Pretoria-adjunkhoof, dogter sterf in motorongeluk

Louwrense Badenhorst (53), adjunkhoof van Laerskool Tuinrand, en sy dogter Michelle is Vrydagoggend in ʼn motorongeluk dood (Foto: Facebook)

Die gemeenskap van Hercules in Pretoria is in rou gedompel nadat Louwrense Badenhorst (53), adjunkhoof van Laerskool Tuinrand, en sy dogter Michelle Vrydagoggend in ʼn motorongeluk dood is.

Die pa en dogter was vroeg die oggend na die Zuid-Afrikaans-hospitaal in Muckleneuk op pad nadat Michelle skielik begin siek voel het. ʼn Voertuig het oomblikke later teen ʼn hoë spoed in die Badenhorsts se voertuig vasgery en die pa en dogter is op slag dood.

Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder by AfriForum en ʼn goeie vriend van Louwrense, het die tragiese nuus aan Maroela Media bevestig.

“Daar is min mense wat sulke diep spore in die gemeenskap kon trap soos wat Louwrense het. Ons harte is ongelooflik seer,” het Kelder emosioneel gesê.

“Ek weet hy sal in die harte en lewens van talle kinders voortleef.”

Laerskool Tuinrand het ook Vrydagaand die nuus aan ouers in ʼn plasing op Facebook aangekondig.

“Dit is met groot hartseer dat ons u moet meedeel dat ons adjunkhoof en sy dogter skielik in ʼn ongeluk van ons weggeruk is.

“Die skool spreek sy diepe medelye uit teenoor sy vrou, kinders en familie.

“Laerskool Tuinrand se harte is stukkend.”

Talle blyke van medelye stroom sedertdien in.

Cherise van Niekerk skryf in ʼn plasing op Facebook dat die adjunkhoof haar lewe verander het en dat Michelle se groot glimlag onvergeetlik sal bly.

“Vandag het die Here twee engele bygekry, maar dit is vir my swaar om te groet en totsiens te sê…

“Dankie vir die verskil wat julle in my lewe gemaak het. Rus sag, ek sal julle nooit vergeet nie.”

Zilandia Wilke, sê in ʼn plasing op Facebook haar hart is in stukke oor die pa en dogter.

“Ek het nie woorde om die seer te kan beskryf nie.

“Louw was ʼn wonderlike man, pa, swaer en broer asook ʼn wonderlike seun vir sy ouers.

“Michelle was ʼn pragtige mens van binne en buite en het die mooiste oë en glimlag gehad. Ons gaan julle mis.”

My heart is absolutely broken!! The salt of the earth… Rest in peace Louw and MichelleIt will take me a long time to get over this one

Posted by Abrie du Plooy on Friday, May 3, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.