Pretoria-geboue weer oop wat onwettig gesluit is

Argieffoto (Foto: Shutterbug75/Pixabay)

Die departement van openbare werke en infrastruktuur het Maandag bevestig dat onderhandelings tussen die departement en die verhuurder in Pretoria suksesvol verloop het en dat alle geboue, wat verlede week onwettig gesluit is, weer oopgemaak is.

Die geboue betrokke is die nasionale tesourie, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die departement van water en sanitasie, die departement van hoër onderwys en opleiding, die departement van justisie en die departement van verdediging.

Thami Mchunu, woordvoerder van die departement van openbare werke, sê die sluiting van die geboue was onwettig en sy departement ondersoek regstappe teen die verhuurder.

“As deel van die departement se verhuring-skoonmaak-operasie wat vroeg in 2019 van stapel gestuur is, is meer as 10 000 huidige en geskiedkundige huurooreenkomste vasgelê. Die hersiening van 98,5% van dié ooreenkomste is afgehandel en die program het bepaal dat daar, in ʼn paar gevalle, onder- en oorbetalings was.”

Mchunu sê dit is belangrik om kennis te neem dat dié foute in ʼn minderheid van die gevalle aangemeld is. “In ʼn hersiening van meer as 2 000 huidige aktiewe huurooreenkomste, byvoorbeeld, was 96,7% korrek betaal; vir 2% is daar te min betaal en slegs vir 1% is daar te veel betaal.”

Waar oorbesteding ontdek is, is die departement besig met ʼn proses om dié geld weer in te win.

“Byna alle verhuurders werk saam met die departement in dié verband. Daar is kennis gegee aan die betrokke verhuurders dat die departement die geskiedkundige oorbetalings sal gebruik om die geld in te win. Ons is steeds in gesprek met verhuurders waar daar ʼn dispuut is oor betaling, sodat ons ʼn oplossing kan kry.”

As deel van die hersieningsproses het die departement ook seker gemaak dat hy per vierkante meter betaal en dié koste is vergelyk met markverwante pryse.

“Die proses, wat in die Rode-verslag uiteengesit is, is nasionaal onderneem, maar met ʼn spesifieke fokus op Pretoria.”

Die departement het verlede jaar ʼn rits vergaderings belê met verhuurders om te onderhandel vir laer huurkoste, in lyn met huidige bedryfstandaarde. “Die departement het in Desember 2021 ʼn ooreenkoms bereik oor nuwe pryse met meeste verhuurders en huurooreenkomste is onderteken. Ná ʼn kennisgewing deur die departement het die betaling van maand-tot-maand (vervalde) verhurings aan die begin van 2022 tot ʼn einde gekom.”

Mchunu sê die betrokke verhuurder in Pretoria, wat nie die laer markverwante huurooreenkoms wou aanvaar nie, is geraak deur die kennisgewing oor maand-tot-maand betalings. “Ons het 17 huurooreenkomste met dié verhuurder. Van die 17 huurooreenkomste is nege op ʼn maand-tot-maand basis en agt is nog binne die goedgekeurde verhuringsperiode. Die departement is steeds in gesprek met die verhuurder om sy koste te verminder en langertermyn-ooreenkomste te onderteken vir die maand-tot-maand ooreenkomste. Ons het in hierdie stadium nog nie ʼn ooreenkoms nie, omdat die verhuurder duurder huur vra as dit wat as aanvaarbaar aangedui is in die Rode-verslag. Die Rode-verslag word gebruik om regverdige en redelike koerse te bepaal.”

Volgens Mchunu was het die verhuurder onwettig opgetree toe hy die geboue gesluit het. “Die departement neem regstappe om seker te maak dat ons departemente nie weer onderwerp word aan dié tipe onwettige gedrag in die toekoms nie.”

Onderhandelings met die verhuurder het gelei dat die geboue weer oopgesluit is en die departemente kon weer hul intrek neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanEtz ·

As dit my eiendom was, en die regering betaal my nie, of het lang stories – sou ek hulle langal uitgesit het – hofbevel of nie!!!
KORRUPSIE WORD TE MAKLIK GEDULD

capie ·

Ha ha ha. ” onwettig gesluit” . Moeder Rusland se manier van praat.

christo ·

Ek wonder of Patricia de Lille ooit gedink het dat die ministerspos op ‘n ANC skinkbord, glad nie is waarvoor sy dink sy haar inlaat nie. Sy moet onthou sy het nog heelwat vyande in die ANC , veral na die bekendmaking van die wapenskandaal nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.