President se aansoek teen OB vandag aangehoor

Pres. Cyril Ramaphosa en Openbare Beskermer Busisiwe Mkhwebane sê mekaar Donderdag die stryd in die hof aan.

Dit is Donderdag die Openbare Beskermer (OB) teen die president.

Pres. Cyril Ramaphosa se dringende aansoek teen adv. Busisiwe Mkhwebane om die inwerkingstelling van remediërende optrede teen hom te laat opskort, word in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor.

Mkhwebane het ná ʼn ondersoek bevind Ramaphosa het die parlement doelbewus mislei oor ʼn skenking van korrupsiebeskuldigde Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa (deesdae African Global Operations). Die skenking is gedoen aan Ramaphosa se veldtog om president van die ANC te word. Mkhwebane het ook bevind die president het die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree.

Ramaphosa het vroeër gesê hoewel hy Mkhwebane se bevindinge in ʼn ernstige lig beskou, is dit egter “fundamenteel en onherroeplik gebrekkig”. Sy regspan stem saam.

Die aansoek sou aanvanklik Dinsdag aangehoor word, maar is uitgestel nadat ʼn regter nie daaraan toegewys is nie.

Die OB het onlangs in ʼn hele paar hofuitsprake bloedneus gekry.

Die hooggeregshof het verlede week haar remediërende optrede teen die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, ter syde gestel hangende ʼn hersieningsproses.

Die uitspraak het gevolg kort op die hakke van dié van die Konstitusionele Hof, wat bevind het dat Mkhwebane persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir ʼn gedeelte van die regskoste in die hofstryd tussen haar en die Reserwebank.

Mkhwebane het vandeesweek ook uitgevaar teen ʼn verslag wat deur die Organised Crime and Corruption Reporting Project (OCCRP) vrygestel is. Daarin wys die internasionale bankreus HSBC haar uit as dat sy “finansiële bande met die berugte Gupta-familie” het.

Haar woordvoerder, Oupa Segalwe, het gesê die OB “verwerp die bewerings met minagting”.

Mkhwebane se kop word die afgelope twee weke uit verskeie oorde geëis en parlementslede sal haar geskiktheid vir haar amp volgende maand oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willie ·

Erken tog net die Bossa geldjie…. ANC kaders maar een en dieselfde…

ne ·

Die Zuptas kan haar mos maar verder onderhou. Paaiemente in “soft cash”

John ·

Die OB behoort onder die NVG te sorteer en bloot sake aanmeld wat ondersoek kan word. Die twee groepe oorvleuel. Om as ‘n super-regter te regeer en bloot aan te kla en opdragte te gee, klink na ‘n antieke boshof, waar ‘n arme siel skuldig bevind word sonder ‘n hofsaak en indien die persoon enigsins homself wil verweer staan hy alleen teen die staat met groot geld vir goeie advokate. Die huidige OB het gelukkig te staan gekom teen die staat self anders was daar groot ongelykheid. Die OB is ‘n onnodige uitspattige amptenary wat groot geld mors.

Msp ·

Volgensons Agbare Meneer Lekota het ramaposa nie net die minderheidsgroepe in Suid Afrika verraai nie maar ook sy eie mense onder die vleul van die sogenaamde ou Suid Afrika toe hy soos gladdeseep heen en weer beweeg het waar hy homself bevoordeel en hom alleen verryk het. Ek myself het nie veel tyd vir die OB nie maar dit sal ń goeie ding wees as sy bietjie sy leuns in die openbaar bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.