Nico (53) en Karin (51) Jordaan, ʼn egpaar van Pretoria wat Maandag op pad na Botswana spoorloos verdwyn het, is gevind.
Esperanza Roeloffze, die Jordaan-egpaar se dogter, het Vrydagoggend aan Maroela Media bevestig dat haar oom die egpaar in Botswana opgespoor het. Roeloffze wou nie uitbrei oor hoe haar ouers gevind is of wat presies skeefgeloop het dat hulle vermis geraak het nie, maar sy het wel gesê hulle is ongedeerd.
Sy het gesê sy is nog nie weer met haar ouers herenig nie, maar behoort hulle oor die naweek weer te sien.
Maroela Media het vroeër berig Roeloffze en haar suster, Niki-lee, was rasend van bekommernis nadat Nico en Karin Maandagmiddag op pad na Botswana vermis geraak het. Roeloffze het vroeër gesê Nico werk in Botswana en Karin reis gereeld saam met hom soontoe.
Hulle het Maandagmiddag weer vanaf Pretoria na Botswana gery, maar nadat Niki-lee omstreeks 12:50 met hulle gepraat het, kon niemand hulle weer in die hande kry nie. Roeloffze het gesê daar was geen teken van die egpaar by die grens nie en Suid-Afrikaanse beamptes op die grens het gesê hulle mag nie aan die familie inligting verskaf nie.
ʼn Vermistepersoonsaak is by die Pretoria-Noord-polisiestasie aanhangig gemaak en ʼn volskaalse soektog na die egpaar is van stapel gestuur.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Net dankbaar hul is ongedeerd gevind en veilig.
Dalk het hulle besluit om n knerts te vat en toe verdwaal dit het in my studente jare nogal baie gebeur???
dan is dit ook enige publisiteit is goeie publisiteit ne. sulke mense moet self aanspreeklik gehou word vir hulle verdwyning. epos, SMS, whatsapp boodskap vat nie soveel tyd nie.
Daars talle van hierdie berigte: iemand verdwyn en sy/haar familie is histeries en vra hulp en gebede orals. dan word die vermiste persoon gevind en skielik is daar net stilte oor hoekom was daar oorspronklik ‘n verdwyning, hoe is die persoon toe weer gevind en wat het toe daarna gebeur. Ek stem saam met vorige kommentaar wat, vreemd genoeg, afgehaal is: mense wat so uit hulle eie uit verdwyn behoort beboet te word.
Dit is wat gebeur as jy jou selfoon se charger by die huis vergeet.