Pretoria-optog: Polisieminister vir beskerming gevra

Die pamflet wat versprei word. Foto: Verskaf

Die Stad Tshwane het Fikile Mbalula, die minister van polisie, en die nasionale polisiekommissaris genader om beskerming vir inwoners en ondernemings in die Pretoriase sakesentrum te versoek nadat ondernemings glo gedreig is in aanloop tot die protesoptog wat vir Vrydag beplan word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep genaamd “All Tshwane Vat Alles Employees” het toestemming by die Tshwane-metropolisie (TMPD) verkry om môre ʼn optog van Burgerspark in die Pretoria-middestad tot by die Uniegebou te hou. Dié optog word egter nou voorafgegaan deur talle dreigemente onder meer ʼn doodsdreigement wat aan Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, gerig is.

Derrick Kissoonduth, die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid in Tshwane, het in ʼn verklaring gesê hy het bewus geword van ʼn pamflet wat die ronde doen waarin ondernemings en skole in en om die Pretoria-sakesentrum gewaarsku word om vir die dag te sluit. Volgens die pamflet sal ondernemings wat wel kies om hul deure vir die dag te open dit “op eie risiko” doen.

Dié dreigemente kom na bewering van die “Vat Alles EPWP-werkers” en die Stad Tshwane se logo verskyn ook op die pamflet.

“Die groep is nie by magte om dié logo in hul protes-materiaal te gebruik nie en daarom distansieer die stad hom van hierdie pamflette,” het Kissoonduth gesê.

“Die dreigement is ʼn duidelike oortreding van die grondwetlike bepalings vir vryheid en veiligheid van ʼn persoon soos vervat in artikel 12 van die grondwet. [Daarom sal] ek die minister van polisie en polisiekommissaris vra om hul grondwetlike mandaat uit te voer om te verseker dat die inwoners en ondernemings in die Pretoria-sakesentrum beskerm word van dreigemente van geweld, intimidasie en verwoesting.”

Die TMPD het vroeër gesê beamptes sal môre ontplooi word om die optog te monitor.

Optoggangers sal 08:00 by Burgerspark in die Pretoria-middestad bymekaarkom en van daar na Lilian Ngoyi-straat beweeg en regs draai in Madibastraat tot hulle Tshwane House bereik. Van daar af sal hulle na die Uniegebou beweeg en dan terug na Burgerspark deur Leydsstraat, Pretoriusstraat, Nelson Mandela-rylaan, Nana Sita-straat en Thabo Sehume-straat.

Die optog sal na verwagting om 16:00 tot ʼn einde kom. Motoriste word aangeraai om bogenoemde strate te vermy en van alternatiewe roetes gebruik te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

karel ·

Wil seker net gryp en hardloop – dit kan hulle goed doen.

KG ·

Dalk kyk ek dit mis, maar wat is die geldige rede vir die optog?

Callie ·

Doel is om anargie te skep. Witman te vernietig en alles te vat. ANC en eff wat saamwerk druk om genoeg chaos te kry om weermag te ontplooi. Word wakker SA. Die groot dinge gaan nou begin met Cyril daar

Showahed ·

Is al hierdie geweldadige optogte wettig? Was daar toestemming verkry of is daardie dae iets van die verlede siende dat die ANC en EFF doen wat hulle wil?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.