President gaan nie nasie vanaand toespreek

Minister Jackson Mthembu. Foto: Presidensie/Twitter

Pres. Cyril Ramaphosa gaan nie meer vanaand die nasie oor die jongste stand van sake rakende Covid-19 toespreek nie.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het kort ná 19:00 Sondag aangekondig dat die vergadering van die nasionale bevelraad steeds aan die gang is en tot laataand gaan voortduur.

“Daar is geen moontlikheid dat die president die nasie vanaand sal toespreek nie.” Volgens Mthembu word daar reëlings getref sodat die president Maandag die land kan toespreek.

Die bevelraad bespreek volgens Mthembu baie gewigtige sake, waaronder die sosio-ekonomiese trefslag van die nuwe koronavirus en die uitwerking daarvan op die armes, kwesbares en werkers.

Op ʼn vraag aan Mthembu hoekom die president nie eerder die vergadering kortknip en die nasie toespreek nie, het hy gesê hulle wil nie kortpaaie vat en die president die land laat toespreek as hy nie inligting op alle fronte het nie.

Daar is vanoggend aangekondig dat Ramaphosa vandag nog die nasie sal toespreek oor of die huidige regulasies rakende die koronavirus genoegsaam is, en of nuwe regulasies benodig word.

Ramaphosa het vanoggend met sakeleiers by die Uniegebou vergader waarna hy met leiers van al die opposisiepartye wat in die parlement verteenwoordig word, byeengekom het. Daar was Woensdag ʼn soortgelyke vergadering tussen die president en opposisiepartye.

Ramaphosa het daarna met die nasionale bevelraad begin vergader.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.