Pretoria-man hou nou Marmite-wêreldrekord

Billy Cowley net nadat hy 420 g Marmite geëet het. (Foto: It’s An Art)

ʼn Man van Pretoria-Oos het die Guinness-wêreldrekord verbeter deur die meeste Marmite binne ʼn minuut te eet.

Billy Cowley (42) het 420 g Marmite binne 60 sekondes by Radio Raps se kuierplek Hennie’s in Moreletapark afgesluk, terwyl vriende, familie en nuuskierige toeskouers hom aangemoedig het.

“Dit was baie erger as wat ek verwag het,” het Cowley aan Maroela Media gesê.

“Ek het in ʼn stadium ʼn groot hap gevat en toe sit dit in my keel vas. Ek het gedink ek gaan dit nie maak nie en het amper begin naar raak, maar toe hoor ek vir die eerste keer hoe die mense juig. Ek het toe besluit om deur te druk en aan te hou sluk.”

Daarna het hy omtrent drie liter water gedrink. “Ek het gereeld deur die aand wakker geword om nog te drink. Ek is nog steeds dors,” lag hy.

Cowley het die voormalige Marmite-rekordhouer, André Ortolf van Duitsland, se 2018-eetrekord van 368 g Marmite binne ʼn minuut met 52 g verbeter.

“Ek is in ekstase, want dis iets wat ek van kleins af wou doen.”

Cowley was as kind versot op die Guinness-wêreldrekordboeke en ag steeds die rekordhouers as sy helde.

“Toe ek besluit het om ʼn wêreldrekord aan te pak, wou ek iets lekkers en snaaks doen. Ek wou iets doen wat wenkbroue sou lig en Marmite het aanhou in my kop vassteek.”

Cowley en sy vrou, Izelle. (Foto: It’s An Art)

Cowley sê dit was lekker om te sien hoe vrolik hierdie wêreldrekordpoging mense gemaak het, veral tydens die Covid-19-pandemie.

“Ek hou nog altyd daarvan om mense te laat lag en ek dink baie mense het dit nodig gehad om net te lag vir my Marmite-eetwêreldrekord.”

Hy het egter eers ná einde verlede jaar toe hy die goedkeuring gekry het om die rekord aan te pak, besef watter risiko’s dit kan inhou.

ʼn Paar spesialiste het Cowley teen die poging gewaarsku, aangesien hy 20 000 mg sout in ʼn minuut sou inneem, terwyl die aanbevole dosis sout tussen 2 300 en 3 400 mg per dag is.

“Toe ʼn internisvriend van Oudtshoorn besef ek wil nie vir hom luister nie, het hy aanbeveel dat ek baie water drink en ná afloop van die wêreldrekordpoging my vinger in my keel af druk om dit uit te kry.

“Ek het dit seker drie keer gedoen en toe weer een keer nadat ek by die huis gekom het, want die Marmite lê soos teer onder in jou maag en dit kom nie sommer uit nie.”

Cowley het in aanloop tot sy rekordpoging baie water gedrink en elke dag twee teelepels Marmite geëet.

“Lobanke het ook ʼn klomp klaargemaakte keto-maaltye voorberei om my gesond te hou sodat my bloeddruk nie opskiet nie. Ek het in twee weke sewe kilogram afgeskud.”

“Ek het ook alkohol vermy, want dit dehidreer mens. In ʼn stadium het my vriende gevra of ek kwaad is vir hulle omdat ek nie saam met hulle wou kuier nie, maar ek het die opoffering gemaak, want jy weet nie wat kan gebeur nie,” sê hy.

Dit is egter nie Cowley se laaste wêreldrekordpoging nie.

“Ek het al daaraan gedink om kaalvoet op lego-blokkies te loop, maar die huidige wêreldrekord daarvoor is byna vier kilometer en ek weet nie of ek kans sien daarvoor nie.

“Die ou wie se rekord ek gisteraand laat spat het, het tydens die afsonderingstydperk ʼn wêreldrekord verbeter vir die vinnigste Nutella-etery. Andersins is daar een vir die vinnigste mosterd-drinkery.”

Cowley sê jy is óf ʼn Marmite-mens óf ʼn Bovril-mens, maar hy beplan om die wêreldrekord vir al twee agter sy naam te skryf.

“Ek geniet eintlik Bovril meer as Marmite, so ek beplan om aansoek te doen om ʼn Bovril-eetwêreldrekord te verbeter,” sê hy. “Dan het ek as’t ware die beste van albei wêrelde.”

Gaan kyk hoe Cowley met die wêreldrekord wegstap by: https://web.facebook.com/Bilnasty1/?_rdc=1&_rdr

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JohanR ·

Hoekom het jy nie die 420g Marmite op roosterbrood gesmeer nie, en daar by ‘n GROOT koppie boeretroos?

Mad Mike die Rhodesiër ·

Liewers jy as ek, ou maat! Geluk en voorspoed met jou volgende poging. Hopelik is dit makliker (en groter!) as hierdie een aangesien jy meer van Bovril hou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.