Pretoria-onluste: Twee ‘plunderaars’ doodgeskiet; talle vas

Foto: ANA

Foto: ANA

Twee verdagtes is Dinsdagaand doodgeskiet terwyl hulle glo besig was om ʼn winkel in Mamelodi te plunder.

Kol. Noxolo Kweza, woordvoerder van die polisie, het gesê behalwe vir die verdagtes wat doodgeskiet is, is nog 40 verdagtes deur die nag in hegtenis geneem. Die betogers is in Atteridgeville, Hercules, Mabopane, Soshanguve en Mamelodi in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld, diefstal en die besit van gesteelde goedere.

Woensdag was tekens van die aand se geweld duidelik in Pretoria se strate te sien waar paaie steeds met grond, boomtakke, gebrande bande en vullis versper was. In WF Nkomostraat in Atteridgeville het die wrak van ʼn vragmotor wat aan die brand gesteek en daarna deur betogers gestroop is, steeds in die pad gelê. In Soshanguve en Mamelodi is talle winkels se vensters en deure gebreek soos dit deur die nag geplunder is.

Foto: ANA

Foto: ANA

Die massabetogings het sedert Maandag in en om groot dele van Pretoria gewoed weens ontevredenheid oor die ANC se burgemeesterskandidaat vir die Tshwane-metrogebied. Die ANC het Maandag aangekondig Thoko Didiza sal die party se burgemeesterskandidaat in Tshwane vir die komende munisipale verkiesing wees en nie Kgosientso Ramokgopa, die huidige burgemeester, soos baie ANC-lede verkies nie.

Ramokgopa en sy adjunk-streeksvoorsitter, Mapiti Matsena, het hulself egter van die geweld gedistansieer en ʼn beroep op inwoners gedoen om Didiza as burgemeesterskandidaat te ondersteun.

Foto: ANA

Foto: ANA

Francois Beukman, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor polisie, het Woensdag die SAPD aangemoedig om kalmte in die Tshwane Metro-gebied te herstel. “Ons moet seker maak dat die veiligheid van ons inwoners die hoogste prioriteit geniet. Om openbare orde te handhaaf en Suid-Afrika se burgers en hul eiendom te beskerm, is die grondwetlike plig van die SAPD,” het hy gesê.

Beukman het ook gesê die komitee ondersteun die ontplooiing van ander provinsies se polisiebeamptes in Pretoria indien dit nodig sou wees. “Ons kan nie toelaat dat hierdie magte van anargie die infrastruktuur en fasiliteite verwoes wat eintlik tot voordeel van die gemeenskap moet wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Schalk ·

Mnr Beukman. Ek is al so moeg as julle praat van hoe julle die grondwet wil toepas. Presies van watter grondwet praat jy?!? Beslis nie die een wat jou President so misbruik nie. Ek lees elders dat n SAP lid in hegtenis geneem is vir honderde onwettige vuurwapens wat hy verkoop het. Praat jy van dieselfde SAP???

Schalk ·

Ai tog!!! Amper laat ek die SAP goed lyk. My fout, dit is 2400 wapens? Amper lieg ek nou soos n parlamentslid.

Schalk ·

Ernie. As jy se ek moet nie veralgemeen nie, bedoel jy die SAP of parlamentslede???

Illa ·

Al sou die SAPD ook wou, wat kan hulle doen? Hulle mag nie skiet nie, want dan sit hul in dieselfde posisie as die Marikana polisielede. Dis mos nie meer ‘n polisieMAG nie, dis ‘n polisiediens. Hoe moet jy geweldadige betogers van diens wees? Dit maak mos net nie sin nie, man. Aan die anderkant moet ons seker dankbaar wees dat hul nie méér mag het nie, want ongelukkig is daar heeltemal te veel wat alreeds die bietjie mag waaroor hul nog beskik totaal misbruik.

Frederik ·

Dit sal darem ‘n geweldige skade wees as die betogers van daai peperduur slim meters beskadig wat Ramokgopa laat installeer het.

Johannes Meintjes ·

Nou dat die “Apartheids-muti” op aandbeveling an almal wat beter weet buite SA, nou uit die SA politieke, ekonomiese en sosiale sisteem gewerk is en Jan van Riebeeck en kie se konstruktiewe bydrae tot en met 1994 agter die rug gelaat is, kan SA weer terugkeer na die status quo van die (nog altyd) laaste kontinent soos voordat Janneman aan die Kaap de Goede Hoop (Kaap van Storms) aangekom het … SA brand af tot op die grond en die burgers (swart, wit en gekleurd in die reenboog) kreun maar oudergewoonte terwyl die hande bloot gewring word, almal verwag dat iemand anders iets moet doen, en die sosiale media gons. Niks verander werklik ter oortuigende verbetering nie . Of kan die Afrikaner weer ‘n volhoubare verskil help maak in ‘n vervalle SA?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.