Pretoria FM in hernieude stryd oor uitsaairegte

(Foto: Verskaf)

Die radiostasie Pretoria FM is in ʼn hernieude stryd om sy uitsaairegte gewikkel.

Die mediareus Primedia het Pretoria FM by die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) verkla omdat hy ook uitsendings na sy filiaalstasies doen – iets wat hy byna 30 jaar lank reeds doen.

Pretoria FM het in 2010, 17 jaar ná die radiostasie op die been gebring is, die eerste keer ʼn vyf jaar lange gemeenskap-uitsaailisensie vir die groter Pretoria-streek gekry. In 2015 het hy ook die eerste keer lisensies vir sy filiaalstasies, Radio Wolkberg, Radio Kransberg, Radio Ysterberg, Radio Tafelkop, Radio Dagbreek, Radio Naboom en Radio Magaliesberg, ontvang en in dieselfde jaar is dié dienste onder die vaandel Pretoria FM saamgesnoer.

Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, sê Primedia, wat onder meer die radiostasies Highveld, 702, Cape Talk en KFM in sy stal het, se beswaar is dat Pretoria FM in die proses onregverdig meeding met dié multimiljoenrandse kommersiële diensverskaffer.

Primedia voer aan dit is ʼn oortreding van uitsaairegulasies en vra Okosa om Pretoria FM te beveel om die uitsendings te staak.

“Spreekwoordelik het Goliat weer vir Dawid uitgedaag en Dawid sal moet veg.”

Spies sê ʼn spesiale klagtetribunaal van Okosa, onder voorsitterskap van ʼn afgetrede regter, sal die saak op 23 September aanhoor.

“Pretoria FM moet dus weereens – soos ons die afgelope 28 jaar gewoond geraak het – ons regte voor ʼn regter verdedig ná ʼn klagte deur ʼn magtige kommersiële mediamaatskappy,” sê hy.

Die radiostasie moes hom in sy 28 jaar lange bestaan reeds verskeie kere tot die hof wend om te verseker dat sy stem oor die klankgolwe nie stilgemaak word nie.

Spies sê die radiostasie moes sedert sy ontstaan ook voortdurend stry vir sy reg om ʼn Afrikaanse stem vir sy kultuurgemeenskap te wees.

“In dié opsig het Pretoria FM sekerlik rekords oortref. Ons weet van geen ander radiostasie wat agt keer hof toe moes gaan om sy uitsaairegte te beskerm nie. Sukses in ʼn kritieke stadium voor die regte hof het telkens die deurslag gegee.”

Spies sê soos vantevore sal die radiostasie nie oorgee nie, maar vir sy regte op elke moontlike platform veg – tot hy wen.

“Ons gaan die beste regspan moontlik bymekaar kry en ons gaan ons reg verdedig om Afrikaanse radio vir Afrikanermense aan die gang te hou en sterker te maak.”

Spies sê Pretoria FM se luisteraarstal groei deurlopend en die stasie gaan van krag tot krag.

“Terwyl die staatsbeheerde SABC agteruitgaan en mense moes aflê, kon die gemeenskapsgedrewe Pretoria FM groei, want ons word aan die gang gehou deur die ysterwil van ons mense.

“Ons glo inderdaad dat gemeenskapskrag die deurslag kan gee wanneer die staat deur korrupsie en agteruitgang verkrummel,” sê Spies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swerwer ·

Wat maak dit saak hoe ryk die PRIMEDIA is, geld kan nie geluk koop nie. Dit is nou tipies jaloesie. Primedia jy het mos jou stasies en jy het jou luisteraars, so basta, los Pretoria FM en Radio Wolkberg, Radio Kransberg, Radio Ysterberg, Radio Tafelkop, Radio Dagbreek, Radio Naboom en Radio Magaliesberg uit. Hierdie stasies spreek ons taal ons stel nie belang in jou, Highveld, 702, Cape Talk en KFM, nie

Willem ·

Lyk my Primedia probeer net soos die regering (hulle is seker deel van die regering) om Afrikaans en die Afrikaner te onderdruk. Hulle sal dit nie reg kry nie. Ons sal dit nie toelaat nie. Sterk staan Pretoria FM. Ons is met julle.

Anel ·

Ek kan regtig nie sien wat die probleem met Pretoria FM is nie. Al die swart tale het hul eie uitsendings. Daar is meer as genoeg engelse stasies. Hoekom mag ons nie ‘n eie stadie hê nie? Dis in elke geval al wat ons luister. Ons taal en ons kultuur. Die ander is so in die anc se onderstelle om nie eens van RSG te praat nie. Dat so ‘n klein radiostasie nou so ‘n groot reus bang maak! Dis eintlik lagwekkend.

Hardekwas ·

Niemand luister na primedia se gemors nie. Die paar liberales wat na hulle luister is geen kompetisie nie en Radio Pretoria stel ook nie in hulle belang nie. Suur druiwe oor die sukses wat behaal is deur Radio Pretoria.

Barney ·

Die SABC anc kommuniste en die Prime Media Tjienese kommuniste moet net VOETSEK en hulle propoganda druk waar die son nie skyn nie.

KB ·

Primedia is kleinlik.
Gun die luisteraars hul eie keuse.
Daar is baie “Afrikaanse” radiostasies wat eintlik Anglo-saksiese spreekbuise vir die (en van die) ANC-regering is. Vir hulle is ons al keelvol (en dit het nou al gesak tot op heuphoogte).

Henk ·

Ons wil nie na PRIMEDIA se gemors luister nie, hulle wil ons reg om na Afrikaans te luister wegneem maar ons kommersiele waarde is belangrikvir hulle begrotings…..lagwekkend….regtig PRIMEMEDIA – lyk my julle resep en manier van aanbieding werk nie!!

Chuck ·

Op watter frekwensies kan ons (op die Oos-Rand) hierdie stasie / s opvang? Laat ons hierdie mense kan ondersteun! Ek is keelvol, gatvol en tot die uiterste frustreerd met die andergenoemde opposisie stasies, RSG ingesluit!

Anel ·

Jy kan Pretoria FM om Dstv kanaal 887 luister. Ons in Pretoria ontvang Pretoria FM op radio op 104.25. In daai omgewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.