Pretoria-boekhouer gaan sit oor miljoene se bedrog

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Dianne de Beer (49) is in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Pretoria 10 jaar tronkstraf opgelê op 44 aanklagte van bedrog ter waarde van R2,5 miljoen.

De Beer was van 2015 ʼn boekhouer by Servopak Suppliers. Sy het in 2016, ʼn jaar ná haar indiensneming, met die verduistering begin, sê Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

Haar pligte was onder andere om verskaffers se fakture in te voer en betalings op die aanlyn bankstelsel te laai.

“Sy het die misdade van September 2016 tot Oktober 2019 gepleeg. Sy het 44 betalings, wat vir verskaffers bedoel was, na haar eie persoonlike bankrekening oorbetaal. Met die opbrengs uit die misdaad het sy twee motors gekoop – ʼn BMW vir haarself en ʼn Mini Cooper vir haar dogter. Die res van die geld is spandeer aan haar dogter se vakansie in Bali, vermaak en klere en kruideniersware.”

Sy is uiteindelik uitgevang toe die verskaffers hul betalings begin eis het.

“Ná ʼn interne ondersoek deur die maatskappy is sy by die polisie aangemeld en gewaarsku om in die hof te verskyn. Sy het skuld beken op alle aanklagte en het aan die hof gesê sy het berou vir haar optrede.” Sy het ʼn vonnis versoek wat nie tronkstraf insluit nie.

Mahanjana sê die landdros het egter bevind dat De Beer waarskynlik slegs skuld beken het weens die staat se sterk saak teen haar en dat sy geen verdediging kon aanbied vir die aanklagte nie.

Ter verswaring van vonnisoplegging het die staatsaanklaer die hof versoek om tronkstraf op te lê, aangesien De Beer ernstige oortredings begaan het. Sy het oor ʼn tydperk van drie jaar gemiddeld R72 000 per maand gesteel. “Sy is dus gemotiveer deur hebsug, aangesien sy in die tyd van die oortredings in diens geneem was.”

Die landdros het met die staat saamgestem dat De Beer geen agting vir haar werkgewer gehad het nie. Sy het haar kennis van die maatskappy gebruik om te steel. Sy het nie opgehou omdat haar gewete haar aangekla het nie, maar omdat sy uitgevang is. “Hy het dus bevind dat tronkstraf die enigste gepaste vonnis sal wees.”

Die BMW 3-reeks wat sy gekoop het sal op ʼn veiling verkoop word nadat die Batebeslagleggingseenheid van die NVG ʼn bewaringsbevel van R70 000 bekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Owlie ·

Skandelik om te vat wat nie aan jou behoort nie.
Kan dieselfde regspan asseblief met al die regering/phala phala/zuma, eskom, mti en vele ander bedrog, diefstal, korrupsie begin – die landros sal fantastiese vonnis opleggings hier doen.
Daar is n gesegde wat sê what’s good for the goose is good for the gander…..

Realis Thailand ·

Ek het al voorheen erens geskryf dat die anc “The untouchables ” is

Hannes ·

Dit wat sy gedoen het dra nie my goedkeuring nie, maar moordenaars sit net 5 jaar AS hulle gevang word. En dan is daar ons dierbare regering en hulle kaders wat R2.5 miljoen ‘n dag steel, en hulle kry ‘n bevordering.

Kompas ·

Net jammer dat sekere mense aan die pen ry en nie al die kaders wat al miljoene rande ingepalm het nie.

Lillian ·

En as boekhouer het sy seer sekerlik nie ‘n power salaris verdien nie.

Danie ·

Daar geen verskoning vir die misdaad nie.Geld gierig en weelde het sy nie enige brein selle gehad om aan die gevolge te dink nie.Kry vir jou.

Watsenaam ·

Nee te lank, sy volg net die voorbeeld wat die regering stel en behoort net so n twee maande in die tronk en as beloning n pos in die kabinet.

Amelia ·

Verkoop al haar bates Dis hoekom hul so steeel als word nie verkoop nie laat sy en dogtr maar net met klere aan hul lywe oor he

Eugene ·

Wat van JZM. Hy loop vry rond. Wat Hy gedoen het, is niks.

annie ·

Dit is tog interessant dat ‘n Afrikaner wat ‘n misdaad pleeg dadelik verhoor word en gou gestraf word. Sou die doodstraf nog hier geld was haar dae verby al was dit in vergeleke met ander rasse se diefstal ‘n druppel in die emmer. Blykbaar word jy nie in Afrika gerespekteer en oorgesien as jy nie groot gaps nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.