Pretoria se finansies nie meer in die rooi nie

solly-msimanga-2017-09-01

Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro saam met die voorsitter van die Nasionale Persklub, Jos Charle. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Die Tshwane-metro se finansies is nie meer in die rooi nie nadat die multiparty-administrasie van die Jakarandastad in die laaste 12 maande hard daaraan gewerk het om onnodige uitgawes te besnoei en korrupsie te bekamp.

Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro, het Donderdag dié goeie nuus tydens ʼn mediakonferensie by die Nasionale Persklub gedeel. Hy het sy administrasie se suksesse in die laaste 12 maande aan die media uitgelig.

Volgens Msimanga het die stad se benarde finansiële posisie reeds met rasse skrede verbeter. Sedert sy administrasie die stad oorgeneem het, het die kontant en kontantekwivalente aan die einde van die jaar verbeter van R1,1 miljard in die 2015/16-finansiële jaar tot R2,1 miljard in die 2016/17-finansiële jaar. Onregmatige uitgawes het van R1,6 miljard in die vorige finansiële jaar tot R634 miljoen in hierdie jaar verminder.

Msimanga het gesê sy administrasie het ook reeds baie gedoen om die R2 miljard se tekort wat dit van die vorige administrasie geërf het, aan te spreek.

“Ons is nog nie waar ons wil wees nie, maar ons het besef ons moet iewers begin en met die nodige werk afskop en daar is reeds talle vorderings gemaak,” het hy gesê.

Msimanga wou nie enige syfer hieroor bekend maak nie, maar sê “dit lyk werklik goed”. Hy het joernaliste beloof die syfers sal by ʼn latere geleentheid beskikbaar gestel word.

Die hoofstad se bestuur oorweeg dit ook om talle bywette te hersien om handel te vergemaklik. “Die Tshwane-metro is ongelukkig berug vir sy burokratiese rompslomp, maar ons wil die situasie omdraai en nog meer beleggings na die stad lok. In my stadsrede het ek genoem dat ons wil poog om R10,8 miljard se beleggings na die stad te lok en ek is gelukkig om te kan sê dat ons reeds daarin geslaag het om R2,3 miljard hiervan uit die privaatsektor te bekom.”

Msimanga het ook gesê dié soort beleggings sal net moontlik wees wanneer beleggers voel hul beleggings is veilig, daarom is ʼn veiliger Pretoria ʼn groot fokuspunt vir die administrasie.

“Ek wil julle graag herinner dat ons R2 miljard uit die stad se 2017/18-begroting opsy gesit het vir die Tshwane-metropolisie se agenda om misdaad te bekamp.”

Volgens hom het die Tshwane-metropolisie se teendwelm-eenheid reeds talle inhegtenisnemings gemaak en word daar verskeie gesamentlike operasies op misdaadknelpunte in die stad uitgevoer. Die metropolisie het tans ook talle bewusmakingsveldtogte waartydens hulle by skole gaan praat om die dwelmmisbruik aan te spreek.

“Die diefstal van koperkabels is steeds ʼn groot probleem en beloop tot gemiddeld R5 miljoen per maand. Die teenkabeldiefstal-eenheid van die metropolisie het reeds met verskeie operasies verseker dat elektriese infrastruktuur beveilig word.”

Msimanga het egter erken dat sy eerste jaar as burgemeester nie sonder uitdagings was nie. Hy het onder meer gesê hy is erg gefrustreerd omdat daar nog nie veel vordering is met talle sake wat hy by die Brooklyn-polisiestasie geopen het nie. “Ek verneem die forensiese ondersoeke is nou na ʼn spesialis-ondersoekeenheid verwys, maar ons vorder net nie tot by die punt waar iemand in hegtenis geneem word nie, en dit is waar ek wil uitkom.”

Hy ook gesê een van sy grootste uitdagings is projekte wat gekaap word deur mense wat nie die nodige prosesse van die stad wil volg nie. “Ek kan julle verseker vullisverwydering in GaRankuwa vind nie vandag plaas nie, want mense is ongelukkig met subkontrakteurs, maar dan word daar gesê Msimanga lewer nie dienste nie. Dit is iets wat aangespreek moet word, en ons is besig met die nodige onderhandelinge hiervoor.

“Ons ontvang ook nie altyd die nodige ondersteuning van provinsiale en staatsvlak nie; dit beteken projekte en planne vorder nie altyd vinnig genoeg nie, maar dit word ook aangespreek,” het hy bevestig.

Msimanga is vol vertroue dat sy administrasie die hoofstad binne die volgende ses tot 12 maande kan regruk. “In die tussentyd moet ons steeds elke rand sover as moontlik rek – dit is ongelukkig so dat ons minder toelae as voorheen ontvang, en die administrasie moet selfs meer vermag as in die verlede.

“As die hoofstad van Suid-Afrika het ons egter die verantwoordelikheid om te verseker ons stel die hoogste standaard vir die res van die land. Ons wil ʼn voorbeeld wees vir die res van Suid-Afrika.

“Ek is trots op dit wat ons vermag het, maar daar is steeds meer werk om te doen. Ek wil ook dankie sê vir elke amptenaar wat ingespring het om die hoofstad ʼn beter plek te maak vir al sy inwoners,” het hy afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

koos1 ·

My R10000.00 wat ek die afgelope 2 maande betaal het lyk my het gehelp. NOU moet julle begin dienste lewer! Hordes verkeersligte werk nie, slaggatte orals, mense word in hulle huise vermoor. DA en kie, ons as stemmers wil nou sien waarvoor ons gestem het!

Alida ·

Hartlike gelukwense Solly! Ons besef dat Rome nie in een dag gebou is nie. Julle moes immers eers die admin van die ANC uitsorteer. Nou dat die finansies beter lyk gaan dinge gebeur. Weereens baie geluk.Trots om n DA lid te wees. Die SAPD kort nou net n GOEIE minister en nie iemand wat dink hy is slim nie.

Leahim ·

Almal weet hoe ek oor die DA voel maar hier moet ek geluk sê hou so aan.

Boshond ·

Baie geluk Sollie.! Maar soos in PE sal daar baie nikswerd, onbekwame lui munisiale ANC amptenare wees wat Pretoria se vooruitgang wil saboteer of vertraag. En dis wetlik moeilik om van hulle ontslae te raak. Ek hoop regtig eendag, in ‘n nuwe bedeling, sal die arbeidswette radikaal hersien word.

E.K. ·

Rome is nie in een dag gebou ni,e maar kyk wat het DA in baie kot rukkie vermag. Gee hul die eer wat hul toekom en onthou tog hulle het met ‘n helse vrotspul moes begin en alles neem tyd.

E.K. ·

…koRt rukkie vermag – my “r” op sleutelbord haak soms vas en sien ek nie dadelik

Frik Eloff ·

Natuurlik sal julle uit die rooi wees, orals word ons links en regs eweskielik dubbel aangeslaan op munisipale rekeninge!! En dan word die tipiese “vooruit skatting” verskoning aangehaal !!

Ons stuur elke maand die werklike meter lesings in, maar dit word blatant geignoreer sodat julle goed kan lyk.

Die jakkals het dieselfde gebly…. net ‘n ander baadjie aan getrek

alida ·

Ai Frik is dit so moeilik om iemand erkenning te gee of wil jy die ANC skelms terughê. Jy vergeet dat die hele munisipaliteit en hulle stelsels deur die ANC korrup was en ek bewonder die DA om dit in een jaar weer op koers te kry.

Paul ·

Frik, jy slaan die spyker op sy kop! Ek wil ook byvoeg dat hulle diens net so swak is as toe die ANC in beheer was, indien nie swakker nie. Ek skryf dit uit persoonlike ondervinding. Die titel van hierdie berig, “Pretoria se finansies nie meer in die rooi nie,” is ook misleidend om die minste te sê. Hulle flous my geensins nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.