsburger, was jy lankal in die tronk gestop.

tweeling ·

Hulle is besig om uit te werk hoeveel goud die handdruk moet hê!

Belinda ·

jis ek kan nie eintlik julle se hoe teleurgesteld is ek in mnr Mkhize nie. Ek het hom so jammer gekry toe die virus net uitgebreek het. Ek het op die nuus gesien hoe moeg die man was van al die perskonferensies ens. minwetend dat hy ook toe agter toe deure betrek is in skelmstreke. Ek het gedink hierdie man is n goeie man, just goes to show… you cant trust anyone anymore.

Fran ·

Alles is reg, mooi, regering goed. Ek het geen probleme nie. Weet nie waaroor julle kla nie!

Johann ·

In ANC taal moet jy “verwerk” lees as TOESMEER. KERNKORRUP!

JohanR ·

Nou hoe kan ek hierdie verslag soe bietjie manipuleer? Vertrou Cyril Ramaphosa net niks nie!

Foefie ·

Sou hierdie nou betrekking he op die G5 torings wat mense gaan track en trace d.m.v. die nano elemente in die inenting? Vadertjie ons! As dit darem is wat ek dink dit is, vorder dinge met rasse skrede na die einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.