Pretoria-stasie 40 dae lank gesluit

Die Pretoria-stasie word gesluit tot 22 Januarie aanstaande jaar. Foto: Facebook

Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) is van plan om die Pretoria-stasie vir ʼn tydperk van 40 dae heeltemal te sluit en geen treine daar toe te laat nie tot 22 Januarie aanstaande jaar.

Dit sal gedoen word sodat uitgebreide werk by die stasie verrig kan word, onder meer die vervanging van ou sinjale as deel van Prasa se moderniseringsprogram. “Die voordele van nuwe, gemoderniseerde infrastruktuur sal ʼn veiliger, vinniger, vlotter treindiens van wêreldgehalte wees met verbeterde reistye,” sê Lillian Mofokeng, Metrorail-woordvoerder.

Sy sê tydens die 40 dag lange opknappingstyd sal treine van die Saulsville- (00), De Wildt- (44) en Mabopane-korridor (18) by die Bosmanstraat-stasie omdraai. Treine uit die noorde sal by die Bosmanstraat- of Mearsstraat-stasie omdraai.

ʼn Pendeltreindiens sal in werking wees tussen die Mearsstraat-stasie en Koedoespoort. Busse sal pendelaars na die Bosmanstraat-stasie aanry. ʼn Soortgelyke diens word tussen Pienaarspoort en Bosmanstraat-stasie oor die Capital Park-roete ingestel.

Alle treine tussen Johannesburg en Pretoria sal by die Centurion-stasie omdraai, van waar busse passasiers na die Bosmanstraat-stasie sal bring.

Mofokeng sê pendelaars word gevra om tydens dié 40 dae na aankondigings op stasies op te let. “Ons hoop ons gewaardeerde passasiers sal saamwerk en Metrorail tydens hierdie fase steun. Metrorail is daartoe verbind om gedurig aan die veiligheid van almal in ons bedryfsomgewing te werk.”

Intussen, sê sy, vorder die finale toetsfase van die nuwe elektroniese sinjaalstelsel by die Parkstasie-kompleks na wense. “Ons het talle perronne weer in diens gestel met die nuwe stelsel. Ons begryp dit bring ongerief op kort termyn mee, maar op lang termyn sal pendelaars baat vind by die verbeterings aan ons infrastruktuur.”

Passasiers kan Metrorail se kliëntediens by 0800 12 70 70 of 011 773 6936 of 012 743 0030 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

zoom zoom ·

Sal wil weet wst is die kostes hieraan verbonde vir die opknapping en wat is die kostes vir korrupsie. In Afrika gebeur niks vir niks vir niks nie.

KanekVra? ·

In die hele wêreld gebeur niks vir niks nie, nie net in Afrika nie.

vissie ·

Net 40 dae? Ek wonder..dalk 40 maande. Ons ken mos al Afrika se time- line

Eben ·

Nie net 40 maande nie. Die projek sal ook met 1000 % oor spandeer word en ‘n duisend ANC lede sal deel in die korrupsie.

PJC ·

Voor 94 sou die nuwe stelsel eers in plek gekry word voordat die oue verwyder word en sou ń sluiting nie nodig wees nie.

Sinjaalingenieur ·

Dit is wêreldwyd en was ook voor 94 die praktyk om stasies te sluit vir die tiepe opgradering. Daar word fisiese uitleg veranderinge gemaak en maak nie saak hoe hard ons gedink het nie, kon ons nie aan n plan dink om treine te laat ry waar daar nie spore is nie. As jy egter weet hoe sal ons graag jou plan wil hoor. ;)

Basjan ·

Baie goeie vraag, Karolis. Wie van daardie “werkers” gaan lus wees om oor die feesdae te werk terwyl die res van die land feesvier?

Sinjaalingenieur ·

Nie een van die “wekers” is lus nie, maar dit word so gedoen omdat dit impak op die pendeldiens in hierdie tyd dien minste is aangesien meeste mense op verlof is en nie van die diens gebruik maak nie.

Ben ·

Gaan die trein daar ooit nog stop? Ek dink dis koebaai vir Pretoria-stasie!

aj ·

Iewers het ‘n tenderpreneur ‘n groot getal BUSSE aangeskaf?

aj ·

Baie slim!

In die Kaap brand hulle die treine of laat hulle ontspoor!

In Tshwane sluit hulle die hoofstasie …. om vir die taxi en bus MAFIA van inkomste te voorsien!

Sinjaal ingenieur ·

Ek hoop dat Maroelamedia na die stasie suksesvol opgradeer is weer n berig daaroor sal plaas en dat al julle negatiewe suurknolle onverskoning gaan vra aan die span wat hulle Kersvakansie en tyd saam hulle families opoffer om SA te probeer opbou…

J. van Rensburg ·

Op 19 Februarie 2001 het sinjaal probleme daartoe gelei dat dienste laat was en sommige passasiers kwaad geword en ‘n brand in een van die wagkamers gestig het. Dit het verder versprei en die dak was feitlik totaal vernietig, alhoewel die struktuur bly staan het. Herstelwerk is teen ‘n koste van R18-miljoen in Junie 2001 begin en in Februarie 2002 voltooi. Tipies van die “Nuwe S.A.” – as iets nie na wense is nie, steek dit aan die brand, dan werk dit mos, al dan nie???

Hendrik UAE ·

Sinjaal ingenieur ek neem aan jy is deel van hierdie projek?Sterkte aan die mense wat die werk gaan doen en hou veiligheid voor oe.Geseende feestyd vir elkeen wat daar werk.Kan nie wag vir darem een sukses storie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.