Presidensie verwerp berigte oor Zuma-belasting

Omslag van die boek (NB Uitgewers)

Die presidensie het Sondag bewerings in mediaberigte verwerp wat aanvoer dat pres. Jacob Zuma sommige fondse nie verklaar het nie.

“Zuma het alle inkomste wat hy ontvang het aan die betrokke owerhede verklaar en bewerings in die berigte is misleidend en duidelik deel van voortgesette smeerveldtogte,” het Bongani Ngqulunga, woordvoerder van die presidensie, gesê. “Die president se belastingsake is in orde.”

Zuma het glo ook nie enige inligting ontvang wat verband hou met belasting oor die Nkandla-opgraderings nie, soos in die media berig word nie, het Ngqulunga in die verklaring bygevoeg in reaksie op ʼn eksklusiewe uittreksel uit die veteraan ondersoekende joernalis Jacques Pauw se nuwe boek, The President’s Keepers, wat in die Sunday Times gepubliseer is.

Die boek voer onder meer aan dat Zuma versuim het om tydens sy eerste jaar in die amp ʼn belastingopgawe in te dien. “Dit was nie ʼn uitsondering nie. Hy het ook nie in sy tweede jaar ʼn belastingopgawe ingedien nie. Ook nie in die derde of vierde jaar nie.

“Daar is ʼn paar redes waarom Zuma nie sy belastingopgawes wil indien nie. Die eerste is waarskynlik die petalje van die Nkandla-opgraderings. Zuma skuld wettig miljoene rand in belasting oor die voordele wat hy gekry het weens die opgraderings.

“Wat ek volgende ontdek het, was te fantasties, ongeloofwaardig en verregaande. Het jy al ooit van enige staatshoof op enige plek in die wêreld gehoor wat, terwyl hy die sake van die land bestuur het, ook ʼn werknemer van ʼn privaat maatskappy was?” lui die uittreksel.

“’n SAID-ouditeur van die Durban-kantoor van die inkomstegaarder, was in 2010 besig met ʼn roetine belastingnakomingsverslag van ʼn veiligheidsmaatskappy genaamd Royal Security. Die maatskappy se stigterslid en direkteur is Roy Moodley, ʼn openbare vriend van Jacob Zuma en ʼn ANC-begunstigde.”

Die boek voer aan Zuma was op Royal Security se salarisrol teen R1 miljoen per maand, sonder dat werknemersbelasting afgetrek is. “Zuma was vir minstens vier maande lank in diens van die veiligheidsmaatskappy nadat hy die president geword het. Dit beteken dat Roy Moodley sy baas was tydens die eerste paar maande van sy presidentskap. Hierdie betalings aan Zuma moes vir Moodley ʼn houvas op Zuma gegee het.

“Wat Zuma na bewering gedoen het, was oneerlik, onwettig en ongrondwetlik. Hy het byna sy presidensie verloor nadat die konstitusionele hof in 2016 beslis het dat hy versuim het om die Grondwet te onderhou, maar hierdie is baie erger,” lui die boek.

*Die boek, The President’s Keepers, word uitgegee deur Tafelberg en is nou beskikbaar (ook as ‘n e-boek) teen R280-00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.