Pretoria spook met kragonderbrekings tydens staking

Werkers staak al vir twee dae. (Foto: Mohlaloga the Les/Twitter)

Tegnici van die munisipaliteit van Tshwane het geleidelik begin om kragtoevoer te herstel na gebiede wat langdurige onderbrekings beleef het, te midde van dreigemente en intimidasie weens werknemers wat aan ʼn onwettige staking deelneem.

“Tshwane het ʼn rits kragonderbrekings in minstens vier distrikte beleef weens die staking en die munisipaliteit het nou wetstoepassers ontplooi wat spanne sal vergesel om na die kragonderbrekings om te sien,” sê Selby Bokaba, woordvoerder van die munisipaliteit.

Maroela Media het vroeër berig onwettige stakings het dienslewering in dele van die stad lamgelê. Die voortslepende staking word glo deur ʼn aantal werknemers van die metro gedryf.

“Verskeie spanne het sedert 23:00 gisteraand die diensontwrigtings begin hanteer en het vandag daarmee voortgegaan ondanks ʼn gebrek aan kapasiteit van personeel wat onder dwang uit hul kantore verwyder is en verhoed is om hul pligte voort te sit.”

Verbruikers wie se kragtoevoer herstel is, is hoofsaaklik in streek 3 wat Kwaggasrand, Wespark, Saulsville, Danville en Westview insluit. Kragtoevoer is ook herstel in Laudium, ʼn deel van Valhalla en Erasmia. Ander gebiede soos Rua Vista, Thatchfield, ʼn deel van The Reeds en Olievenhoutbosch se kragtoevoer is gisteraand herstel, maar dit is weer onderbreek weens kabeldiefstal. Pogings duur voort om die gesteelde kabels te vervang.

In streek 7 het spanne ook voortgegaan om kragtoevoer na Zithobeni-uitbreidings en die Bronkhorstspruit-afvalwateraanleg te herstel, ondanks dreigemente en intimidasie van beamptes.

Bokaba sê wetstoepassers bied beskerming aan spanne wat gereed is om te ontplooi, veral in dele van streek 6 waar langdurige kragonderbrekings voortduur.

Die munisipaliteit vra om verskoning vir die ongerief en versoek geduld van die inwoners.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SomeOne ·

pleks van die stakers in hegtenis geneem word, van die paaie af gehou word, dat die wat hul werk wil doen, nie gekeer word om die strate te gebruik nie, maar word hul deur metro beamptes begelei
lekker ou kaas suid afrika, muise word gevoed en die belasting betaler moet meer kaas aankoop

Johann ·

Pretoria Noord vandag al dag 5 Sonder krag vanaf Ralph straat tot by Erich Mayer straat ????????

KatjieDeKat ·

Ai man..ek kan my net indink hoe frustrerend en moeilik dit moet wees. Ek wonder of veel mense nog kans sien om n maand se kos soos vleis en groente in n vrieskas te pak? Want as onderbrekings vir so lank kan aanhou, gaan mense baie kos verloor. Hierdie land is so in sy peetjie in..

Swerwer ·

Betaal die hele spul af. Genade, maar dit gaan heerlik in hierdie land van ons. Die lafhartige ANC kader sal nooit erken dat hul ‘n volslae mislukking is nie.

Maritha ·

Pretoria Noord, sit nou al 4 dae sonder krag. Die water stroom in ons strate af. Die berig is onvolledig. Pretoria Noord word nie eers genoem nie. Daar het gister wel gedeeltes se krag weer aangekom na DRIE DAE maar ons SIT STEEDS SONDER KRAG NOU AL VIR DIE 4DE AGTEREENVOLGENDE DAG. Mens moet al die kos in hulle vries en yskaste weg gooi. Mense kan nie kos voorberei nie. Visse in aquaruims het gevrek. Hoe lank gaan ons nog sonder krag sit.?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.