Pretoria spook steeds met vullisverwydering

Cilliers Brink, burgemeester van Pretoria, het in Augustus in Mamelodi gehelp om die agterstand met vullisverwydering in te haal (Foto: Tshwane-metroraad)

Cilliers Brink, burgemeester van Pretoria, sê dit wil voorkom of die onwettige staking tot ʼn einde kom, maar daar is steeds probleme met vullisverwydering.

“Daar is personeel wat vir werk opdaag, maar hulle weier dan om opdragte uit te voer. Dit is ʼn beduidende probleem,” het Brink gesê. “In vergelyking met ʼn week gelede, is daar egter beslis ʼn verbetering wat betref die reaksie op water- en kragonderbrekings.”

Volgens hom is vullisverwydering egter die groot probleem wat voortduur.

“Sodra mens op ʼn spesifieke dag nie die skedule volg met vullisverwydering nie, hoop die agterstand op. Dan beteken dit mens moet weke lank spook om die agterstand in te haal.”

Brink dring ook steeds daarop aan dat die gewelddadige aanvalle op vullisverwyderingvragmotors ondersoek moet word. “Ons eis inhegtenisnemings in hierdie geval. Dit het ʼn geweldige impak gehad op ons vullisverwyderingskedule. Ons werk oortyd om hierdie probleem op te los.”

Hy hoop dat die munisipaliteit binne die volgende paar weke terug op skedule sal wees.

Die stadsraad wag ook nog op ʼn besluit van die bedingingsraad in die loondispuut met stakende werkers van die munisipalewerkersvakbond Samwu.

“Ons as stadsraad het die proses van die bedingingsraad gerespekteer. Ongelukkig kan dieselfde nie vir Samwu en sy leierskap gesê word nie.”

Die stadsraad keer terug hof toe om die interdik, wat toegestaan is, permanent te maak teen die stakende werkers. Die saak is tot 15 September uitgestel en die interdik is dus ook verleng.

AfriForum eis van SAPD om veiligheid van vullisverwyderaars te verseker

Die burgerregteorganisasie AfriForum het intussen Vrydag ’n brief aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die minister van polisie sowel as die polisiekommissaris gerig om te eis dat dié partye behoorlike beveiliging aan vullisverwyderaars in die Tshwane-metro bied.

Volgens Johan Kruger, strategiese raadgewer by AfriForum, faal die SAPD hopeloos in sy verpligtinge om veiligheid te handhaaf en onwettige stakers aan die pen te laat ry. Kruger voeg by dat die SAPD ingevolge ’n bestaande hofinterdik moet sorg dat veiligheid gehandhaaf word gedurende die voortslepende onwettige staking.

“Die SAPD kan duidelik nie die onwettige stakers in toom hou nie,” sê Kruger. “Stakers gaan steeds voort om vullisverwyderingsvragmotors en vullishope aan die brand te steek en onveilige omstandighede vir vullisverwyderaars en by vullisterreine te veroorsaak.”

AfriForum se hofaansoek eis onder meer dat die SAPD onmiddellik moet ingryp in onwettige stakings en dat nie-stakende werknemers se veiligheid verseker sal word. Stakers moet ook gedwing word om hofbevele te gehoorsaam om sodoende onwettige stakings te vermy en die skade aan privaat en openbare eiendom te verhoed.

Volgens Kruger is Samwu se onwettige staking en die vakbond se onvermoë om sy lede se optrede te beheer, die rede vir die grootskaalse skade wat die Tshwane-metro en verskeie privaat instansies die afgelope weke gely het. “Samwu en sy lede se sabotasie en kriminaliteit hoort op die vullishoop. Die SAPD moet toesien dat hierdie optrede gestaak word deur nou sterk op te tree.”

Kruger hou vol dat die SAPD nou moet ingryp, gewelddadige individue in hegtenis moet neem en moet verseker dat ekstra mannekrag gemobiliseer word in gebiede waar geweld voorkom. Hy sê voorts dat AfriForum se takstrukture sal voortgaan om vullis te verwyder. AfriForum het reeds in die afgelope paar weke, soms onder gewapende begeleiding, vullis in verskeie woonbuurte in die stad verwyder. AfriForum eis laastens dat daar ’n plan opgestel moet word om werknemers en die publiek se veiligheid by potensiële geweldspunte te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.