Presidensiële handboek baan die weg vir ‘Nkandla Air’, sê DA

jacob-zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die presidensiële handboek wat Vrydag kragtens ʼn hooggeregshofbevel beskikbaar gestel is, is duidelik geskryf “met Zuma se leefstyl in gedagte”, het die Demokratiese Alliansie gesê.

“Al wat die handboek doen is om [president Jacob] Zuma se handlangers ʼn blanko tjek te gee, terwyl presidensiële aanspreeklikheid verminder word en die moontlikheid vir rojale en uitspattige besteding vermeerder word,” het Sej Motau, woordvoerder vir die party, gesê. “Dis maar 20 bladsye lank en is gedateer November 2015. Die handboek is klaarblyklik onlangs geskryf om Zuma se leefstyl te ondersteun en verduidelik waarom hy versuim het om die aankope van ʼn nuwe BBP-vliegtuig ter waarde van R4 miljard vir sy privaat gebruik aan te kondig.”

Die handboek beperk die gebruik van kommersiële vlugte vir die adjunkpresident en bepaal dat die president slegs onder “spesiale omstandighede” kommersiële vlugte sal onderneem, en dit verskaf dus aan Zuma die verskoning om nie die voorbeeld van ander staatshoofde te volg nie, het Motau verduidelik.

In die geval van die president, bied dit ʼn mandaat aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag om ʼn gepaste vliegtuig met aan boord spyseniering te verskaf vir die president se rekening. Dit gee ook die president toestemming om “passasiers uit te nooi om hom te vergesel, indien daar genoeg plek is”.

Motau het gesê Inkwazi, die huidige presidensiële straler, het luukse sitplek vir 18 persone en ʼn afstand van 6 200 seemyl. “Dit is duidelik onvoldoende vir Zuma se behoefte, aangesien die tenderdokument wat van Armscor bekom is, ʼn uitspattige straler met ʼn afstand van 7 200 seemyl en plek vir 30 passasiers aan boord spesifiseer.”

Wanneer die tenderdokument en presidensiële handboek dus saamgelees word, is dit duidelik dat die motivering vir die nuwe straler Zuma se behoefte is om verder te kan vlieg, in groter gemak, met meer van sy vriende aan bord – op die belastingbetaler se onkoste, het Motau gesê.

“Die handboek moet streng beperkings plaas op presidensiële uitgawes om die misbruik van staatsgeld te voorkom,” het hy bygevoeg. “Maar nou bied dit bloot riglyne wie as sondebokke gebruik kan word deur te bepaal watter departement vir watter rekening verantwoordelik is, byvoorbeeld die departement van verdediging in die geval van Nkandla Air.”

Hy het gesê as staatshoof kan Zuma egter nie net sy hande was van geld wat spandeer is om sy rojale lewenstyl te finansier nie. “Die vrystelling van die handboek sal die DA nie verhoed om die president aanspreeklik te hou vir onnodige uitgawes nie, insluitend die totaal onnodige uitgawe om ʼn nuwe vliegtuig aan te koop. As Zuma regtig oor Suid-Afrika omgegee het, sou hy ʼn voorbeeld gestel het rondom fiskale beperking en verantwoordelik besteding, in plaas daarvan om homself en die ANC eerste te plaas.”

Die Pretoriase hooggeregshof het op 30 Oktober, ná ʼn saak wat deur die burgerregte-organisasie AfriForum gebring is, beveel dat die omstrede presidensiële handboek aan AfriForum oorhandig moet word voor die einde van November.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dee ·

Quote:
Die vrystelling van die handbook sal die DA nie verhoed om die president aanspreeklik te hou vir onnodige uitgawes nie, insluitend die total onnodige uitgawe om ‘n nuwe vliegtuig aan te koop.
Unquote.

En Dee wens en hoop daar was meer stukrag agter die DA se woorde as slegs wensdinkery.
Zuma giggel tot dusver alles weg waarmee die DA dreig en eis. Klaarblyklik is die handboek wat hy volg eintlik ene wat die Mugabe geskryf is. Dit laat ‘n frank smaak as hul haat vir blankes opgeweeg word teen die luukse modernisasie wat deur blankes ontwikkel is, maar slaafs deur hulle aangekoop. word.

Tiaan ·

Goeie werk AfriForum, laat weet ons wat is die inhoud van daardie handboek

Eddie ·

Ek dink toe ou Zuma hierdie 20 bladsy boek op die troon geskryf het het hy aan kersvader geskryf. Dit is ook wat my kids hierdie tyd van die jaar doen. N wish list. Aai ou Zuma jy kan maar groot word daar is nie n kersvader wat jou Jet onder jou boom gaan kom park nie.

Dee ·

Nou waarom dink jy hy gaan nie daai kite kry nie? Wie gaan hom keer, die DA?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.