President betreur Tina Joemat-Pettersson se dood

Tina Joemat-Petersson. (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa sê die land het ʼn “merkwaardige leier” verloor met die dood van voormalige minister Tina Joemat-Pettersson.

Ramaphosa het kort ná Joemat-Pettersson (59) se skielike dood Maandag sy medelye met haar geliefdes betuig.

“Ons het ʼn merkwaardige leier verloor wat haarself in die vroeë jare van ons demokrasie daaraan toegewy het om mense se lewensgehalte in haar tuisprovinsie van die Noord-Kaap te verbeter voordat sy nasionale verantwoordelikhede in sleutelportefeuljes aanvaar het,” sê hy.

“Ons sal die passie en ywer waarmee sy vir ʼn beter Suid-Afrika geveg het – van die Noord-Kaapse platteland tot op die banke van die parlement – baie mis.”

Joemat-Pettersson was ten tyde van haar dood ʼn ANC-LP en het as voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir polisie gedien.

Moloto Mothapo, woordvoerder van die parlement, sê die hele parlement betreur ook Joemat-Pettersson se dood.

“Haar heengaan was ʼn skok vir ons almal,” sê hy.

“Sy sal onthou word as ʼn skerpsinnige politikus wat haar vaardighede en kennis gebruik het om wetgewende werk te bevorder om die lewens van gewone Suid-Afrikaners te verander.

“Sy het ʼn groot passie en welwillendheid uitgestraal, en was nie bang om haar sê te sê nie.”

Joemat-Pettersson was egter nog voor haar dood in ʼn wolk van omstredenheid gehul.

Sy is dood te midde van bewerings dat sy een van drie parlementslede was wat R600 000 van Busisiwe Mkhwebane, geskorste Openbare Beskermer, se man, Mandla Skosana, probeer afpers het, berig Daily Maverick.

Dit sou na bewering in ruil daarvoor gewees het dat die ondersoek na Mkhwebane verdwyn.

Skosana het glo reeds ʼn saak aanhangig gemaak en dit word ondersoek.

Tydens Joemat-Pettersson se amp as minister van energie het sy ʼn omstrede ooreenkoms met Rusland onderteken om reaktors in Suid-Afrika te bou. Rosatom, Rusland se kernkragprodusent, het destyds gesê dat hy teen vanjaar agt kernreaktors aan Suid-Afrika sou verskaf.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het egter jare later bevind dat die staat se verkrygingsprosesse vir sy kernkragbouprogram onwettig en ongrondwetlik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Amelia ·

Verstaan nie hoekom gese word land het merkweaardige leier verloor nie as mens verder in berig lees van afpersing rusland ens dan wonder mens Om iemand aan dood af te staan is erg en voel jammer vir familie

Kobus ·

@Amelia. Onthou die kriteria vir die tilel “Merwaardige” minsiter te kry is dat jy nie hoef te presteer nie. Jy moet net lojaal aan die party wees. Sy was nie vreeslik bekwaam nie. Maar ja, die dood is nooit goeie nuus nie. Sterkte aan haar familie

Louis ·

Nou toe nou, merkwaardige leier van ?? Sover ek weet, wat sy maar net ñ minister in ñ moreel bankrot regering.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.