Pretoria-ampswoning dán onder hamer

Die voormalige burgemeesterswoning in Muckleneuk in Pretoria. Foto: DA

Die amptelike ampswoning van Pretoria se burgemeester gaan binnekort opgeveil word.

Die DA-beheerde administrasie, onder leiding van burgemeester Solly Msimanga, het op 28 September vanjaar tydens ʼn raadsvergadering ten gunste daarvan gestem om die burgemeesterswoning in Muckleneuk te verkoop en die geld te gebruik om basiese munisipale dienste te verbeter en meer huise vir armes te bou.

Samkelo Mgobozi, Msimanga se woordvoerder, het Dinsdag gesê die burgemeesterswoning se veiling gaan Donderdag deur The High Street Auctions Co waargeneem word.

Die veiling vind om 12:00 by Summer Place in Melvilleweg 69 in Hydepark, Johannesburg, plaas.

Nadat die DA verlede jaar beheer van die metro oorgeneem het, het die nuwe administrasie met gesprekke begin om die huis te verkoop. Volgens die DA het die mees onlangse waardasie van die eiendom aangedui dat die huis vir ʼn minimum van R5 miljoen verkoop kan word.

Dit is ten spyte daarvan dat die vorige ANC-administrasie R12 miljoen bestee het om die huis op te knap. “Ondanks die buitensporige bedrag wat gebruik is om die eiendom op te knap, het waardeerders gebreke aan die eiendom ontdek, waaronder oppervlakkige krake aan die binne- en buitemure en duidelike bewyse dat die geld wat veronderstel was om die huis te verbeter eerder na ʼn paar mense se sakke gegaan het,” het die DA destyds in ʼn verklaring gesê.

Die huis, in St Patricksweg 135, spog met vyf slaapkamers met twee en suite-badkamers, nog twee aparte volbadkamers, twee aparte gastetoilette, ʼn ingangsportaal, eetkamer, sitkamer, woonkamer, gesinsvertrek, ʼn ten volle toegeruste kombuis met ʼn opwaskamer en spens. Daar is ook ʼn studeerkamer op die grondverdieping en twee buitekamers vir personeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Engela ·

Ek kan net weer eens sê, mooi so en baie dankie Solly Msimanga!

Nicolene ·

Waarom het die burgemesters ampswonings nodig?? My pa was vir jare lank die burgemeester van die dorp waar ons groot geword het, Ons het nogsteeds in ons huis gebly, hy en my ma het nogsteeds hul eie karre gery buiten vir die kere wat die ampsmotor en sy bestuurder hul na funksies moes neem) en my pa het nogsteeds sy eie inkomste verdien omdat hy n minimale salaris verdien het. Vandat die ANC in bewind gekom het gaan dit oor wat kan mense in ampte vir hul self toe eien van buitensporige salarisse, oorsese vakansies, amps motors en amps wonings. Gin wonder die munisipaliteite is in sulke finansiele gemors nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.