Pretoria kry nuwe burgemeester

Kgosientso Ramokgopa, huidige burgemeester van Tshwane Metro. Foto: Departement van kommunikasie, Flickr

Kgosientso Ramokgopa, huidige burgemeester van Tshwane Metro. Foto: Departement van kommunikasie, Flickr

Die ANC het Maandag die naam van sy burgemeesterskandidaat vir Pretoria bekend gemaak in aanloop tot die munisipale verkiesing op 3 Augustus.

Die regerende party het Saterdagaand sy burgemeesterskandidate vir al die metropolitaanse en “strategiese” munisipaliteite bekend gemaak, buiten sy kandidaat vir Pretoria.

“Die streek se uitvoerende komitee het drie name aan die provinsiale uitvoerende komitee voorgelê, maar die provinsiale komitee was nie oortuig van die kandidate nie. Die name is aan die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) verskaf en ons het ʼn voorstel ingedien van wat in Tshwane moet gebeur. Voordat die voorstel egter bekendgemaak kan word, sal ʼn afvaardiging van die NUK eers [Sondag] met die betrokke ANC-takke vergader,” het Gwede Mantashe, die ANC se sekretaris-generaal, Saterdagaand kort voor middernag gesê.

Thoko Didiza, die ANC se burgemeesterskandidaat vir Pretoria. Foto: ANC

Thoko Didiza, die ANC se burgemeesterskandidaat vir Pretoria. Foto: ANC

Die ANC het Maandag in ʼn verklaring gesê die party se nasionale en provinsiale leiers het Sondag vergader en eenparig besluit op Thoko Didiza as burgemeesterskandidaat.

“Comrade Didiza is ʼn senior en ervare leier van ons beweging met uitgebreide ervaring in die regering. Haar benoeming as kandidaat demonstreer die party se verbintenis tot die bevordering van leierskap op plaaslike regeringsvlak. Ons is vol vertroue dat sy sal voortgaan om te bou op die stewige fondament wat deur comrade Kgosientso Sputla Ramokgopa [huidige burgemeester] die afgelope vyf jaar gelê is, sodra sy deur die mense van Tshwane verkies is.”

Die ANC het sy dank teenoor Ramokgopa uitgespreek en hom beskryf as ʼn uiters bekwame bestuurder wat die hoofstad as uitvoerende burgemeester gelei het. “Ons het geen twyfel dat hy nie verlore sal gaan in die organisasie nie.”

Die Demokratiese Alliansie (DA) se Tshwane-kandidaat, Solly Msimanga, en die EFF het die afgelope paar weke uitgebreide veldtogte oor Pretoria van stapel gestuur in ʼn poging om die hoofstad van die ANC weg te neem.

Die res van die ANC-kandidate vir metropolitaanse munisipaliteite is soos volg:

Mangaung – Olly Mlamleli
Buffalo City – Xola Pakati
Nelson Mandelabaai – Danny Jordaan
Stad Kaapstad – Xolani Sotashe
Ekurhuleni – Mzwandile Masina
Stad Johannesburg – Parks Tau
eThekwini – Zandile Gumede

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jaco ·

Pretoria KRY nuwe burgemeester: interessante opskrif van maroelamedia. is dit dan ‘n uitgemaakte saak dat die ANC die munisipale verkiesing in Pretoria/Tshwane gaan wen?

Landi Slatter ·

Dagsê Jaco,

Dankie vir jou navraag. Ongeag watter politieke party die verkiesing wen, Kgosientso Ramokgopa sal nie weer burgemeester wees nie dus sal Tshwane inderdaad ʼn nuwe burgemeester kry.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Grap ·

Ek is regtig bly Sputla beweeg aan hy het net soos die vorige Ramokgopa (Gwen) niks positief vir Pretoria se belastingbetalers beteken nie behalwe vir sy eenvoudige uitsprake en geld mors dink ek dit is good riddens

Willie ·

Seker omdat die Areng bus projek die hele Pretoria Moot en Noord se verkeer tot n stilstand geruk het???

alida ·

En die korrupsie met die slimmeters? Waai dit nou sommer oor?

Poot ·

Tyd vir nuwe munisipale regering. Hulle kan maar Pretoria se naam ook verander. Hy staan lankal nie meer sy eerbare naam gestand nie.

Willie ·

Free WiFi- nou is dit krimenele hot-spots…. wat n grap….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.