Pretoria se nuwe administrasie: Dít is wat Msimanga vermag het

solly-msimanga-04

Solly Msimanga, die uitvoerende burgemeester van die Tshwane-metro en sy span sal nie salarisverhogings hierdie jaar ontvang nie. Foto: Facebook.

Die Jakarandastad se administrasie het Donderdag aangekondig dat die burgemeester, speaker, hoofsweep en burgemeesterkomiteelede geen salarisverhoging vanjaar sal ontvang nie.

Die DA het in Augustus 2016 die munisipale verkiesing gewen maar sit met verskeie uitdagings rondom die finansiële welstand en dienslewering binne die metro. Die nuwe raad wat tans uit die DA, VF Plus, ACDP en Cope bestaan en ondersteun word deur die EFF, het ʼn tekort van sowat R2 miljard van die vorige administrasie geërf.

Die besluit om nie die burgemeester, Solly Msimanga, en sy span se salarisse te verhoog nie, strook met die metroraad se onderneming om talle besparingsmaatreëls in te stel om die stad se finansiële welstand te verbeter.

Msimanga het op 6 April tydens sy eerste stadsrede aangekondig dat hy die volgende veranderinge vir die sewe streke van die raad beplan:

  • Die stad wil beleggings van sowat R10,8 miljard lok om die middestad te vernuwe terwyl daar ook planne beraam sal word om die middestad te beveilig. “Onwettige aktiwiteite sal uitgeroei word en geboue en die infrastruktuur sal herstel word om groot sakeondernemings en beleggers terug na die middestad van Pretoria te bring.”
  • Msimanga het ook onderneem om die burgemeesterswoning in Muckleneuk, wat deur die vorige administrasie teen sowat R12 miljoen opgeknap is, te verkoop. Die geld sal gebruik word om “huise vir die armes van die stad te bou”.
  • Die substasie in Eldoraigne, Centurion, sal opgeknap word.
  • Die nuwe raad beplan om 104 000 werksgeleenthede in die hoofstad te skep.
  • Sewe informele nedersettings gaan geformaliseer word.
  • Msimanga het ook gesê die metroraad werk hard daaraan om sy kliëntediens te verbeter sodat dit ʼn aangename ervaring vir alle inwoners kan wees.
  • Soveel as 10 150 nuwe waterkonneksies sal binne die volgende jaar gedoen word.
  • Vullisverwydering sal voortaan weekliks betyds gedoen word en die stad sal voortaan nie meer uitgelewer wees aan een kontrakteur nie.
  • Soveel as 6 500 nuwe sanitasiegeriewe word vir die stad beplan.
  • Soveel as 10 400 huise sal elektrisiteit ontvang.
  • Teerwerk aan 13 km se paaie sal gedoen word.
  • Mamelodi gaan ʼn brandweerstasie kry – iets wat dié gedeelte van die stad nooit voorheen gehad het nie.
  • Die raad gaan ook sorg dat R660 miljoen in die stad se nywerheidskerns soos Waltloo en Rosslyn belê word.
  • In die laaste twee maande het die metroraad reeds R30 miljoen bestee om die Jakarandastad se watertoevoerinfrastruktuur op te knap en ʼn verdere R2 miljard sal bestee word om dit op te gradeer.

Planne vir positiewe verandering

Lambert de Klerk, die burgerregte-organisasie AfriForum se streekskoördineerder in Gauteng, meen Msimanga het al baie gedoen om korrupsie in die metroraad te bekamp. “Die burgemeester het ook geslaag om 3 000 voertuie van die metroraad op te spoor wat net verdwyn het.”

Derrick Kissundooth, die Tshwane-metro se burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid, het gesê een van die besluite van die nuwe raad waaroor die ACDP verheug is, is die besluit om die vloot nuwe BMW-motors te gebruik vir ʼn spesiale teen-kapingseenheid van die metropolisie. Die motors is aanvanklik aangekoop vir die burgermeesterkomiteelede. Volgens Kissundooth is daar ʼn hernieude fokus om die metropolisie se take uit te brei en weer te betrek by polisiëring. “Planne vir eenhede in die metropolisie wat fokus op dwelms en kabeldiefstal is ook op die tafel. Dit sal alles bydra om die stad te verbeter en veiliger te maak.”

Adv. Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en provinsiale leier vir Gauteng, het gesê die positiewe veranderinge binne die metropolisie is vir hom ook een van die grootste suksesse van die nuwe administrasie. “Misdaad wat veroorsaak dat ons inwoners se lewens niks werd is nie, is ʼn groot punt van kommer en moet aandag kry.”

Die Tshwane-metro se besluit om ʼn sonkragplan te implementeer is ook ʼn positiewe langtermyn verandering vir die inwoners van Pretoria. “Die voorstel was om munisipale huise van sonpanele te voorsien sodat alle oorskot elektrisiteit aan die metroraad verkoop kan word, maar die idee is nie beperk tot arm huishoudings nie. Huisbewoners word op dié wyse outomaties entrepreneurs en in die huidige ekonomiese toestand waarin werkloosheid hoogty vier, kan daar groot verligting onder arm gesinne gebring word.

“Die raad moet nog die munisipale regulasies verander om hom toe te laat dat inwoners die elektrisiteit wat deur sonkrag gegenereer word aan die stad kan terugverkoop en ons moet die elektrisiteitstelsel opgradeer sodat ons die terugvoer kan hanteer, maar die stad moet eenvoudig gespeen word van ʼn sieklike staatsinstelling soos Eskom, wat net buitensporige tariewe en onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening bied.”

PTA-probleme-opname

Ben Liebenberg van die ACDP Tshwane het Facebook gebruik om by inwoners van die noorde van Pretoria uit te vind watter kwessies benodig aandag in hulle woonbuurte. Foto: Verskaf.

Daar is nog ruimte vir verbetering

De Klerk meen daar is egter nog verskeie aspekte in Pretoria wat die nuwe administrasie se aandag verg. “Die hoofstad se vullisterreine en die rioolwerke se infrastruktuur benodig oor die algemeen aandag en die meerderheid van die riviere in die metro soos die Hennopsrivier is geweldig besoedel.”

Volgens Benjamin Liebenberg, woordvoerder vir die ACDP in Tshwane, is slaggate, straatligte, vullisverwydering en herwinning van hierdie kwessies. “Ons besef straatligte wat nie werk nie is ʼn veiligheidsprobleem terwyl gras in begraafplase wat nie gesny word net so onveilig is omdat misdadigers mense wat blomme op hulle geliefdes se grafte gaan neerlê, hier lê en inwag. Slaggate na swaar reën is ʼn groot probleem en neem nog te lank om herstel te word.” Liebenberg het egter ʼn beroep op die hoofstad se inwoners gedoen om hierdie probleme te rapporteer. “Ons het die gemeenskap se hulp nodig. Ja, ek weet dit vat soms lank om hierdie dinge reg te maak, maar ons moet net aanhou en saam staan.”

Alberts meen die grootste probleem wat die metroraad tans in die gesig staar, is die bankrot beursie wat die nuwe raad geërf het. “Ons sal die hoofstad finansieel moet stabiliseer en as dit eers gedoen is sal die nuwe raad meer projekte kan aanpak.”

Hy het gesê dan kan daar gekyk word na planne soos om korting vir klein ondernemings op eiendomsbelasting te gee. “Ek dink ook dit is baie belangrik dat die metroraad ook meer mag afwentel na die streeksrade in die stad sodat mense op ʼn plaaslike vlak hulle probleme kan aanmeld en oplossings kry. Dit gaan egter nie ʼn maklike, vinnige proses wees nie.

“Pretorianers moet net geduldig wees en die nuwe metroraad ʼn kans gee om die interne probleme en bottelnekke in dienslewering uit te sorteer. Dinge gaan beslis nou beter en probleme word reeds vinniger as in die verlede uitgesorteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Nico ·

Wat Msimanga ook uitgerig het is om Afrikaans in die stadsraad te verban.

So is ek deur die DA Raadslid van wyk waar ek woon verbied om in Afrikaans op WhatsApp te kommunikeer, en is ek ingelig dat straatligte nie reg gemaak sal word nie omdat ek gedurf het om dit in Afrikaans aan te meld.

Wee die een wat die oproepsentrum vra om om in Afrikaans gehelp te word – Msimanga het gesorg dat Afrikaans nie daar welkom is nie.

Ek is telleurgesteld in Maroelamedia dat die DA so opgehemel word terwyl dit ‘n groter onderdrukker van die Afrikaner as die ANC in die praktyk is.

Rc ·

In Kaapstad kan jy in Afrikaans kommunikeer, hoekom nie in Pretoria nie? Ek het nou die dag Parke geskakel en daar was ‘n boodskap wat sê druk 1 vir Engels, 2 vir Afrikaans en 3 vir Xhoza. Daar get ‘n afrikaans sprekende persoon ge antwoord na ek 2 gedruk het.

jaco ·

wat van straatname terugverander na wat hulle dekades lank reeds was???

jaco ·

ek wonder altyd: is afrikaanssprekendes wat so kla oor Engels dan dom dat hulle nie Engels verstaan nie? Wees eerder bly die taal wat nou op ons afgedwing word is nie Zulu of Tswana nie. Engels is darem ‘n “wit” Europese taal en almal in SA, veral wit mense met beter skoolopleiding uit die ou SA behoort dit maklik te kan verstaan en te praat.

Kosie ·

Presies en as jy weet dat dinge vinniger gedoen gaan word as jy in Engels kan kommunikeer, hoekom sal jy dit nie wil doen nie? Jy skiet net jouself in die voet deur “moeilik” te wees.

Paul Michau ·

Tshwane Stadsraad se rekeninge afdeling is egter steeds net so pateties soos vantevore. Hulle skat lesings al stuur jy dit deur en die rekeninge kom nie by n mens uit nie en die wat per epos of aanlyn beskikbaar is het nie die nodige “Easy pay” nommer op nie so dit is onmoontlik om die rekening by PnP te betaal…en elke maand stuur ek die klagte in en niks word daaraan gedoen nie…die Stad is egter skooner en mens kan sien hulle probeer darem

Koos1 ·

Al wat hy moet regkry is dat almal wat salarise kry hulle werk doen!
Ek ry baie deur die stad en sien op Saterdae en Sondae seker dubbel die hoeveelheid werkers gras sny, as deur die week in gewone werks ure. Waar is die baie mense dan in die week, of speel oortyd betaling ‘n rol. By die tuis vullis stortings terein in Mountain View is daar seker 7 of 8 werkers. Hulle wys net aan waar jy moet weg gooi. Hoekom is soveel dan daar nodig?
O ja, ek het sowat 3 weke terug ‘n water lekasie buite my huis aangemeld, en raai wat, dit lek nog steeds, en dit gaan vir die stadsraad se rekening, wat ons moet betaal.
Daar moet nog baie gedoen word voordat ek oortuig is dat dit beter is in Pta nadat die DA/EFF huwelik in werking getree het, maar dankie ook vir wat al gedoen is……… al sien ek dit nie.

Linda ·

Jinne maar julle kan kla! Wees dankbaar vir wat alreeds vermag is; Rome is nie in een dag gebou nie. Koop julle ook nie kos wat nie Afrikaanse plakkers op het nie? En praat julle van “lamskottelette” in plaas van “lam tjops”?? Ek wonder!

Ronel ·

Net so Linda!! Die mense het seker gedink dat dinge nou leterlik oornag gaan verbeter!! Hulle vergeet gerieflikheidsonthalwe dat die metro ook ‘n bankrot rekening gekry het en om die infrastruktuur reg te ruk, gaan geld kos! GEduld mense. Dis al wat hulle vra. Don’t be a -o-ie

Inka ·

Ek stem Linda! Ek dink dit is baie positief om sulke goeie terugvoer te kry. Ek is baie verheug daaroor dat ons ontslae is van die vorige klomp “fat cats” en is baie beindruk met baie van die praktiese en sigbare geldbesparingstrategieë, wat ek seker is onder andere behels dat, waar nodig, slegs een voertaal gebruik word. Dink gou so daaraan Nico, as jy by die stadsraad werk en jy kry ‘n boodskap van ‘n stukkende straatlig in Xhosa, sal jy weet wat om te doen? Kom nou, ons woon in ‘n stad waar almal in ag geneem moet word, en as jou grootste kwelling die feit is dat jy nie in jou moedertaal bedien word nie, het jy eintlik nie veel om oor te kla nie.

Dalena Coetzee ·

Laat ons positief wees en die nuwe Stadsraad genoeg tyd gee om die gemors en vermorsing van ons belastinggeld wat hulle geërf het om te draai. Pretoria is ‘n groot stad en hulle het ‘n bankrotrekening waarmee hulle baie moet doen. Dit sal geen doel dien om almal in die Stadsraad wat nou hard saamwerk, moedeloos te maak met negatiewe opmerkings oor onderwerpe soos ‘of ons in Afrikaans kan kla of nie’. Onthou dit het meer as 20 jaar geneem om die vermorsing en agteruitgang te skep. Solli Msimanga, ons staan agter jou en jou span!

Louis ·

Gaan kyk na die Zandfontein wn Pretoria Oos begrafplase om te kyk hoe dinge agteruit gegaan het. Die natuur neem oor en dit is nie meer moontlik om grafstene in die bermafdeling te sit nie. ‘n Vrot kol op hulle naam.

Marsha ·

In meeste lande in die wereld word begraafplase deur vrywilligers skoongemaak.Kry ‘n groep vrywilligers bymekaar en gaan maak jou plaaslike begraafplaas skoon en netjies. Hou op om voor die TV te sit en sport te kyk. Doen iets produktief vir jou gemeenskap en leer jou kinders om iets vir hul medemens te doen en te beteken sonder om betaling te ontvang.

Griki ·

Jy kan party mense somtyds tevrede stel, maar jy kan nooit almal altyd tevrede stel nie. As ek Engels moet praat om ‘n probleem opgelos te kry, dan doen ek dit. Waarom my kop teen ‘n muur loop en stamp. Cut your nose and spoil your own face. Jy kan nie Pretoria met Kaapstad vergelyk nie. Ek dink hier is tans baie meer Afrikaanssprekendes in die metro se diens as in Pretoria.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.