Pretoria FM wen saak oor uitsaairegte

Pretoria-FM-01

Willie Spies (Foto: Reint Dykema)

Die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) het Dinsdag in die guns van die radiostasie Pretoria FM beslis in ʼn hernieude stryd om sy uitsaairegte.

Die mediareus Primedia het Pretoria FM by Okosa verkla omdat hy ook uitsendings na sy filiaalstasies doen – iets wat hy byna 30 jaar lank reeds doen.

ʼn Spesiale klagtetribunaal van Okosa, onder leiding van die voorsitter regter Thokozile Masipa, sê die klagte teen Pretoria FM het nie geslaag nie.

Pretoria FM het in 2010, 17 jaar ná die radiostasie op die been gebring is, die eerste keer ʼn vyf jaar lange gemeenskap-uitsaailisensie vir die groter Pretoria-streek gekry. In 2015 het hy ook die eerste keer lisensies vir sy filiaalstasies, Radio Wolkberg, Radio Kransberg, Radio Ysterberg, Radio Tafelkop, Radio Dagbreek, Radio Naboom en Radio Magaliesberg, ontvang en in dieselfde jaar is dié dienste onder die vaandel Pretoria FM saamgesnoer.

Willie Spies, uitvoerende voorsitter van Pretoria FM, het vroeër gesê Primedia, wat onder meer die radiostasies Highveld, 702, Cape Talk en KFM in sy stal het, se beswaar is dat Pretoria FM in die proses onregverdig meeding met dié multimiljoenrandse kommersiële diensverskaffer.

Primedia het aangevoer dit is ʼn oortreding van uitsaairegulasies en het Okosa versoek om Pretoria FM te beveel om die uitsendings te staak.

Die radiostasie moes hom in sy 28 jaar lange bestaan reeds verskeie kere tot die hof wend om te verseker dat sy stem oor die klankgolwe nie stilgemaak word nie.

Spies het bygevoeg die radiostasie moes sedert sy ontstaan ook voortdurend stry vir sy reg om ʼn Afrikaanse stem vir sy kultuurgemeenskap te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre ·

Die multimiljoen industrië wil ook alles beheer met geen kompetisie nie.

fransdutoit3 ·

Wonderlike nuus.. Selfs hier in Simonstad is dit al radiostasie waarna ek luister..

Vexed ·

Ek bly in Kaapstad maar Pretoria FM is my gunsteling radio stasie.

Phillip ·

Ek luisternet Radio Pretoria van sy heeleerste uitsending se begin af het ek na hulle geluister dit moes van n plaas af gewees het . Die staad het radio Pretoria stil gemaak en hulle het weer opgestaan . En ek sal na geen ander stasie luister nie
Phillip Jessen

Ruby ·

Haai sies Primedia, moenie so vraatsig wees nie!

Julle moet bietjie huiswerk doen en uitvind hoekom mense julle los, ek luister laaankal nie meer na julle…juk!

Sterling ·

Knap gedaan! Staan op, staan sterk!

Elke oorwinning is nog ‘n kerf op die stok van ons bestaansreg

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.