Pretoria-onluste: Geweld vlam plek-plek op

Die situasie Dinsdag, 21 Junie 2016 in Hercules, wes van Pretoria. Foto: Twitter

Die situasie Dinsdag, 21 Junie 2016 in Hercules, wes van Pretoria. Foto: Twitter

Vyf verdagtes is Dinsdagaand in hegtenis geneem tydens die onluste wat dwarsdeur die nag in Pretoria voortgewoed het.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Woensdag in ʼn verklaring gesê die vyf verdagtes is op aanklag van poging tot roof by die Wonderpark-winkelsentrum in Akasia in hegtenis geneem. Plundering van winkels het gedurende die nag ook op plekke in Mamelodi, Atteridgeville, Soshanguve, Mabopane en Ga-Rankuwa plaasgevind.

Geweld het Woensdagoggend weer by die Batho Plaza-winkelsentrum in Soshanguve opgevlam en polisiebeamptes is ontplooi om betogers uitmekaar te jaag. Die SAPD het gesê polisiebeamptes is steeds op die toneel in al die ander areas in die stad wat geraak word om die situasie te monitor.

RSG het berig die situasie in Pretoria-Wes was Woensdagoggend steeds gespanne en ʼn polisievoertuig is met klippe bestook. Die meeste skole in die gebied was ook steeds gesluit en motoriste is aangeraai om Van der Hoff-weg te vermy.

Talle winkels is Dinsdagnag (21 Junie 2016) in Pretoria geplunder. Foto: Twitter

Talle winkels is Dinsdagnag (21 Junie 2016) in Pretoria geplunder. Foto: Twitter

Die provinsiale polisiewoordvoerder kon egter, ondanks verskeie pogings deur Maroela Media, nie Woensdagoggend telefonies bereik word om meer inligting oor die res van Pretoria te gee nie.

Die Tshwane Metropolisie (TMPD) het Woensdagoggend bevestig verskeie strate, wat Dinsdag deur betogers afgesper is, is heropen, onder meer die Daspoort-tonnel, die Mabopane-snelweg, die Bremer-afrit, Tsamayaweg, Hebronweg, Maundeweg, die M20, M44, R55, R566 en M17 en die N1 tussen die Pumulani en Carousel-tolhekke.

Massabetogings woed sedert Maandag in en om groot dele van Pretoria weens ontevredenheid oor die ANC se burgemeesterskandidaat vir die Tshwane-metrogebied. Die ANC het Maandag aangekondig Thoko Didiza sal die party se burgemeesterskandidaat in Tshwane vir die komende munisipale verkiesing wees. Kgosientso Ramokgopa, die huidige burgemeester, asook sy adjunk-streeksvoorsitter, Mapiti Matsena, sal dus nie weer verkiesbaar wees nie.

Busse word Maandagaand (20 Junie 2016) in Mamelodi, Pretoria gebrand. Foto: Verskaf

Busse word Maandagaand (20 Junie 2016) in Mamelodi, Pretoria gebrand. Foto: Verskaf

Die besluit het massabetogings in informele nedersettings in en om Pretoria tot gevolg gehad, tot so mate dat bewerings die ronde gedoen het dat die weermag dalk ontplooi sal word. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het egter Dinsdag gesê alle veiligheidsmaatreëls sal eers uitgeput word voordat die weermag as “laaste opsie” ontplooi sal word.

Pretoria News het intussen berig die geweld het begin nadat ʼn groep, wat glo deur ʼn senior ANC-beampte gelei word en verskeie ANC takleiers en wyksraadslede insluit, vroeg Maandagoggend vergader en ʼn plan beraam het om Pretoria in ʼn “slagveld” te verander in opstand teen Didiza se nominasie. Volgens Pretoria News is ʼn selfoonboodskap onder die inwoners van informele nedersettings versprei met die groep se plan van aksie om die betoging “die grootste onluste-voorval sedert post-Apartheid” te maak.

Die bewerings is egter nie deur die polisie of die ANC bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Will i am ·

5 inhegtenis geneem terwyl honderde daar is? Hoe werk dit. Was die 5 toevallig naby die polisie of wat? Neem almal inhegtenis en gemors sal stop

Just_Ice ·

Maroele het seker die woordvoerder by Hercules Polisiestasie probeer skakel . . .
Hierdie storie was baie goed beplan – langs die Mabopane, half in die ryvlak vanoggend net na 5 het daar ‘n groot stuk concrete nog gelê. Daar moes verseker klippe (en boulders) van ‘n quarry af aangery het aangesien die tipe van klippe nie net links en regs in die veld opgetel wordnie.

Maria Kruger ·

Just_Ice: Tydens hierdie betogings het jy seker heerlik veilig in jou huis gesit. Jy was nie een van die vele polisie beamptes daar buite nie. Jy weet nie dat van hulle 18:00 uitgeklok het en 23:00 tot 17:00 gistermiddag weer op skof was om jou te beskerm nie. Jy was verseker ook nie een van hulle se man of vrou wat sit en naels kou by die huis omdat hulle nie weet of hulle eggenote veilig is nie. Sluit aan by jou plaaslike GPF en, met jou verwysing na Hercules Polisiestasie, kontak eerder die Hercules GPF en vra hoe jy betrokke kan raak….

John ·

Sedert die Griekse titaan, Prometheus, vuur by die gode se goudsmid gesteel het, volgens ‘n ou antieke mite, en dit aan die aardlinge geskenk het, brand die aarde kort-kort. Prometheus is swaar gestraf. Hy is vasgeketting teen ‘n rots sodat kraaie daagliks stukkies van sy lewer (wat telkens weer teruggegroei het) kan kom uitsteel. Die doel van mites was om mense tot die een of ander insig te bring…

LeonR ·

Wow John. Ek is so bly om te sien dat ander mense as ek hierdie stories lees en probeer verstaan. Ek lees nou weer die Illiad van Homer. Deesdae se mense het geen benul van hierdie geite nie.

Tienkie ·

Kan die wat komentaar lewer verkieslik nie persoonlik raak nie. Magtig, staan eerder saam en nie teen mekaar nie. As jy wil muslik raak. Sluk jou komentaar en hou dit vir jouself.

Lance ·

Shame kyk net hoe sukkel hulle om dit onder beheer te kry ….wat n joke

Riaan ·

Hierdie is niks anders as “diefstal onder die dekmantel” nie. Is daar enige witmense betrokke by die onluste. Is daar fotos of video materiaal van witmense wat paaie versper en busse afbrand – Ek twyfel

John ·

LeonR, die Illiad was die antieke Grieke van so teen 700 vC se ‘handleiding’ wat mense moes bestudeer het om darem as geleerd gereken te word. Miskien moet ons weer meer van die ou boeke begin lees noudat radio en tv so vervelig begin raak…. Lees ook van die ou Griekse dramas. Groetnis

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.