Pretoria-inwoners skop vas teen beoogde prospektering

Die omgewing naby Doornpoort, Pretoria, waar ‘n mynhuis wil prospekteer. (Foto: Google Maps)

Inwoners van Doornpoort in die noorde van Pretoria sê wéér ʼn mynmaatskappy die stryd aan wat ʼn klipgooi van hulle woonbuurt wil prospekteer vir minerale.

Martin Barnard, ʼn inwoner van Doornpoort en voormalige voorsitter van die Doornpoort-inwonersvereniging, het aan Maroela Media gesê Gemsbok Magnetite het onlangs ʼn kennisgewing by plaas 295-JR opgesit waarmee hy sy voorneme om te prospekteer, te kenne gee. ʼn Inwoner het dit toevallig raakgesien en onder Barnard se aandag gebring.

Die betrokke plaas grens aan die N4-snelweg en is naby onder meer die Wonderboom-lughawe, die Montana-hospitaal, verskeie aftreeoorde en die Bon Accord-dam. Slegs die snelweg skei die grond van die Doornpoort-woonbuurt.

Gemsbok Magnetite is klaarblyklik ʼn filiaal van Sable Metals en dis nie die eerste keer dat inwoners van Doornpoort met dié mynhuis koppe stamp nie.

Inwoners het in 2013 ook ten sterkste beswaar gemaak toe Sable Platinum aansoek gedoen het om te prospekteer vir vanadium, mangaan en yster, het Barnard gesê. Ná die hewige openbare teenkanting en prokureursbriewe wat uiteindelik aan die betrokke rolspelers gestuur is, het die voorgenome prospektering klaarblyklik ʼn stille dood gesterf.

Barnard het gesê hulle het tot vandag nie ʼn antwoord by die departement van minerale bronne gekry oor of die mynmaatskappy se aansoek destyds goedgekeur is of nie.

“Hier is nou die tweede aansoek vir daardie prospektering. My ondervinding is as daar eers geprospekteer word, volg mynboubedrywighede gewoonlik,” het Barnard gesê.

Die maatskappy wil nou klaarblyklik weer prospekteer vir onder meer yster.

Hy het gesê die grootste beswaar is teen die feit dat dit ʼn oopgroefmyn gaan wees. Inwoners is ook diep bekommerd oor die uitwerking op die omgewing, ʼn moontlike toeloop van byvoorbeeld vragmotors wat grondstowwe moet vervoer, ʼn toename in misdaad en die moontlike gesondheidsrisiko’s wat só ʼn myn vir inwoners kan inhou. ʼn Spruit loop ook deur die gebied.

“Wat gaan dit doen vir my omgewing? Gaan dit eiendomspryse verlaag? Gaan dit misdaad opstoot? Dié ouens is net gepla oor hulle sakke,” het Barnard, wat al bykans 30 jaar in die omgewing woon, gesê.

Hy het gesê ʼn gholfontwikkeling en twee woonbuurte word ook vir die omgewing beplan. “Ons is nie gekant teen ontwikkeling of ekonomiese vooruitgang nie, maar dit moet darem ʼn voordeel inhou vir inwoners.”

ʼn Openbare vergadering waar inwoners hulle insette oor die beoogde ontwikkeling kan lewer, word op 15 April om 18:00 by die Intsingizi Lodge (Hornbillsingel 157) in Montana gehou.

Betrokkenes se insette word daarna aan die departement van minerale bronne voorgelê wat toestemming gee, of nie, vir die bedrywighede. Sou die departement dit goedkeur, moet die Tshwane-metroraad ook sý toestemming gee dat die plaas vir mynboubedrywighede en nie meer landboubedrywighede nie, gebruik mag word, het Barnard gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Herleen Potgieter ·

Jammer om te hoor die inwoners het ‘n myn wat in hul omgwing wil begin. Ons in die Marikana – Buffelspoort omgewing op die N4 is deur diesefde proses, net ‘n ander myn. Glo my, as hulle dit eers in hulle koppe het om ‘n myn daar te begin, gaan hulle uiteindelik die goedkeuring kry, of dit nou “bo op die Tafel – of onder deur die Tafel” gedoen word, julle gaan ‘n myn kry in julle voordeur of julle nou wil of nie.

Daar is ook vergaderings gehou met ons die inwoners, na ons besware geluister, en baie mooi beloftes gemaak dat dit geen negatiewe invloed op enige persoon ,dier, ekosisteem of natuur sou hê nie. Hulle net besig met ‘n studie en dat die regte om die myn te begin is nog nie goedgekeur nie :( SURPRISE…. na ± 9 jaar later en baie baklei en geld… en ons het ‘n oopgroefmyn in ons voordeur so groot soos Kimberley se gat….!!! Ons wat die 4de geslag op die grond is, het nie ‘n keuse as om “vrywillig – verplig” boedel oor te gee en ‘n ander plek te gaan soek om te bly nie. Die myn sal seker maak julle lewe is HEL op aarde!! Dit net kortliks. Sterkte want julle gaan dit nodig hê.

Santjie ·

Is daar nie iemand wat weet of daar dalk een of ander bedreigde spesie van een of ander aard in die spesifieke area is nie? Dan kan Dept Omgewingsake mos die stryd stry

James ·

Dis maklik, mense. Maak soos die ander (80%) van die bevolking:

1. Vergeet van Petisies;
2. Vergeet van Hofprosesse;
3. Vergeet van Aksie-groepies.

Los hulle, totdat hulle begin prospekteer en infrastruktuur inbring. Sodra dit gebeur – brand hulle infrastruktuur nag na nag af, hier in die ure 02h00 – 04h00.

Hou hiermee vol, totdat hulle besluit dis nie die moeite en koste werd nie.

DIT – is hoe jy resultate kry in die NSA. Los nou maar die beginsels gegrond op beskawing. Jy bly in Afrika, pas aan.

fred ·

sable minerals..platinum Doornpoort project 26%BEE…vanadium Doornpoort project 26% BEE

Riaan ·

Ek is baie jammer vir die inwoners, MAAR julle het klaar verloor.
Nie Dept van Minerale (anc) of Tshwane (da) gaan julle help nie! Hier is BAIE geld te maak vir die korruptes in anc en da en hulle sal seker maak hulle kry hulle pond vleis want nie anc of da voel ‘n veer vir die mense van SA!

J ·

Dink net hoe gaan die fyn stof ons as inwoners se gesondheid affekteer. Long kaker hier kom ons. Waar kan ons solank ons eise teen die myn insit.

Hettie ·

Ja ongelukkig is die werklikheid nie goed nie
Ek het selfs ‘n saak gemaak by die mense regte kom vir ons in Buffelspoort se reg op skoon lug ,het goeie saak gehad volgens die beampte wat die saak hanteer het tot dit by senior mense gekom het toe is daar nie ‘n saak nie en uitgegooi!
Almal kom in een mus !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.