‘President moet verslag oor Digital Vibes beskikbaar stel’

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

AfriForum het vandag ’n aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) beteken op pres. Cyril Ramaphosa om die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, se betrokkenheid by die Digital Vibes-korrupsieskandaal te kry.

Volgens Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is die tydsverloop van bykans drie weke sedert die SOE sy verslag van bevindings aan pres. Ramaphosa oorhandig het, sonder dat hy ’n aankondiging oor die inhoud daarvan maak, onaanvaarbaar. “President Ramaphosa se gebrek aan dringendheid om oop kaarte met die Suid-Afrikaanse publiek te speel, lei tot verdere verlies aan vertroue in die regering,” sê Kruger.

“Waarnemende minister in die presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, se onlangse bevestiging dat die verslag nié binnekort bekendgestel gaan word nie aangesien die land in ’n veiligheidskrisis verkeer, is heeltemal onaanvaarbaar. President Ramaphosa het die verslag reeds twee weke voor die onluste gehad en moes toe al op die inhoud daarvan reageer het. Ons is in ’n onsekere tyd. Mkhize is op spesiale verlof geplaas, met volle voordele. Die president is dit aan die belastingbetaler verskuldig om te sê wat die verslag bevind het.”

Kruger bevestig dat AfriForum die tydperk en meganismes wat Paia voorskryf nougeset sal volg en dat die organisasie gereed is om selfs ’n hooggeregshofaansoek van stapel te stuur om die SOE-verslag te bekom. “Ons sal beslis die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria nader om ’n bevel te verkry dat die verslag bekendgemaak moet word. Die belang van die spoedige en die deursigtige hantering van die verslag en kragdadige optrede na gelang van die inhoud daarvan is op hierdie punt in Suid-Afrika se onlangse geskiedenis geweldig belangrik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Casper ·

Wat word in die verslag saamgevat dat dit nie openbaar gemaak kan word nie.

Persheks Adri ·

Glad nie ‘n geldige verskoning nie. Ek dink hulle is weer besig met ons “cover” jou en dink gou verskonings uit. Nee Cyril ons vertrou julle in elk geval met net mooi niks nie!!!

Pietertjie ·

Die belastingbetaler se belange beteken niks vir die regerende party nie. Hy moet net betaal en stilbly.

Prikkie ·

Kom Cyril, sê vir jou “My dear fellow South Africans” wat in daardie verslag staan wat dit so belangrik maak om geheim gehou te word.

Casper ·

As Ace geskors kan word hoekom word Mkhize op verpligte verlof geplaas of is hy tegnies geskors.Wat van strafregtelike klagtes teen Mkhize sodat dit ondersoek kan word.Ek kry die idee dat Rampie die regstelsel tot sy voordeel gebruik ten koste van gergtigheid.Hoekom beskerm Rampie sekere individue.Weet hulle te veel van geraamtes in sy kas.

Kokerboom ·

Dis nogal irones dat die burgers van ‘n sogenaamde demokraties verkose regering altyd hul tot die howe moet wend om antwoorde af te dwing oor sake wat hul voortbestaan raak? Hoe demokraties is dit? Dis so die gevoel dat die demokraties verkose heersers alles in hul vermoeë doen om die lewe vir landsburgers so onaangenaam as mootlik te probeer maak!!!

Nico ·

Hoekom is Mkize op spesiale verlof geplaas met verdele en volle salaris.

Jack ·

Shabir en mkezi speel seker nou saam gholf want hy is mos met betaalde verlof en het genoeg tyd vir nog skelmstreke. Die verslag sal waarskynlik soos ramaphosa se verkiesingsgeld verslag ook deur die hof as persoonlik beskou word en nie in publieke belang nie. Hier is iewers weer iets wat na rot ruik en sou die verslag uitkom sal dit n afgewaterde ding wees. Sit maar jou geld daarop. Al hierdie sake waar die pres betrokke is bevorder nie sy geloofwaardigheid nie. Sy punte raak nou naby 0.

SjN ·

Dit gaan so as kader aanstellings nie die pyp kan rook nie, beskerm mekaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.