Pretoria se eie Spiderman draf binnekort tot in Lüderitz

eric-nefdt-spiderman

Eric Nefdt is Pretoria se eie Spiderman en wil nou ‘n avontuur Lüderitz toe aanpak om die kollig op orgaan- en weefselskenking te plaas. Foto: Facebook.

Eric Nefdt (32) gaan binnekort die langpad van die Jakarandastad na Lüderitz, Namibië, te voet in sy Spiderman-pak aandurf.

Dié eiendomsagent en pa van twee beplan om die avontuur binne 40 dae af te lê en doen dit om die kollig op die groot behoefte aan orgaan- en weefselskenkers in Suid-Afrika te werp.

Nefdt het inwoners van Centurion en Pretoria se oostelike voorstede sedert 2016 behoorlik gaande gehad toe hy begin het om in die volle mondering van die gewilde superheld vir marathons te oefen.

Hy het toe begin draf om mense bewus te maak van hartsiektes in kinders en het geld vir die 3-jarige Elisa Ingoglia van Kaapstad ingesamel. Ingoglia is met ʼn hartsiekte gebore en het haar eerste hartoperasie ondergaan voor sy drie dae ou was.

“Ek wou net so graag ʼn verskil maak. As ʼn pa het ek verstaan hoe hulle voel. My jongste seun is ook met ʼn hartprobleem gebore. Die bekommernis waardeur ʼn mens as ouers gaan as jy dit hoor, is onmoontlik om te beskryf,” het Nefdt gesê.

Nadat die Nefdt-gesien langer as twee maande moes wag om een van die min beskikbare spesialiste te sien het die dokter gelukkig gesê sy seun, Leo-Kevin, het ʼn gaatjie in sy hart, maar dit behoort vanself te herstel soos wat hy ouer word.

Nefdt het egter besef dat hy steeds ander mense wil en kan help. “Die hele spinnekop-ding gaan daaroor dat enige iemand eintlik ʼn verskil kan maak. Almal kan skenkers wees, al het hulle nie altyd geld om te gee nie.

“Kyk, ek is net ʼn eiendomsagent, maar ek wou nog nooit net as ʼn agent gesien word of in ʼn boksie geplaas word nie. Ek wil hê mense moet kan sien ek is ʼn plat op die aarde ou en as ék ʼn verskil kan maak, kan enige iemand anders dit ook doen.”

Nou pak die Spinnekop van Pretoria sy grootste avontuur nóg aan. Op 1 Julie gaan hy probeer om die 1 500 km in sy Spiderman-pak binne bietjie meer as ʼn maand kaf te draf.

“Dit sal wees asof ek elke dag ʼn marathon hardloop met een rusdag per week, maar ek werk nie noodwendig teen tyd nie, dit is veel belangriker dat ek beserings vryspring en ʼn gemaklike pas handhaaf.”

Nefdt het ʼn filmspan wat hom sal ondersteun en saam met hom die reis sal meemaak. Hy hoop dat sy avontuur later as ʼn televisiereeks uitgesaai sal word.

eric-nefdt-spiderman-02

Eric Nefdt, Pretoria se eie Spinnekop, in aksie tydens verlede jaar se Comrades-marathon. Foto: Facebook.

Op die vraag oor hoekom Nefdt nou juis besluit het om na Lüderitz in Namibië te draf, het hy gesê dit is net een van daardie plekke wat hy nog altyd graag wou sien.

“Ek het my seiljaglisensie gedoen en die planne om na Lüderitz te vaar het deur die mat geval; vandaar was dit nog altyd ʼn droom om Namibië te sien en om in die woestyn onder die sterreruim te slaap. Verder het ek ook nog net altyd goeie goed van die mense van Namibië gehoor.”

Hy het verlede jaar ook reeds die Comrades-marathon in sy Spiderman-pak voltooi. Toe hy boonop uitvind die vroue-wenner van die 2017 Comrades, Camille Herron, het ʼn Guinness-wêreldrekord opgestel vir die persoon wat die vinnigste marathon in ʼn superheldpak afgelê het – het Nefdt besluit hy moet die rekord eenvoudig verbeter.

Dit is egter die stories van kinders soos Ruby Ballack wat voor haar 16de verjaardag dood is terwyl sy vir ʼn hartoorplanting gewag het en dié van jong Chris Truter wat in Februarie vanjaar ʼn suksesvolle hartoorplanting gehad het nadat ʼn hart beskikbaar geword het, wat Nefdt finaal tot aksie oorgehaal het.

Julie Purkis, ʼn woordvoerder vir die sentrum gemoeid met onder meer die verkryging en verskaffing van menslike weefsel vir inplanting en oorplanting aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT), het gesê die organisasie is dankbaar vir die bewusmaking wat Nefdt wil skep. “Suid-Afrikaners besef steeds nie dat enige iemand van enige ouderdom ʼn weefselskenker kan wees nie. Daar is soveel weefsel wat geskenk kan word: hartkleppe, been, vel en korneas is maar net ʼn klein voorbeeld van wat gebruik kan word,” het Purkis gesê.

Sy sê daar is nog baie onkunde en mites wat orgaan- en weefselskenking betref. “Een mite wat dikwels geglo word, is dat ʼn dokter jou sal laat sterf om jou organe en weefsel te kry, maar eintlik moet twee spesialiste buiten jou eie dokter jou breinstamdood verklaar voordat ʼn orgaanskenking ná jou dood kan plaasvind. Skenkers word ook nie betaal vir die organe of weefsel wat hulle skenk nie.”

Samantha Nicholls, uitvoerende direkteur van die Stigting vir Orgaanskenkers, het onlangs aan Maroela Media gesê meer as 4 300 mense is op die waglys vir ʼn orgaanoorplanting.

“Ons is in dié stadium teleurgesteld in die land se passiwiteit, apatie en gebrek aan belangstelling. Dis baie maklik om jou oë te sluit vir die duisende mense wie se lewens moontlik deur orgaanskenking gered kan word,” sê sy.

Jooste Vermeulen, kommunikasiedirekteur vir die stigting, sê daar is tans sowat 241 000 Suid-Afrikaners as orgaanskenkers geregistreer. Volgens Vermeulen is twee derdes van dié skenkers vroue wat hoofsaaklik in Gauteng en die Wes-Kaap woon. “Die stigting het so vier jaar gelede begin om dié databasis van skenkers saam te stel. Ons grootste bekommernis is hoofsaaklik ʼn tekort aan manlike skenkers, en in provinsies buiten Gauteng en die Wes-Kaap wat nie noodwendig dieselfde hoeveel skenkers oplewer nie,” sê hy.

241 000 geregistreerde skenkers beteken minder as 1% van Suid-Afrika se bevolking is as orgaanskenkers geregistreer – dít terwyl ʼn oorgaanskenker die lewens van sowat 50 mense ingrypend kan verander of in baie gevalle ook ʼn lewe red.

  • Vir meer inligting oor die Stigting vir Orgaanskenkers, besoek hul amptelik webwerf.
  • Lesers kan vir Eric op sy Facebook-blad, Instagram of Twitter volg indien hulle meer van sy avonture wil weet of hom tot in Lüderitz wil volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jolandie ·

Sterkte Eric. Ek gaan net so hard vir jou skree soos toe jy die Comrades gehardloop het. Mag dit net goed gaan en mag die Here jou op die pad beskerm. T Jolandie

SS ·

Sterkte met jou reuse poging. Luderitz was my grootword dorp,pragtige plek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.