Pretoria-staking: Metro, vakbonde bereik ooreenkoms  

Foto: Thobile Mathonsi/African News Agency (ANA)

Die Tshwane-metro het ʼn ooreenkoms met vakbonde bereik om ʼn einde te bring aan die voortslepende dooiepunt oor agterstallige betalings aan munisipale werkers en die gevolglike staking.

Dienslewerings in die metroraad het die afgelope paar weke al hoe verder verswak met vullisverwyderingsdienste wat in ʼn stadium opgeskort is. Inwoners moes noodgedwonge van private kontrakteurs gebruik maak om hul vullis te verwyder.

Die metroraad moes einde verlede maand boonop ʼn hofbevel kry om stakende Samwu-werkers te verhoed om amok in die stad te maak en ander niestakende werkers te intimideer. Drie verdagtes is op aanklag van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem.

Mpho Nawa, die metroraad se administrateur, het gesê die metroraad en vakbonde het ooreengekom dat werkers aan die einde van Augustus die eerste deel van die agterstallige betalings sal ontvang en die res voor die einde van 2020.

Volgens Nawa is daar verder tussen die partye ooreengekom om dringend dienslewering en die skoonmaak van die stad te prioritiseer. “Al die dienste wat deur die staking geraak is sal met onmiddellike effek na normaal terugkeer.”

(Foto: Thobile Mathonsi/ANA)

Die metroraad het munisipale werkers verlede maand ʼn verhoging van 6,25% betaal ondanks die metro se finansiële probleme, onder meer weens inwoners wat nie hul munisipale rekeninge kan betaal nie.

“Ons wil inwoners om verskoning vra vir die ongerief wat hulle die afgelope drie weke of so ervaar het.”

Maroela Media het vroeër berig die metroraad dreig intussen om inwoners se dienste weens wanbetaling op te skort. Dit terwyl talle Pretorianers kla oor die buitensporige rekeninge wat hulle die afgelope paar maande van die metro ontvang het.

Honderde inwoners het hulle die afgelope ruk uit frustrasie tot sosialemediaplatforms gewend om hul misnoeë met die situasie te kenne te gee. Huishoudelike verbruikers se rekeninge beloop in sommige gevalle glo tot R70 000. Talle inwoners se deposito’s by die metroraad is ook skielik verhoog. Baie inwoners wat voet by stuk hou dat hul rekeninge opbetaal is, het boonop aanmanings gekry dat hul dienste weens agterstallige skuld opgeskort gaan word.

Inwoners kla ook dat dit dikwels ʼn nagmerrie is om die probleem by ʼn munisipale kantoor uit te pluis en op te los.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronéll ·

Dankie ANC, EFF, Maille en Makhura, alles wat julle aan raak verander in bollie. Agv jul magsvergrype moet ons nou enorme heffings betaal vir toegang tot water en sanitasie, maar vir die ander mense word nog meer gratis elektrisiteit water en sanitasie asook vullisverwydering en stadsreiniging gegee. Ons getroue betalers moet net stilbly en aanvaar. Tipiese sosialisme.

Stefan ·

Gaan die vakhond nou vir die deur die stakers se aangerigte skade betaal?
Dink nie so nie, dis mos buite hul beheer gedoen.

Gemaskerde Sopbeen ·

Enige verhogings van salarisse op al drie regeringsvlakke behoort gestaak te word tydens die hele tydperk van inperkings. In die provaatsektor glo ek is verhogings dalk hier en daar die uitsondering. Skandalig dat die knie weer voor vakbonde gebuig word. Dan ook, het Stad Tshwane werklik die geld vir die verhogings

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.