President moet oop kaarte speel oor kragsituasie

Die DA-leier John Steenhuisen (middel) sê pres. Cyril Ramaphosa moet die land in sy vertroue neem oor die omvang die kragprobleme. (Foto: DA/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa moet Suid-Afrikaners in sy vertroue neem en oop kaarte speel oor wat régtig met die land se kragnetwerk aan die gang is.

Eskom het die afgelope week in ʼn ongekende stap aangekondig dat fase 6-beurtkrag ingestel word.

“Die stap dui daarop dat ons nou in ʼn wedloop teen tyd is om die energiesektor in Suid-Afrika te hervorm en te verseker toekomstige geslagte het krag,” het John Steenhuisen, DA-leier, Dinsdag gesê.

“Terwyl pres. Ramphosa tans in Egipte is, omring deur antieke ruïnes uit ʼn vervloë era, staan ons vandag ook voor die ruïnes van ʼn vervloë era – die dreigende ineenstorting van Suid-Afrika se kragvoorsiener.”

Steenhuisen sê die lewensvatbaarheid van die kragvoorsiener in sy huidige vorm is nie volhoubaar nie, maar dat dít ook nie nuwe nuus is nie: die waarskuwingstekens flikker nou al minstens ʼn dekade lank.

Hy sê daar is egter weinig politieke wil om die besluite te neem wat goedkoper en meer betroubare krag aan Suid-Afrikaners sal verseker.

“Dit sê iets as die president op ʼn internasionale uitstappie na Egipte vertrek op die hoogtepunt van wat nie net ʼn kragkrisis is nie, maar ook ʼn ekonomiese risiko en veiligheidsbedreiging inhou. Ramaphosa maak ʼn groot fout as hy dink hy kan dié krisis via ʼn selfoon bestuur.

“Ons het dapper en beslissende leierskap nodig, nie banaliteite nie. Die verwoestende uitwerking van beurtkrag op nywerhede, kleinhandelaars, groei en werkskepping is ʼn ooglopende bedreiging vir ons ekonomiese welstand,” het Steenhuisen gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa is in dié stadium op ‘n ampsbesoek aan Egipte. (Foto: GCIS)

Hy het ʼn beroep op die president gedoen om sy afsprake in Egipte te kanselleer en na Suid-Afrika terug te keer en leierskap in dié “selfgemaakte krisis” te verskaf.

“Ramaphosa moet die parlement toespreek en

die land in sy vertroue neem oor wat werklik by Eskom aan die gang is. Dit is ongekend dat daar in ʼn maand soos Desember, wanneer aanvraag baie laag is, enigsins beurtkrag is. Dit wek agterdog en laat die vrae ontstaan oor wat die president nié die land vertel nie.”

Hy het gesê Ramaphosa kan begin deur die minister van energie, Gwede Mantashe, in die pad te steek omdat dié kwessie oënskynlik bo sy vuurmaakplek is en hy afwesig tydens die krisis blyk te wees.

Steenhuisen het ook reeds aan die speaker van die parlement, Thandi Modise, geskryf en gevra dat parlementariërs teruggeroep word sodat die krisis bespreek kan word.

Hy sê ook ondanks Ramaphosa se stelling dat die situasie nie oornag omgekeer kan word nie, ís daar oplossings wat dadelik in werking gestel kan word. Dit sluit in toestemming aan onafhanklike kragverskaffers om elektrisiteit direk aan Eskom te verskaf. Steenhuisen sê daar lê minstens 34 aansoeke vir private opwekking en aankoop van krag op Mantashe se lessenaar. Hy sê Ramaphosa moet ingryp en verseker dat dit binne 48 uur verwerk word.

Hy het gesê die party gaan ook elke DA-geleide owerheid opdrag gee om aan Mantashe te skryf en te vra dat dit toegelaat word.

“Die DA-geleide Kaapstad moes min. Mantashe hof toe sleep om hom te dwing om ʼn besluit te neem en ons oorweeg nou die opsie om die saak na die dringende rol te skuif, gegewe die erns van die jongste verwikkelinge.”

Die DA gaan ook munisipaliteite onder sy bestuur opdrag gee om rampbestuursplanne op te stel omdat daar oënskynlik geen einde aan beurtkrag gaan wees nie. Noodsaaklike dienste, grootmaatwatervoorsiening, sanitasiedienste en klinieke moet behoorlik bestuur word, het Steenhuisen gesê.

Hy het gesê nou is die tyd vir Ramaphosa om, ná jare lange mislukkings, staatsbeheerde ondernemings reg te ruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

André-Chris ·

John Steenhuisen slaan die spyker op die kop. Om dit nog erger te maak het Cyril Ramaphosa gister in sy weeklikse nuusbrief gesê dat hy Medupi kragstasie die eerste keer twee weke gelede besoek het en hy was oorweldig oor hoe groot die kragstasie is. Daar het ons dit, die eerste keer wat hy dit besoek het na al die jare wat ons probleme het, hy het bygevoeg, ek haal aan: “a fitting symbol of the importance of our state-owned enterprises”.

André-Chris ·

Maar kom ek haal aan uit Fin24:

“Energy expert Chris Yelland notes that there are several issues with the two megaprojects, Medupi and Kusile that were initially designed as part of a series of undertakings intended to boost Eskom’s generation capacity by roughly 50%. Chief among the problems is the fact that even when the incomplete stations are running, their production levels mirror or fall short of some of Eskom’s oldest power plants, he said.”

Ons droom as ons glo dat hierdie twee kragstasies sal help om die wa deur die drif te trek.

André-Chris ·

Ek hoop Cyril kom tot die besef D-dag is ‘n oogknip ver.

daniel ·

Hoekom is beurtkrag nie van toepassing op die elite nie?. Natuurlik sal Ramaphosa nie gepla wees oor beurtkrag nie want hulle word nie geaffekteer nie.

Irma ·

En as die zuma-faksie hom doelbewys mislei om hom uit te kry, sodat hulle uit die tronk kan bly met hul hande steeds in die staatskas???? Met die korrupte klomp kaders is daar soveel moontlikhede. Dit lyk na ‘n wanhopige magspel en hulle stuit vir niks.

Gert Louw ·

Ons aanvaar die waarheid word nie vertel nie. As die geeerde DA leier praat dat die pres lieg, laat hy ons dan Vertel wat die waarheid is. Politeik beteken leuens en nogmaals leuens.

Sarel ·

En steeds word krag uitgevoer? Ten koste van ons eie ekonomie……

Kan ons redes hiervoor kry asb MM gaan groot met ‘n hoofopskrif. Kyk vir ons Zambie se invoere van krag

Werner ·

Het ni ou CR nodig om vir my te se wat ooglopend is nie ons is in ons m????????r

Anti Da ·

Die DA se liggies is ook maar flou, dis daai een Suid Afrika vir almal wat nou aan die werk is, al is dit donker en geen krag nie droom hulle steeds.

Pieter ·

Wat weet die ANC van oop kaarte speel dit is nie in hulle woorde skat nie asb

john ·

In die antieke Griekse dramas was daar altyd die koor wat in die agtergrond repliek gelewer het op die gebeure en die doen en late van die hoofkarakters, maar hulle woorde val op dowe ore buiten diè van die toeskouers wat ook magteloos toekyk. Ons beleef so ‘n tragiese drama wat nimmereindigend aanhou met Cyril en sy ANC op die verslete verhoog, die ander partye is die koor en ons, die toeskouers, wat deksels baie betaal vir ons toegangskaartjies. Ons wag op die klimaks en ontknoping maar… die ligte gaan gereeld af met geen held in sig nie.

Strandloper ·

Eskom is soos n taxi…konstant oorlaai…iewers moet iets breek…

James ·

Miskien jaag n mummy die President terug om sy werk te kom doen.

Maar ja om heeltyd pleisters te plak op n wond(eskom) gaan nie werk nie.

Elizabeth ·

Kan ons nie ‘n dringende hofbevel kry dat Mantashe kyk na die 48 aansoeke om krag op te wek en dit binne 24 uur goedkeur nie? ‘n Ongekende ramp wag op ons as Eskom finaal ingee. Ek vra myself ook af wat sal gebeur as instansies krag opwek sonder die papiere wat Mantashe nie wil gee nie? Kan ons dalk die president hof toe sleep om te verhoed dat sy kaders die land heeltemal leeg stroop van infrastruktuur wat hulle nie verstaan of kan waardeer nie?

Ben Esterhuizen ·

Hoe weet jy die ANC / CR praat ‘n onwaarheid? Hul lippe beweeg!
(Erkenning aan Judge Judy)

Boervrou ·

Raak ontslae van die wat nie hul werk kan doen nie.En vervang hul met mense wat dit kan doen.

Sonja ·

Mnr Steenhuizen, of is dit n huis van klei? Hoekom vertel jy nie die waarheid vir die publiek nie? Eskom betaal nie hul olie voorsienner nie, nou kry hulle nie meer olie om die lae graad kole aan die brand te kry nie R500 miljoen ne?

Dewald ·

Dis vir my so oulik as die DA, VF en ander partye ” n beroep op die regering doen”. So asof hulle dink iets gaan gebeur. Kinderlike geloof. Ek veronderstel hulle moet ook seker maar van tyd tot tyd iets sê.

George in Bloem. ·

Almal weet tog goed wat by Eskom aangaan maar as dit hardop gese word is jy ‘n rassis. Dis niks anders as nepotisme,korrupsie,onbevoegdheid en die lys gaan aan en aan en aan…….

Db ·

Dankie Sonja wou nou net dieselfde geskryf het. Eskom moet besef dat hulle nou met GROOT MENSE besig is en nie met die massas wat breindood is nie. Hulle kerm oor skuld wat nie betaal word nie maar verwag dat die olie verniet aan hulle gegee moet word. Hulle bly die grootste narre wat die sirkus nog ooit opgelewer het.

Leon ·

Daar loop gerugte rond dat ESKOM deur hulle nek lieg oor wat die werklike krisis is. Gerugte reken hulle het nie hulle olie rekening betaal wat olie verskaf om die subsatanddar Gupta steenkool moet aanhelp. Die kraan is blybaar toegedraai en nou kan die ketels nie meer kook nie. Die ANC kan baie lekker lieg.
Hoe weet jy waneer die ANC regering lieg. Hulle maak hulle mond oop.

SjN ·

Terwyl CR in Egipte was moes hy sommer gaan kyk het hoe die Nyl rivier gebruik word om krag op te wek en geen beurtkrag het nie.

ryan ·

Het julle geweet, dit was cyril se taak om eskom reg te ruk toe hy jz se adjunk was, maar hy het vir die eerste keer twee weke gelede die Medupi kragstasie besoek..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.