Presidentebeker: Amerikaners verydel Ernie Els se droom

Ernie Els en Tiger Woods. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Dit was ʼn bitter pil vir die Internasionale gholfspan om te sluk toe die Amerikaner Matt Kuchar Sondag op Royal Melbourne seker gemaak het dat sy span die Presidentebeker behou.

Vir langer as drie dae het die internasionale span voorgeloop, maar toe dit werklik saak gemaak het, het die ervaring en kalmte van die Amerikaners ses van die laaste dag se 12 enkelspelwedstryde gewen en die internasionale span net twee (vier wedstryde is gehalveer) om met 16 – 14 te seëvier.

Dit was die 11de keer dat die Amerikaners die goue trofee kon lig en Tiger Woods (43) het die jongste kaptein geword wat sy span op die wenpad kon hou.

Waar die internasionale span se besielende kaptein, Ernie Els, vir langer as drie dae die hef in die hande gehad het toe die internasionale span Saterdagaand nog met 10 – 8 ná die beurtspelle voorgeloop het, het die sprokiesverhaal geëindig namate die dag gevorder het.

Els se groot kanonne, Louis Oosthuizen, Adam Scott, Marc Leishman en Hideki Matsuyama kon nie een hul enkelspelwedstryde wen nie.

Ernie Els. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Woods het dié slag die meesterplan gehad, want hy het eerste afgeslaan en die voorbeeld gestel toe hy die jong Mexikaan Abraham Ancer met 3 en 2 getroef het.

Die grondslag was gelê en die skaal het ewe skielik in die Amerikaners se guns geswaai, veral toe Patrick Reed en Dustin Johnson met groot oorwinnings daarop voortgebou het.

In die tweede laaste wedstryd het Kuchar die finale slag toegedien toe hy op die 17de putjie sy neus voor Suid-Afrika se Oosthuizen gekry het nadat hy lank agter was.

Die Amerikaners kon toe nie meer verloor nie, die beker was veilig en vir die eerste keer het hul emosies oorgeborrel.

Dit was ʼn bittere teleurstelling vir Els, want hy het maande lank, net soos die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, die Springbokke se Wêreldbekertriomf beplan het, ook sy planne agtermekaar gehad.

Byeong Hun An van Suid-Korea. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Ernie Els. Foto: (AP Photo/Andy Brownbill)

Maar Sondag kon net die onbesonge Sungjae Im en Cameron Smith hul enkelspelwedstryde wen.

Om dit in perspektief te plaas: Die Amerikaners se gemiddelde ranglysposie is 12.2 teenoor die meer as 40 van die internasionale span. Vyf van hul spanlede is tussen die wêreld se top‑10.

Ervaring kan nie gekoop word nie en toe die adrenalien en emosie opgedroog het, het die Amerikaners oorgeneem.

Nietemin is daar nuwe lewe in die Presidentebeker geblaas.

Daar was duisende toeskouers op Royal Melbourne; miljoene kykers reg oor die wêreld het vir vier dae vasgenael voor hul TV-stelle gesit.

Nuwe helde het na vore getree, maar soos hulle in sport sê: gawe ouens kom tweede.

* Sondag se enkelspelwedstryde (internasionale span eerste genoem): Abraham Ancer verloor teen Tiger Woods met 3 en 2; Hideki Matsuyama halveer met Tony Finau; CT Pan verloor met 4 en 2 teen Patrick Reed; Li Haotong verloor met 4 en 3 teen Dustin Johnson; Adam Hadin halveer met Bryson DeChambeau; Sungjae Im klop Gary Woodland met 4 en 3; Joaquin Niemann verloor met 3 en 2 teen Patrick Cantlay; Adam Scott verloor met 2 en 1 teen Xander Schauffele; An Byeong-hun verloor met 2 en 1 teen Webb Simpson; Cameron Smith klop Justin Thomas met 2 en 1; Louis Oosthuizen halveer met Matt Kuchar; Marc Leishman halveer met Rickie Fowler.

Amerika 16, internasionale span 14.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scalla ·

Woods mag sy lede boys noem, as ek my werkers so noem is dit rassisties.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.